Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jy moet luister na jou lyf

Die meeste vroue wat borskanker kry, is nie voor hul diagnose as hoërisikogevalle beskou nie. Daarom kan niemand oorgerus wees nie, skryf Rochélle Human.

Borskanker is wêreldwyd die algemeenste kanker onder vroue, met 4,4 miljoen nuwe gevalle elke jaar. In Suid-Afrika is dit ook die kanker wat vroue die meeste aantas (buiten nie-melanoomvelkanker), en dit neem toe, ook onder jonger vroue.

Maar ten spyte van die hoë voorkomssyfer lewe 89% van vroue in Westerse lande by wie borskanker gediagnoseer word steeds vyf jaar ná hul diagnose, meestal danksy vroeë opsporing en behandeling, aldus die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Daarom is kenners se hoofaanbeveling gereelde ondersoeke, wat kanker kan opspoor voordat simptome ontstaan en terwyl dit makliker is om te behandel.

Veral vroue met ’n familiegeskiedenis van borskanker word aangeraai om vroegtydig en gereelde opsporingstoetse te doen. Maar volgens prof. Carol Benn, ’n gesiene borschirurg en -spesialis by die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg se borssorgsentrum, word byna twee derdes (65%) van vroue wat borskanker kry nie voor hul diagnose as hoërisikogevalle beskou nie.

Geen familiegeskiedenis beteken nie ’n vrou is kwytgeskeld van die risiko nie.

’n Vrou se grootste risikofaktor is die feit dat sy ’n vrou is.

Dit is ’n wanindruk wat vroue oorgerus kan maak en minder ondersoeke laat doen, sê dr. Liana Roodt, ’n senior spesialis-borschirurg by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. “ ’n Vrou se grootste risikofaktor is die feit dat sy ’n vrou is.”

Verstaan jou risiko

Sommige risikofaktore, soos geslag, ouderdom en familiegeskiedenis, kan ’n mens niks aan doen nie. Maar met wilskrag kan ’n vrou haar risiko in ’n mate verlaag deur gesond te leef.

Hoe weet ek of my risiko normaal of hoog is? Liana se raad is om dit deeglik saam met ’n vertroude dokter te bepaal.

’n Familiegeskiedenis van borskanker, maar ook ander kankers, kan jou risiko verhoog. “Dis nie net die BRCA1- en -2-gene nie. Sekere gene wat verband hou met ’n verskeidenheid ander kankers soos prostaat-, kolon- en pankreaskanker kan ook bydra tot ’n verhoogde risiko vir borskanker.”

Genetiese toetse is ’n opsie, maar pak dit aan saam met ’n mediese kundige wat raad kan gee en die resultate kan interpreteer. Daar bestaan ook rekenaarprogramme soos CanRisk of die Ibis-risikomodel wat ’n mediese kundige kan gebruik om ’n pasiënt se risiko te bepaal en te interpreteer.

Maar minder as 5% van alle borskankers is te wyte aan ’n identifiseerbare geen soos BRCA. “Dus is ons in 95% van gevalle onseker oor die oorsaak,” sê Liana. Dit kan ontstaan weens ander oorerflike gene waarvan medici nog nie bewus is nie, maar dikwels is dit weens ’n kombinasie van baie faktore oor ’n tydperk.

Hoe groter ’n vrou se estrogeen-venster is – hoe lank sy in haar lewe blootgestel is aan estrogeen, van die begin van menstruasie tot menopouse – hoe hoër is haar risiko. Só ook met die verlengde gebruik van orale voorbehoedmiddels, die Mirena en hormoonvervangingsterapie.

’n Ongesonde lewenstyl, soos om te rook, alkohol te gebruik, oorgewig en onaktief te wees, word ook beskou as risikofaktore.

’n Ongesonde lewenstyl, soos om te rook, alkohol te gebruik, oorgewig en onaktief te wees, word ook beskou as risikofaktore.

’n Brokkie goeie nuus vir ma’s: Om voor 30 jaar kinders te hê en te borsvoed word as beskermende faktore beskou.

Doen gereelde ondersoeke

Doen eerstens dieselfde tyd elke maand (ná menstruasie) ’n selfondersoek en voel aan jou borste en onder arms vir knoppe, verdikkings, tekstuurveranderings, kuiltjies of teerheid. Let op na veranderinge in die grootte of vorm van die tepels of borste (as een bors skielik heelwat groter as die ander een is, of die tepel binnetoe trek), ’n afskeiding, uitslag of swelling. Elke vrou se borste behoort ook jaarliks deur ’n dokter of verpleegster ondersoek te word.

Hoe gereeld sy vir opsporingstoetse gaan sal afhang van haar risikoprofiel.

Mammogramme is steeds die beste, met ultraklank-sonars wat aanvullend gebruik word. Dit kan gewasse opspoor wat nie met die hand gevoel kan word nie.

Hoewel daar alternatiewe opsies bestaan wat nie bestraling gebruik nie (soos termiese skandering), kan dit nog nie dieselfde gehalte inligting gee nie, en hierdie tegnologie word nie deur medici as ’n veilige alternatief goedgekeur nie.

“Met die persentasie bestraling wat ’n mens van ’n mammogram kry, weeg die voordeel steeds swaarder as die risiko,” sê Liana. Kansa reken ook die hoeveelheid en uitwerking van die bestraling van ’n mammogram word in die algemeen oorskat.

Navorsing wys wel vir elke borskankersterfte wat deur mammogramme voorkom word, word talle vroue ook geoor­diagnoseer. In hierdie gevalle dui die mammogramme gewasse aan wat stadig groei en waarskynlik nooit ’n probleem sou veroorsaak het nie, wat dan tot onnodige behandeling kan lei. Daarom volg talle lande nou ’n benadering wat die individu se risiko in ag neem, eerder as om almal oor dieselfde kam te skeer.

Navorsing wys mammogramme verminder vroue ouer as 50 jaar se risiko om aan borskanker te sterf met 35%. Hierdie voordeel is effens minder onder vroue tussen 40 en 50 jaar oud. Die internasionale agentskap vir kankernavorsing (IARC) het in ’n 2015-verslag gesê vroue tussen 50 en 74 vind baat by opsporingstoetse, terwyl daar slegs beperkte voordele tussen 40 en 49 is.

Vroue in die hoë of baie hoë risikogroepe moet minstens jaarliks ondersoek word vandat hulle 40 is, sê dr. Jenny Edge, hoof van die eenheid vir bors- en endokriene chirurgie in die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit. Met ’n genetiese abnormaliteit, kan jy selfs vroeër begin.

Carol reken egter alle vroue behoort van 40 jaar vir mammogramme te gaan. “My siening is dat dit belangrik is om daardie diagnose te kry. Dán is ’n multidissiplinêre oorsig van die pasiënt deur ’n span kenners die ideale koers om te bepaal wat die pasiënt se opsies is. Dit beskerm die pasiënt, want dis nie net een dokter wat oorhaastig behandelingvoorstelle voorskryf nie.”

Leef gesond

Volgens Liana is daar bewyse dat rook, alkoholgebruik, ’n onaktiewe leefstyl, vetsug, stres en versteurde slaappatrone (soos dié van nagskofwerkers) kan bydra tot die ontwikkeling van borskanker.

Oefening beheer stres; dit help jou om ’n gesonde gewig te handhaaf, en hou jou hart gesond. Dit verminder borskankerrisiko met ongeveer 42%, sê Carol.

Die navorsing is strydig, maar dit lyk of matige aërobiese oefening (soos stap, draf en swem) vir 45 minute per dag die meeste voordele inhou.

Vetsug is ’n groot risikofaktor vir borskanker. Nie net veroorsaak dit chroniese inflammasie, wat die liggaam ’n teelaarde vir kanker en ander siektes maak nie; die vetselle stimuleer ook estrogeenproduksie.

Alkoholiese drankies se leë kalorieë dra veral by tot vet om die maag, die gevaarlikste soort vet.

“Hierdie vet word as karsinogenies beskou, omdat dit die vervaardiging van hormone stimuleer wat met kanker verband hou,” sê Carol.

Die komponente waarin alkohol in die liggaam afgebreek word, is ook giftig vir selle. Dit breek verder af na ‘slegte estrogene’ en vermeerder estrogeen in die liggaam.

’n 2011-studie van meer as 100 000 vroue in die Journal of the American Medical Association (JAMA) het gewys selfs die gewoonte van net drie tot ses drankies per week (wat as lae alkoholverbruik beskou word), verhoog borskankerrisiko.

Voorkomende medikasie

In ’n onlangse studie in die tydskrif Jama het kenners van die Universiteit van Kalifornië in San Francisco bewyse nagegaan vir twee klasse medikasie wat moontlik borskanker in hoërisiko-vroue kan help voorkom, berig The New York Times.

Die een klas bestaan uit tamoksifeen en raloksifeen, wat estrogeen in sekere weefsel inhibeer.

Die ander klas sluit drie aromatase-inhibeerders in wat die estrogeenvlak in die lyf verlaag sodat dit nie estrogeen-sensitiewe borskankers se groei kan stimuleer nie. Hierdie middels word gewoonlik ná borskankerbehandeling voorgeskryf.

Die navorsers beveel aan dat vroue met ’n sterk familiegeskiedenis van borskanker of wat voorheen kankeragtige resultate in ’n borsbiopsie gehad het, die medikasie as voorkomende behandeling oorweeg.

Meer oor:  Ondersoeke  |  Borskanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.