Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jonk gediagnoseer, maar leef nou voluit!

“Oktober, die mooiste, mooiste maand,” lui C. Louis Leipoldt se gedig. Oktober is egter ook Borskankerbewustheidsmaand. Delucia Janse van Rensburg het vir Belinda Jackson vertel oor haar reis met dié siekte.

Drie jaar gelede was sy dolgelukkig, dolverlief en pasgetroud.

Sy was 27 jaar oud.

Sowat ’n maand voor haar groot dag, voel haar aanstaande, Hendrik, ’n knop onder haar arm, wat sy liggies afmaak as niks ernstig nie, wat kan wag tot na die wittebrood. “Ek het dit glad nie sien kom nie! Ek het nie eers die knop self gevoel nie,” vertel Delucia Janse van Rensburg (30) van Durbanville.

“My huisdokter, dr. Raymond Haramis, het my onmiddellik na ’n top-borskankerchirurg, dr. Jenny Edge, verwys.”

Sy het toe eers ’n afspraak ’n maand later gekry, maar teen daardie tyd was die knop al heelwat groter as die eerste keer wat Hendrik dit gevoel het.

Diagnose en familie se reaksie

Dr. Edge het ’n biopsie gedoen en vir Delucia gevra om later die middag terug spreekkamer toe te gaan. Haar ma en Hendrik het saamgegaan.

“Vier ure later daardie Vrydagmiddag 27 Januarie 2017, twee maande na ons troue, is ek formeel met borskanker gediagnoseer. Ek onthou die woorde en oomblik baie goed. My ma het haar arms om my gegooi en my man het styf op my been gedruk. Ek het net geskok daar gesit terwyl die trane begin loop het. Ek kon nie ophou huil nie,” sê sy.

Behandeling en uitwerking

Delucia is beïndruk deur dr. Edge se professionaliteit en sorg. “Sy het dit baie goed benader. Sy het dadelik ’n plan van aksie gereed gehad en klaar gereël dat ek met ’n onkoloog, dr. Irene Boeddinghaus, sal ontmoet om my behandeling te bespreek,” vertel sy.

Daarna het alles vinnig vir haar gebeur. Dr. Boeddinghaus het die Maandag vir haar ’n hele behandelingsplan voorgelê. “Die week daarna het ek begin met chemo-behandeling: drie red devils drie weke uitmekaar. Ek het my hare op dag 14 nadat ek die eerste keer chemo gekry het, afgeskeer, nadat dit baie vinnig in bosse uitgeval het en die hele huis en my kantoor vol gelê het,” sê sy.

Delucia Janse van Rensburg het haar haredos afgesny op die 14de dag van chemoterapiebehandeling omdat haar hare in bosse begin uitval het.

Delucia moes daarna weekliks vir 12 weke Taxol kry. “Dit was vir my minder erg as die red devil. Die red devil is aaklig, ek onthou die smaak, reuk en gevoel daarvan. Dit het my so naar gemaak en ek wou net slaap. Die Taxol het my effens meer mens laat voel X moeg en uitasem, maar gelukkig nie so naar nie!”

Kort daarna het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan, asook die eerste operasie vir rekonstruksie van haar borste X borsprostese met vet wat ’n meer natuurlike voorkoms gee. “Na dié operasie het my span dokters besluit ek moes nog chemo kry. Dié pille, Zoladex, moes ek vir 18 weke lank drink: een week op die pille, twee weke daarsonder. My hande en voete was behoorlik rou van die chemo. Ek het uiteindelik op 18 Desember, amper ’n jaar na diagnose, klaargemaak met chemo-behandeling,” vertel sy. Op dieselfde dag moes sy met bestraling begin vir vyf weke. “Dit was net so sleg. My vel het afgedop en was rou,” sê sy oor hoe hierdie behandeling haar laat voel het.

Tot Delucia se verligting het haar behandeling na die bestraling tot ’n einde gekom.

Haar siekte en dubbele mastektomie

“Dit was nie aldag maklik nie, maar ek gaan jok as ek sê dit was nie ’n goeie jaar nie. Ek het soveel meer waardering en dankbaarheid ontwikkel. Ek het elke dag positief gebly en ’n glimlag op my gesig probeer hou. Dit was makliker om die hele storie so te hanteer. Daar wás ’n hele paar moeilik dae, dae wat ek gevoel het hoe onregverdig dit is. Ek het ’n hele dag gehuil om afskeid te neem van my borste!” sê sy.

Ondersteuning en goeie nuus

Delucia is dankbaar vir die ondersteuning en begrip van haar familie, vriende, kollegas, ondersteuningsgroepe, maar veral van Hendrik, haar man.

“Hy’s voorwaar my rots, my alles. Hendrik was yster! Sonder hom sou ek nie hierdeur kon kom nie. Hy was so sterk en was altyd daar X dag in en dag uit om my te troos en te help beter voel in die slegte tye,” vertel Delucia.

Regdeur haar behandeling het sy aanhou werk in finansies. “My werk was ’n vorm van terapie. My kollegas het my ook werklik baie ondersteun,” sê sy.

Sy is ook baie dankbaar vir die Helen Harder-stigting, ’n liefdadigheidsorganisasie wat veral jong vroue onder 40 ondersteun wat aan kanker ly deur finansiële, emosionele en praktiese bystand. “Hul omgee-sak vol verrassings soos skoonheidsprodukte en ’n Helen Harder-mussie, asook vele fondsinsamelingsgeleenthede, het die uitdagings draagliker gemaak.”

Sy is nou al twee en ’n half jaar gesond. ’n Jaar na die chemo-behandeling kon sy en Hendrik hul verlange na hul eie kindjie verwesenlik.

“Ons pragtige, gesonde klein wonderwerk, Liam, is nou een jaar oud! Hy herinner my elke dag hoe kosbaar die lewe is en hoe dankbaar ek vir almal is wat my gehelp het om gesond te word! Liam laat my minder oor myself worry, want hy het nou al my aandag nodig!” vertel sy.

Delucia gee waardevolle raad:

. Wees proaktief oor jou gesondheid en gaan gereeld vir ondersoeke by gesondheidsinstellings.

. Leer hoe om jou borste self vir knoppe te ondersoek. Vra jou dokter of ’n verpleegster of kyk YouTube-video’s oor selfondersoeke wat vir jou stap vir stap wys hoe dit gedoen moet word.

. Gesels met ander vroue oor vrouegesondheid en die belangrikheid van veral mammogramme. Moedig mekaar aan om gereeld ondersoeke te laat doen.

. Moenie uitstel om ’n dokter te spreek sodra jy ’n knop voel nie. Reageer onmiddellik. Dit kan jou lewe red.

. Indien positief, volg die behandelingsplan getrou.

. Maak seker jy het ’n goeie ondersteuningstelsel wat jou lewensmaat, familie, jou dokters, vriende, kollegas, ondersteuningsgroepe en jou werk insluit.

. Moenie moed verloor nie. Fokus op positiewe dinge, soos jou huwelik, jou kinders, jou familie, jou gesondheid, jou werk.

. Eet gesond. Gaan stap gereeld, bly positief.

* Kontak die Helen Harder-stigting vir hul waardevolle bystand.

Meer oor:  Durbanville  |  Borskanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.