Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kaalvoet is koning

Toe ’n Duitse vriendin ’n ruk terug hier kom kuier het, merk sy op sy’s mal daaroor dat “Suid-Afrikaanse kinders altyd so bietjie vuil is”. Dis eers vir my ’n vreemde opmerking, totdat ek opkyk en sien hoe mý seuntjie, met sy kaalvoetjies wat selfs ná badtyd ’n vuilbruin skynsel het, in die tuin speel saam met háár seuntjie, wie se voetjies ewe netjies in skoene én opgetrekte kousies gesteek is.

Kinders wat meestal kaalvoet loop, kan hoër spring.

Maar voordat jy nou skaamkry vir ons effe barbaarse spruite, hoor eers hier. Navorsing het gewys Suid-Afrikaanse kinders het beter balans én spring verder as hul Duitse eweknieë. Die rede: omdat ons kinders kaalvoet grootword.

Navorsing het ook al gewys mense wat meestal kaalvoet loop se voete is langer en meer buigsaam, wat belangrik is vir beweging.

Prof. Ranel Venter en dr. Elbé de Villiers van die departement sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch het met navorsers aan die universiteite van Jena en Hamburg in Duitsland saamgespan om te kyk watter verskille daar is tussen kinders wat hoofsaaklik kaalvoet loop (ons plaaslike spruite) teenoor dié wat meestal skoene dra (die Duitsertjies).

Die kinders is op drie maniere getoets: Hulle moes agteruit op drie balke (onderskeidelik 3 cm, 4,5 cm en 6 cm breed) loop, verspring uit ’n staande posisie en oor 20 m hardloop. Die Suid-Afrikaners het beter gevaar in twee van die drie toetse. Die Duitsers was vinniger oor 20 m. ’n Mens moet egter bysê dat heelwat van ons plattelandse kinders wat aan die studie deelgeneem het, op grondbane getoets is, terwyl al die Duitsers hul hardlooptoetse in hul skole se sportsale gedoen het.

Die Suid-Afrikaners se vermoë om verder te spring, kan heel moontlik toegeskryf word daaraan dat hul voetbrûe beweegliker is en verder kan meegee, sê Elbé. “Die voetbrug speel ’n belangrike rol in die stoor van elastiese energie (potensiële energie) wat gebruik word wanneer jy beweeg, byvoorbeeld loop, hardloop of spring.” Ons kinders het ook gemiddeld breër voete en dit kan waarskynlik die balansvoordeel verduidelik, sê die navorsers.

Die slegte nuus is dat Suid-Afrikaners hul balansvoordeel verloor in hul tienerjare, waarskynlik omdat hulle dan verkies om gereelder skoene te dra en ook gedwing word om harde, rigiede skoolskoene te dra. ’n Mens se voete is eers teen 16 of 17 volledig ontwikkel. “Wanneer ons kinders begin skoene dra, verander die voetvorm, veral die posisie van die groottoon. Dit maak die voet meer rigied, minder vervormbaar en beïnvloed die motoriese vermoëns,” verduidelik Elbé.

Ons tieners kan darem steeds verder spring uit ’n staande posisie.

As jy baie kaalvoet loop, is jou voetspiere beter ontwikkel en jou voete meer vervormbaar. Foto:

Amper almal kan kaalvoet loop

Bestee daarom liewer jou geld aan iets anders, skoene is werklik nie noodsaaklik vir jou kind nie.

“Balans en die vermoë om te spring, is ’n belangrike deel van jou kind se groot motoriese ontwikkeling. Goeie balans is ook die basis van alle beweging en daarom belangrik vir sportprestasie,” sê Elbé.

Amper álmal, nie net kinders nie, kan maar gerus soveel as moontlik kaalvoet loop, sê Dennis Rehbok, ’n voetheelkundige en dosent in voetheelkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Daar is net enkele uitsonderings.

  • Diabete moet liewer skoene dra. “Hulle het baie keer nie gevoel onder hul voete nie en ook swak bloedsomloop. Wanneer hul voete seerkry, voel hulle dit nie altyd nie en loop die risiko om infeksie te kry.”
  • Dis meestal nie noodsaaklik om jou voete te beskerm teen matige koue nie, meen Dennis. Koue kan wintersvoete veroorsaak, wanneer die bloedvate in ’n spasma gaan en bloedtoevoer na die spesifieke liggaamsdeel belemmer, maar dit is meestal nie gevaarlik nie en sal weer regkom. Diegene met slegte bloedtoevoerna hul voete, soos ou mense, kan egter oop sere ontwikkel as gevolg van wintersvoete en moet liewer hul voete teen koue beskerm.
  • “Ouer persone is minder geneig om kaalvoet te loop, maar dit sal hul balans verbeter,” voeg hy by. As jy sleg sien, is dit egter beter om liewer skoene te dra, meen Andrew Clarke, ’n voetheelkundige van Kaapstad.
  • Kinders met groeipyne moet ook liewer nie kaalvoet loop nie. “Hul voete pyn gewoonlik by die hakke waar die sening van die hakskeen heg, en deel van die behandeling is om tekkies te dra,” verduidelik Andrew.
  • Voet- of beenafwykings, soos plat voete, hakke wat na binne rol of aankapknieë, beïnvloed gewoonlik die voete se belyning en kan spanning daarop plaas. Dan help skoene gewoonlik om dit te ondersteun.
  • As jy erg oorgewig is, plaas jou lyf baie druk op jou voete. Skoene gee dan die nodige ondersteuning.

Pamperlang jou voete

Jou voete dra jou elke dag, daarom moet jy goed na hulle omsien.

Skrop hulle elke aand liggies, sê Dennis.

Was veral tussen die tone, voeg Andrew by. “Gebruik ’n naelborsel om die naels skoon te maak, skuur die rowwe dele liggies met ’n vyl, ondersoek dit vir beserings, soos blase, snye of blou kolle en smeer room aan voordat jy gaan slaap,” verduidelik hy die hele ritueel.

Hardloop liewer met tekkies

’n Paar jaar gelede was daar ’n neiging om kaalvoet, of met minimalistiese skoene met dun sole, te hardloop. Dit het egter vastrapplek verloor, aangesien te veel hardlopers beserings opgedoen het as gevolg daarvan, sê Dennis.

“As jy dit al lankal doen en jou voete gewoond is daaraan, gaan gerus voort, maar as jy nog altyd met tekkies hardloop, sal jou voete sukkel om aan te pas.

“Die meeste mense se voete benodig ondersteuning wanneer hulle draf.”

As jy dan nou móét skoene dra

Maak nie saak hoe slank hoëhakskoene jou laat lyk nie, dis sleg vir jou voete, sê Dennis Rehbock, ’n voetheelkundige van Johannesburg. “Dit kan jou kuitspier en haksening verkort, plaas al die gewig op jou voetkussing – én omdat die voorpunt vernou is, kan dit byvoorbeeld knokkel­eelte veroorsaak,” sê hy.

Kies liewer skoene met ’n lae hak, van sagte materiaal, wat wyd genoeg is dat jou voet gemaklik daarin pas.

Jou kouse moet ook behoorlik pas, vermy liewer een-grootte-pas-almal-sokkies, sê Andrew Clarke, ’n voetheelkundige van Kaapstad.

Meer oor:  Skoene  |  Voete  |  Kaalvoet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.