Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: Hare waai hoog in die lug vir kanker

’n Vliegtuig is Saterdag in ’n haarsalon omskep en die hare het 5 000 m bo seevlak gewaai om bewustheid van kanker te skep.

Die vlug in Little Annie, ’n Antonov An-2-vliegtuig, was deel van die Hair in the Air-geleentheid wat by die Wonderboom-lughawe gehou is om geld in te samel sodat behoeftige kinders kan vlieg en om onder meer bewustheid van kanker te skep.

Die tienjarige Kayleigh Weiss van Capital Park in Pretoria en Veronica Hewett van Centurion het tydens die vlug mekaar se hande vasgeklem.

Kayleigh, ’n gr. 4-leerling aan die Rietondale Primary School, sê sy was ’n bietjie bang, maar dat die vlug tog lekker was.

“Dit het gevoel asof ek in ’n hysbak is wat die heeltyd op- en afgaan en nog ruk ook. Ek hoop die tannie of meisie wat my hare kry, is bly daaroor.”

Daar is Saterdag ’n Hair in the Air-geleentheid by die Wonderboom-lughawe gehou om geld in te samel sodat behoefte kinders kan vlieg en ook om bewustheid van kanker te skep. Foto: Raymond Willemse

Dit is nie die eerste keer dat sy haar deel vir liefdadigheid doen nie. Sy het in Maart vanjaar ook ’n stuk van haar hare aan Kansa geskenk.

“Iemand wat ons ken, het sy hare weens kanker verloor. Ek wou iets doen om te help en het besluit om my hare te sny en te skenk.”

Hewett sê die ervaring was iets besonders.

Veronica Hewett (links) hou Kayleigh Weiss se hand styf vas terwyl hul hare deur Sue van den Bergh en Henry Wakefield meer as 5 000 m bo seevlak gesny word. Foto: Raymond Willemse

“Dit is iets wat ek nie gou sal vergeet nie. Ek was bang, maar sal weer so iets wil doen.”

Die twee haarstiliste, Sue van den Bergh en Henry Wakefield, sê dit was ’n ongelooflike ervaring.

“Ek was ’n bietjie senuweeagtig omdat jy nie die turbulensie kan bepaal nie. Dan wonder jy ook of die mense mooi gaan lyk ná die tyd.”

Van den Bergh sê sy is net bly sy het nie ’n fout gemaak en te veel hare afgesny nie.

“Dit is vir ’n goeie doel en liefdadigheid lê my en Henry na aan die hart.”

Twee mans het ook hul hare gesny en talle kinders het die geleentheid gekry om in Little Annie te vlieg.

Kayleigh Weiss het 21 cm van haar hare laat afsny. Foto: Raymond Willemse

Die projek is in 2012 begin om behoeftige kinders ’n geleentheid te gee om nie net ’n vliegtuig te sien nie, maar ook om in een te vlieg.

Sheila Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir vervoer in die Tshwane-metro, wat ook vir ’n rit in die vliegtuig geneem is, sê projekte soos hierdie doen wonderlike werk om behoeftige kinders aan die lugvaart bloot te stel.

Die vlieënier, Mark Hill, sê volgens hom is dit die eerste keer dat so ’n geleentheid in Suid-Afrika en miskien selfs in die wêreld gehou is.

“Dalk is dit ’n nie-amptelike Guinness-wêreldrekord.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.