Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Krap jy kop oor jeukerige vel?
Daar is verskeie opsies beskikbaar om atopiese ekseem suksesvol te behandel.Foto: istock

Met Nasionale Ekseemweek wat vandeesweek van 14 tot 18 September gedenk word, is die fokus om bewusmaking en begrip vir atopiese ekseem te skep asook respek te toon aan mense wat met die siekte saamleef en hul gesinslede.

“Atopiese ekseem is ontsettend moeilik vir pasiënte en hul gesinne. Dit het ’n ernstige uitwerking op hul daaglikse lewe en tas uiteindelik selfs hul lewensgehalte aan,” sê dr. Alicia McMaster, mediese hoof van die spesialiteitsorgeenheid by Sanofi Suid-Afrika.

Wat is atopiese ekseem?

Atopiese ekseem, ook bekend as atopiese dermatitis (AD), is een van die vorms van ekseem, ’n chroniese, inflammatoriese velsiekte wat gekenmerk word deur onvoorspelbare opvlammings en gedeeltelik aangedryf word deur ’n wanfunksie in die immuunstelsel.

AD is nie net bloot ’n veltoestand nie, dit is in werklikheid ’n sistemiese inflammatoriese siekte wat ’n beduidende fisieke en sielkundige impak kan hê op mense wat daaraan ly, met baie wat sukkel om voldoende beheer oor hul toestand te verkry.

Matige tot ernstige AD word geassosieer met ontsteekte vel en intense gejeuk wat oral oor die liggaam kan voorkom. Algemene liggaamsdele wat geraak word, sluit in die knieë, elmboë, enkels, gesig, nek, voete, hande en polse. Onvoorspelbare opvlammings, of verslegting van die toestand, kan rooi uitslag, droogheid van die vel, krake, korsvorming en uitsypeling insluit.

Dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog, sê die siekte kom meestal by kinders voor. “Sowat die helfte van kinderlyers sal die toestand moontlik teen puberteit ontgroei met opvlammings in hul volwasse jare. Volwassenes kan ekseem op enige ouderdom ontwikkel.”

Oormatige tipe 2-ontsteking vorm deel van die onderliggende meganisme vir die ontwikkeling van AD, asma, chroniese rinosinusitis met neuspoliepe, eosinofiele esofagitis en sekere allergieë.

Hoe hanteer jy ekseem?

Sagte velsorg en goeie bevogtigers kan verligting bring vir ligter gevalle van atopiese ekseem. Vir erge ekseem kan dermatoloë topikale kortikosteroïede aanbeveel, wat ’n vinnige, anti-inflammatoriese en anti-jeuk-uitwerking het asook opvlammings streel en die jeuk-krap-siklus breek. Nie-steroïedale anti-inflammatoriese salf is in die algemeen minder doeltreffend tydens opvlamming en kan ’n kortstondige brand- of steekgevoel veroorsaak, maar is doeltreffend as langtermynbehandeling.

Biologiese terapie - geteikende, geneties gemanipuleerde behandelings afkomstig van lewende weefsel of selle - is die jongste opsie vir volwassenes en tieners met matige tot ernstige ekseem.

Om met ekseem saam te leef hoef nie ’n las te wees nie. Deur ’n behoorlike behandelingsplan te volg, kan jy ’n normale lewe van ’n hoër gehalte ervaar! Indien jy of iemand na aan jou met ekseem gediagnoseer word, raadpleeg jou dokter oor geskikte behandelingsopsies vir jou.

Meer oor:  Gesondheid  |  Ekseem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.