Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kontaklens-inplantings verseker vlymskerp visie sonder ’n bril

Jy hoef nie meer te sukkel om jou bril of kontaklense skoon te hou nie. Deesdae kan lense direk in die oog ingeplant word om jou sig te verbeter. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat multifokale- en kontaklens-inplantings behels.

’n Kontaklensinplanting maak brildra iets van die verlede. Foto: ISTOCK

Die dae is verby dat jy weens swak sig met ’n dik bril of ongemaklike kontaklense moet rondloop, want daar is verskeie inplantate wat kan help om jou visie te verbeter.

Wat is ’n kontaklens-inplantaat?

Belinda Bode, oogkundige by Tygervalley Eye & Laser Centre, sê dit is ’n kollamer-lens wat voor die natuurlike lens van jou oog ingeplant word sodat jy duidelike visie kan geniet sonder ’n bril of kontaklense.

“Dit is nie sigbaar van buite die oog nie, veroorsaak nie ongemak nie en vereis geen instandhouding nie. Dit bly vir ongeveer 15 tot 20 jaar in jou oog en word dan maklik en omkeerbaar verwyder.”

Dr. Carina Slazus van die Kaap Ooghospitaal voeg by dat dit ’n operasie is waartydens ’n spesiale lens in die pasiënt se oog ingeplant word sonder dat ’n katarak verwyder word. “Die inplantbare kontaklens word tussen die pasiënt se eie lens en die iris (die gekleurde deel) ingeplant. Jou eie lens bly dus in jou oog. Dit help dan om die beeld te fokus soos wat ’n eksterne of tradisionele kontaklens kan doen, maar word nie uitgehaal om skoongemaak te word nie.”

Wie kry gewoonlik ’n kontaklens-inplanting?

Belinda sê veral jongmense vanaf 18-jarige ouderdom tot 50-jariges wat baie bysiende, versiende of astigmaties is, vind baat by ’n kontaklens-inplantaat.

“Dit is veral hoë voorskrifte wat nie vir Lasik kwalifiseer nie, wat dié opsie kan benut om vir dik brille en ongemaklike kontaklense totsiens te sê. Mediese fondse dek nie die kostes nie, maar dis ongeveer ekwivalent aan wat jy in agt jaar sou bestee aan jou brille en kontaklense.”

Wat behels die kontaklens-inplantingsproses?

Volgens dr. Slazus neem dit ongeveer 20 minute per oog om ’n kontaklens in te plant.

“Die prosedure kan onder algemene of lokale verdowing gedoen word, maar moet in ’n formele, steriele teater gebeur met spesiale toerusting en met behulp van ’n mikroskoop.”

Is hierdie inplanting permanent?

Die kontaklens-inplanting is semi-permanent omdat dit wel verwyder kan word indien nodig, sê dr. Slazus.

“Gewoonlik bly dit in die oog sonder om vervang te word. Indien ander operasies later nodig sou wees, soos byvoorbeeld ’n katarakoperasie, kan dit dan wel verwyder word.”

Voordeel van kontaklens-inplanting

Belinda meen hierdie lens-inplantaat bied wonderlike uitslae wat voorspelbaar en stabiel is.

“Dit is ’n omkeerbare prosedure wat glad nie die dimensies van die oog verander nie. Die lens-ontwerpe kan refraksies van -20.00 tot +10.00 korrigeer en astigmatisme met tot 6.00 diopter. Dit kom ook in ’n multifokale ontwerp.”

Wat is ’n multifokale lens?

“Tydens katarak-chirurgie word jou lens wat dof en vaal geword het, verwyder en as standaard prosedure word ’n intraokulêre lens (IOL) ingeplant. Indien ’n lens nie ingeplant word nie, het jy ’n baie dik bril nodig om te kan sien en die gehalte van visie is nie baie goed nie. ’n Standaard IOL kan net die oog fokus vir óf ver óf naby. Die algemeenste praktyk is om lense vir beide oë te kies wat vir ver/afstand fokus en dan ’n leesbril voor te skryf vir naby sien,” verduidelik dr. Slazus.

Sy voeg by dat ’n multifokale lens ’n spesiale lens is wat probeer om ’n mate van visie te gee vir afstand en naby. “Maar die gehalte van visie is nie altyd so goed nie en nie almal sal ’n geskikte kandidaat wees vir hierdie lens nie. Die lens het verskillende sones wat strale van verskillende afstande fokus en is baie afhanklik van die grootte van die pupil.”

Belinda meen hierdie soort intraokulêre lens-inplantaat vervang die natuurlike lens in jou oog.

“Dit is ontwerp om meer as net een fokuspunt in die oog te bied. Dit is veral geskik vir mense bo die ouderdom van 50 en beteken dat jy bykans nooit ’n bril hoef te dra nie. Dit is ’n permanente lens wat nie verouder of vervang word nie, en mediese fondse dek ’n groot gedeelte van die kostes.”

Die nuwe Tecnis Eyhance help vir beter intermediêre visie en veroorsaak ook minder ligkranse snags. Foto: VERSKAF

Verskillende soorte multifokale lense

Belinda sê afhangend van jou visuele voorkeure, kan verskillende soorte lense fokuspunte bied vir afstandvisie (bestuur of televisie) sowel as intermediêre visie (rekenaar of gholf) en/of leesvisie.

“Die lense bied tipiese fokuspunte vir ver afstande, 66 cm en 30 cm. Daar is ook toriese multifokale lense wat astigmatisme kan regstel. Die nuwe Tecnis Eyhance IOL vir beter intermediêre visie is verlede jaar in Europa bekend gestel.

“Die kliniese uitslae is baie belowend en pasiënte se terugvoer is baie positief – van die jonger 50-jarige tot die wyse 80-jarige. Hierdie lens bied baie goeie afstand- en intermediêre visie. Dit gee minder ligkranse in die aand en bied visie op 65 tot 75 cm vir golf, musiek, rekenaarwerk, verf, elektroniese tablette ensovoorts. ’n Mens sal wel nog soms ’n leesbril moet dra vir fyn skrif. Dit is ook heelwat billiker as die multifokale lens-inplantaat en die meeste mediese fondse dek die prosedure. Dr. Johann Kruger by die Tygervalley Eye & Laser Centre is een van die eerste chirurge in die land wat hierdie lens onlangs in ’n baie tevrede pasiënt ingeplant het,” sê Belinda.

Die brein gebruik dan die visie van die oog wat die beste is, op die afstand waar jy wil kyk.

Voor- en nadele van multifokale lens-inplanting

Dr. Slazus sê daar is ’n mate van bruikbare visie vir afstand, middel en naby, maar die gehalte word ingeboet. “Nog ’n nadeel is dat indien die pasiënt baie ongemaklik is met die visie, is dit ’n moeilike operasie om die lens uit te haal en te vervang. Sekere pasiënte kla ook van probleme met nagvisie en vind dat straatligte soos disko-ligte lyk.”

Wat behels ’n multifokale lens-inplanting?

“Dit word ingeplant na ’n katarakoperasie waar die pasiënt se eie lens eers verwyder word. Wanneer die soort lens gekies moet word vir ’n lensvervanging as deel van katarakchirurgie, is daar drie faktore om van te kies: gehalte van visie, afstand en nabye visie – ongelukkig kan geen lens al drie 100% regstel nie.

“Daar is ’n kompromie wat aangegaan moet word. Ek verkies om vir my pasiënte monovisie aan te bied. Die dominante oog word gekorrigeer vir afstand met ’n standaard lens wat goeie gehalte visie gee. Die ander oog kry ’n standaard lens vir naby sien. Die brein gebruik dan die visie van die oog wat die beste is, op die afstand waar jy wil kyk,” verduidelik dr. Slazus.

Sukses van ’n multifokale lens-inplanting

Dit is belangrik om goeie ooggesondheid te hê vir so ’n soort lens-inplanting meen Belinda.

“Jou chirurg moet ook baie bekwaam wees, met ’n wye ervaring van die regte inplanting en sentreringstegnieke. Dr. Kruger doen al vir 19 jaar multifokale lens-inplantings en is op nasionale en internasionale panele om tegnieke, lenskeuses en pasiëntkeuse te adviseer. Dit neem ’n rukkie om aan te pas by hierdie soort lense (neuro-adaptasie). Meer as ’n derde van pasiënte moet multifokale lens-inplantate kry.”

Meer oor:  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.