Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Is daar ’n verskil tussen osteoporose en osteoartritis?

Mense verwar maklik osteoporose met osteoartritis omdat albei na ’n beensiekte verwys. Belinda Jackson kyk na hoe dié twee beensiektes verskil.

Osteoartritis kom in die gewrigte voor.

Die voorvoegsel “osteo” beteken “been”.

Omdat osteoporose en osteoartritis albei met hierdie voorvoegsel begin, beteken dit nie die twee toestande is identies nie. Die voorvoegsel is al wat dié twee terme in gemeen het.

Volgens die Artritis-stigting van Suid-Afrika is daar ’n wesenlike verskil tussen osteoporose en osteoartritis en gevolglik ook artritis.

Wat is osteoporose?

Osteoporose is ’n siekte wat die gebeentes van jou skelet aantas en die digtheid en gehalte daarvan sodanig verswak dat jy maklik breuke opdoen. Dit kom gewoonlik voor by mense ouer as 50.

Gewoonlik is die enigste simptoom ’n breuk in een of altwee die bene, gewrig of heup wat met geringe trauma gepaard gaan.

Wat is osteoartritis?

Osteoartritis is die algemeenste vorm van artritis (inflammasie in gewrigte) en gaan gepaard met veroudering of kan ook verband hou met vorige skade wat ’n gewrig opgedoen het.

Osteoartritis kom veral in die groot gewrigte voor soos die knie-, heup-, nek-, ruggewrigte asook in die kleiner gewrigte soos in die hand en vingers.

Simptome sluit in pyn in die gewrigte, styfheid, swelling en teerheid, beengroeisels, verswakking in die senings en ligamente, asook verswakking van kraakbeen in gewrigte.

Die verskille tussen osteoporose en osteoartritis

Osteoporose staan ook bekend as die stil skeletsiekte omdat dit dikwels eers sigbaar word met ’n been wat breek. Foto’s: ISTOCK

Dr. Elsa van Vuuren, direksielid van die Artritis-stigting asook ’n rumatoloog by die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria en ’n lektor (voor- en nagraads) by die Sefako Makgatho Health Sciences-universiteit, Universiteit van Pretoria, die privaatsektor en oorsee, lys die verskille:

. Die belangrikste verskil is dat osteoporose ’n beensiekte is en osteoartritis ’n gewrigsiekte.

. Albei toestande veroorsaak pyn en belemmer beweeglikheid, maar die oorsaak van die pyn en die manier van behandeling verskil.

. Osteoporose word die “stil” skeletsiekte genoem omdat daar feitlik geen simptome is totdat die toestand reeds ver gevorder het nie. Osteoartritis veroorsaak pyn en styfheid in veral die knieë, heupe en vingers wat die lyer gou agterkom.

. Osteoporose word deur ’n pynlose beendigtheidstoets gediag-noseer wat die digtheid en gehalte van die been in die ruggraat en heup bepaal. Osteoartritis word gediagnoseer deur mediese geskiedenis van die pasiënt, ’n fisieke ondersoek en X-strale van die aangetaste gewrigte, asook verswakte liggaamsbeweging en lewensgehalte.

. Die behandeling verskil ook. Behandeling vir osteoporose sluit in medikasie wat die bene sterker maak soos bisfosfonate (’n reeks sintetiese pirofosfaat-analoë), asook kalsium en vitamien D. Heupbreuke kan ook deur chirurgie herstel of vervang word.

Osteoartritis word met anti-inflammatoriese en pynmedikasie behandel. Groot gewrigte soos die knieë en heupe kan ook verligting ervaar deur gewig op dié gedeeltes te verminder en spiersterkte in die bene en hoofspiere te verbeter.

Aanvullings soos glukosamien, chondroïtiensulfate of omega 3 bring geringe verligting.

Hoe kan jy hierdie toestande vermy?

Gereelde oefening en ’n gesonde dieet speel ’n groot rol in beengesondheid.

Indien jy ’n lyer is, kan jy die ongemak ’n bietjie draagliker maak deur ’n bron van hitte of koue vir kort rukke op die aangetaste dele toe te pas.

Die Artritis-stigting bied ’n reeks bewusmakingsprogramme, ondersteuning en inligting oor bogenoemde toestande, en doen ook voorspraak vir ’n verbetering in gesondheidsbeleide en gesondheidspraktyke waarin na die beste belange van pasiënte omgesien word.

Meer oor:  Gesondheid  |  Siekte  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.