Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jou gesig verdien dit

’n Professionele gesigsbehandeling is nie net iets om jou mee te bederf nie, dis ’n integrale deel van jou stryd teen veroudering, skryf Karla Janse van Vuuren.

’n Professionele gesigsbehandeling moet jou vel se unieke behoeftes in ag neem.

‘As vroue is ons nooit gelukkig met ons vel nie, of jy nou ’n tiener is wat sukkel met aknee of iemand in haar 40’s wat begin kla oor plooie en oneweredige veltekstuur. Die harde realiteit is dat ons begin verouder van die dag wat ons gebore is en jou vel lyk op sy beste tot die ouderdom van so 25.” Dis die wyse woorde van Maritsa Heath van die Italiaanse skoonheidsmaatskappy Diego Dalla Palma.

Sy meen professionele velsorgbehandelings en -produkte is deesdae so gevorderd dat maandelikse behandelings ’n moet is om veroudering te vertraag. Boonop help dit om jou vel te beskerm teen die al hoe meer besoedelde omgewing.

Dr. Suretha Kannenberg, ’n konsultant-dermatoloog van die Universiteit Stellenbosch, sê ’n mens moet ook nie die ontspanningsvoordele van ’n lekker gesigsbehandeling onderskat nie. “Dis voordelig vir jou algemene gesondheid. Gewoonlik behels so ’n behandeling ’n was, stoom, afskilfering, vogrome en sonskerm. Soms is daar ’n massering by en ook ’n masker.”

’n Velsorgbehandeling is die springmat wat gesonde prosesse in jou vel sneller en versnel, sê dr. Bradley Wagemaker, die mediese direkteur by Lamelle Research Laboratories. “Tuisbehandelings speel ’n meer ondersteunende rol en versterk die veranderinge wat geskep is deur die professionele behandelings – dit sorg vir vinniger resultate en gesonde stimulasie vir jou vel. As jy net tuisbehandelings verkies, sal sigbare veranderinge aan jou vel waarskynlik langer neem.”

 ’n Goeie terapeut sal altyd eers ’n diagnose doen.

Maritsa meen ’n mens moet vir die beste resultate dieselfde produkte tuis gebruik as wat tydens jou behandelingsgebruik word. “Die rede hiervoor is dat produkte in sinergie met mekaar werk om die beste resultate te lewer. Tuisbehandelings is nodig om die resultate te onderhou wat met die professionele behandeling bereik is.”

Bradley sê egter die produkte kan verskil, solank die velsorgterapeut jou vel se vereistes identifiseer ná die professionele behandeling en jou raad kan gee oor produkte vir tuisbehandeling.

Probeer dié behandelinge
  • Lamelle se Essentials Age Prevent Facial (R430): Ek het hierdie behandeling by Lamelle se kantoor in North Riding beproef. Die terapeut, Judy Baron, het deurentyd verduidelik wat sy doen, en die behandeling het so 45 minute geduur. Dit het nie ’n chemiese afskilfering behels nie, en was uiters ontspannend. Daarna het my vel sag en bevogtig gevoel. Lamelle bied ’n verskeidenheid behandelinge vir verskillende velprobleme aan, asook chemiese afskilferings. Vir meer inligting, besoek www.lamelle.co.za.
  • Sothys het verskeie behandelinge beskikbaar, en ek het die Hydra3Ha Triple intensiewe hidrasiebehandeling (R825) by die Fairlawns-hotel se spa beproef. Drie verskillende maskers word aangewend om jou vel intens te bevogtig. Hierdie behandeling behels ook ekstraksies, so maak dit duidelik as jy dit nie verkies nie. Sothys bied ook ’n reeks bekostigbare behandelings aan met verskillende doelwitte soos diep skoonmaak, bevogtig, teen-veroudering en kalmerend (R350 elk). Besoek facebook.com/SothysSA vir meer inligting.
  • Diego Dalla Palma het verskeie behandelinge om droë, olierige of sensitiewe vel te behandel. Pryse is van R350 tot R750. Besoek RVB Cosmetics South Africa op Facebook vir salonne en verskaffers van dié produkte.

Voordat jy ’n afspraak maak vir ’n behandeling, moet jy ’n goeie idee hê van wat die velprobleem is wat jy wil aanpak, sê Bradley. “Deel dit met die terapeut en sy sal die korrekte produkte en behandeling vir jou vel kan kies. Dikwels sal die versoek vir ’n gesigsbehandelingnet lei tot ’n generiese massering met eksotiese olies wat heerlik ruik, maar eintlik minimale impak op jou veltoestand en langtermynvoorkoms het.”

Maritsa beklemtoon ook die belangrikheid van ’n gekwalifiseerde terapeut wat weet hoe die vel werk, en hoe om veltoestande te diagnoseer en te behandel.

“ ’n Goeie terapeut sal altyd eers ’n deeglike diagnose doen voordat sy nog aan jou vel raak. Maak dit duidelik wat jóú areas van kommer is, sodat sy nie net doen wat sy goeddink nie.”

Suretha sê wanneer jy vir jou ’n gesigsbehandeling bespreek, moet jy ook dink oor wat jy daarmee wil bereik. Daar is ’n verskil tussen om net te wil ontspan, of om ’n spesifieke velprobleem te behandel.

“Vir iemand wat byvoorbeeld ’n diep skoonmaak benodig, is ’n mediese afskilfering ’n goeie idee, en nie net ’n standaardbehandelingnie.”

Bradley meen ook dat chemiese of mediese afskilferings ’n baie doeltreffende manier is om sekere toestande te behandel.

“Chemiese afskilferings deur ’n kundige terapeut kan help om fyn lyne en plooie, vlekke en swak tekstuur as gevolg van veroudering te behandel.”

Maritsa sê daar is baie matige, natuurlike afskilferingsprodukte wat ook ongelooflike resultate kan gee, sonder enige “down time” – dis wanneer jou vel afskilfer of rooi is ná die tyd.

“Die intensiteit van die afskilfering sal afhang van hoe erg die toestand is wat behandel word.

“Hoe ligter die afskilfering, hoe meer gereeld kan jy vir een gaan (so elke twee tot drie weke), maar as dit ’n chemiese afskilfering is, gaan jy langer tyd nodig hê om te herstel voordat jy weer vir een gaan.”

Suretha beveel aan ’n mens gaan een keer per maand vir ’n professionele behandeling en volg dit op met die korrekte tuisprodukte.

So, kan ’n gesigsbehandelingregtig help om die tikkende horlosie van veroudering te vertraag? “Absoluut! As jy boonop versigtig is vir die son, ’n goeie sonskerm elke dag dra en vir gereelde behandelings gaan in kombinasie met ’n goeie tuisbehandelingsprogram, kan jy beslis ’n impak maak op hoe jou vel verouder,” meen Maritsa.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.