Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jou dieet én oefeninge is geheim tot gewigverlies

Talle vroue wens hulle kon slanker wees, maar om by hierdie doelwit uit te kom, moet jy ’n leefstylverandering maak. Danielle Daniëls het meer gaan uitvind oor wat dit behels om gewig te verloor.

Gereelde, gebalanseerde oefeninge is ’n goeie manier om gewig te verloor. Foto: PIXABAY

As jy gewig wil verloor, moet jy besef die proses vereis dat jy gesonder eet en dus ’n verandering in jou leefstyl maak.

Dr. Chrisna Andersen, ’n mediese praktisyn van HealthStyle Medicine and Aesthetics, sê as daar ’n wondermiddel was vir gewigverlies sonder om ’n gesonde en gebalanseerde verandering aan jou leefstyl te maak, was almal maer wat met oorgewig sukkel. “Dis ongelukkig ’n wetenskaplike feit dat daar nie kitsoplossings is vir gewigsprobleme wat oor ’n lang tydperk ontwikkel het nie. ’n Gemiddelde mens kan tussen 500 g tot 1 kg gewig per jaar optel indien ’n gesonde leefstyl nie gevolg word nie.”

“Jy kan nie gewig verloor of ’n gesonde gewig handhaaf sonder ’n gesonde, gebalanseerde dieet en gereelde, matige oefening nie.”

Carina Brits, gesondheidspraktisyn van EWC MediWellness Centre, sê indien jy nie ’n gestruktureerde program soos Slender Wonder wil volg nie, mag die volgende wenke jou help:

  1. Gaan vir ’n mediese ondersoek en maak onder meer seker dat jou skildklier normaal funksioneer, dat jy nie insulien weerstandig is nie en dat jou vitamien D-vlakke normaal is.
  2. Laat doen ’n professionele liggaamsontleding en kry ’n begrip van jou liggaam se samestelling van spiere, vet, en water. Stel vir jouself realistiese doelwitte.
  3. Jy kan nou jou gene laat toets om vas te stel watter manier van eet die beste vir jou gaan werk. Besoek www.geneway.co.za vir ’n lys van gesondheidspraktisyns wat dié toetse aanbied.
  4. Jy sal jou eetgewoontes moet verander en jou leefstyl moet aanpas. Begin stadig om die volgende algemene riglyne toe te pas:
  • Sny verfynde koolhidrate en suiker so ver moontlik uit.
  • Skep kleiner porsies en eet uit ’n kleiner bord.
  • Kou stadig en hou net by een porsie.
  • Eet gereeld om jou bloedsuiker- vlakke gelykmatig te hou. Dit sal ook keer dat jy kosdrange ontwikkel.
  • Eet ’n matige porsie proteïen met elke maaltyd.
  • Fokus op groente en vrugte wat meer vesel bevat om jou voller te laat voel.
  • Drink genoeg water.

“Dit is meer belangrik om reg te eet as jy gewig wil verloor, as om ’n ernstige oefenprogram te volg. Oefening hou egter altyd gesondheidsvoordele in, en kan saam met die regte eetprogram help om spiermassa te behou of te vermeerder. Goeie spiermassa bevorder gesonde metabolisme.

Dit is meer belangrik om reg te eet as jy gewig wil verloor, as om ’n ernstige oefenprogram te volg.

Indien jy nog nooit geoefen het nie, begin stadig en kies ’n aktiwiteit waarvan jy hou. Onthou, Rome is nie in een dag gebou nie! Vir diegene wat reeds fiks is, onthou harde oefening alleen gaan nie help met gewigverlies nie, jy moet reg eet!”

Wanneer jy gewig wil verloor, moet jy dus vooraf bereid wees om aanpassings te maak.

Dr. Andersen sê die eerste vraag wat jy jouself moet vra indien jy gewig wil verloor, is: Wat is die rede vir my oorgewig liggaam? “Indien jy dit kan beantwoord, is jy op die regte pad om die probleem aan te pak en die nodige kopskuif te maak sodat jy gewig kan verloor en dus jou teikengewig op langtermyn kan handhaaf. Die kleinste verandering kan die grootste impak op jou gewig asook jou gesondheid hê. So kan jy byvoorbeeld gaskoeldranke met water vervang en gewig verloor sonder moeite!”

“Die beste langtermyn-resultate word gewoonlik verkry deur ’n beproefde program te volg soos byvoorbeeld Slender Wonder. Dit word bemark as ’n mediese gewigverliesprogram wat die oorsaak van vetsug onder die loep neem, nie net die simptoom nie, en is slegs by geakkrediteerde Slender Wonder-praktisyns beskikbaar. Raadpleeg egter eers jou dokter voordat jy enige verslankingsmiddel inneem.”

Sy sê hierdie program dui aan dat dit leptien-weerstandigheid omkeer. Leptien is ’n hormoon wat deur jou liggaam se vetselle geproduseer word, en hierdie hormoon se werk is om ’n boodskap aan die brein oor te dra dat jy jou versadigingspunt bereik het.

Weens leptien-weerstandigheid, eet ons dus meer, meer vetselle word gevorm, meer leptien word afgeskei, en ’n nare siklus begin.

“Hoe meer vetselle jy het, hoe hoër is jou leptienvlakke en die boodskap aan die brein is om minder te eet, maar met leptien-weerstandigheid ontvang jou brein nie meer die boodskap nie, en dink jou liggaam benodig meer kalorieë, hoewel daar oorgenoeg potensiële energie in die vetselle gestoor is. Weens leptien-weerstandigheid, eet ons dus meer, meer vetselle word gevorm, meer leptien word afgeskei, en ’n nare siklus begin.

“Oefening is altyd belangrik, probeer die versoekings vermy, pas maaltydbeplanning toe, beheer jou porsies, weeg jouself gereeld, en verseker gesonde slaappatrone – gewigverlies is ’n proses wat verskeie faktore behels. Raadpleeg ’n kenner om die oorsaak van jou oorgewig of vetsug te identifiseer. Die beste resultate word meestal verkry wanneer ’n program onder toesig en met die nodige ondersteuning gevolg word,” sê dr. Andersen.

Carina sê ’n leefstylverandering vereis dat jy konsekwent die regte keuse maak. “Die grootste uitdaging vir die meeste mense is om hul gewenste gewig permanent te handhaaf ná hulle gewig verloor het. Onthou altyd, as jy afvallig raak, gaan jy weer gewig optel!”

Meer oor:  Eetplan  |  Gewigsverlies  |  Somerlyf  |  Dieet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.