Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
VIDEO 1: Oefen saam tydens staat van inperking

Jy mag nie met jou hond gaan stap nie, jy mag baie beslis nie buite gaan draf nie en jou geliefde gimnasium is gesluit.

Hoe is jy dan veronderstel om fiks te bly te midde van ’n staat van inperking?

Etienne Ferreira, eienaar van TrueKrav-selfverdediging in Kaapstad, wat op fiksheid én die Krav Maga-selfverdedigingstegniek fokus, sê mense kan steeds tydens die inperking oefen – jy het in der waarheid net jou liggaam en ’n klein ruimte nodig.

“Ek beveel aan dat mense vandag begin oefen. Sommer in die oggend vroeg, want as jy dit uitstel vir later in die dag, gaan jy selde daarby uitkom.”

Ferreira, wat sy studente by TrueKrav leer om hulself teen messe, vuurwapens en stokke te verdedig, se studio is tans gesluit, maar hy motiveer sy studente aanlyn met fiksheidsoefensessies.

Die Krav Maga-selfverdedigingstegniek is in Israel ontwikkel, maar word nou wêreldwyd gebruik.

Ferreira, wat oorspronklik van Pretoria is, het reeds in 2003 Krav Maga-lesse by ’n Israelse soldaat begin kry en het agt jaar gelede sy eie studio in Kaapstad oopgemaak.

Hy stel voor dat mense die inperkingstydperk gebruik om aan hul fiksheid te werk.

“’n Mens moenie net op die rusbank voor die televisie sit nie. Skeduleer tyd vir oefen, werk, jou gesin en ontspanning tydens die inperking. Ek glo ’n roetine kan jou motiveer.”

Ferreira en sy studente fokus nie net op selfverdediging nie en beskou fiksheid as baie belangrik tydens ’n geveg.

“Fiksheid is belangrik vir Krav Maga, want jy moet letterlik teen jou aanvaller terugbaklei. Om fiks vir ’n geveg te wees, is dus van kardinale belang.”

Ferreira fokus veral daarop om jou liggaam as gewig te gebruik wanneer jy oefen. Dit sluit oefeninge in wat ook tot eksplosiewe krag bydra.

Etienne Ferreira het vir eers die messe, vuurwapens en stokke gelos en help mense nou om fiks te word terwyl Suid-Afrika in ’n staat van inperking is. Foto: TrueKrav/ Facebook

Hy laat sy studente gereeld in die middel van ’n geveg ophou sodat hulle tussen die studio se mure kan nael, kruip of spring.

Dié oefeninge kan ook by die huis gedoen word.

“’n Mens kan optrekke of gewone opstote doen. Jy kan hurksit (squat) of selfs net vinnig hardloop.”

Ferreira het vir Netwerk24 ’n video gemaak waarin hy verduidelik en demonstreer hoe jy tydens die inperking kan oefen. Jy het geen toerusting nodig om dié oefeninge baas te raak nie. Sy oefeninge kan deur enigeen gedoen word, of jy nou ’n beginner is of reeds fiks is.

Hy stel voor dat jy met vier oefeninge begin, wat jy vir vier rondes kan doen. Elke oefening duur 40 sekondes, met 20 sekondes rus tussen elke oefening.

“As jy voel die 40 sekondes is te lank vir jou, kan jy 30 sekondes oefen en 30 sekondes rus.”

Plank: Die eerste 40 sekondes bestaan uit die “plank”. Jy moet vir dié oefening plat lê en jou liggaam met jou elmboë en tone opstoot. Dié posisie moet vir 40 sekondes gehou word, waarna jy vir 20 sekondes kan rus.

Opstote: Vir die tweede oefening raai Ferreira aan dat jy vir 40 sekondes opstote doen, waarna jy vir 20 sekondes kan rus.

Hurksit: Vir die derde oefening moet jy in ’n gehurkte houding staan en hurksit vir 40 sekondes, waarna jy weer vir 20 sekondes kan rus.

Hardloop: Vir die vierde oefening, sê Ferreira moet jy so vinnig as wat jy kan op een plek hardloop, waarna jy vir 20 sekondes kan rus.

* Netwerk24 sal volgende week die volgende oefensessie publiseer, waarin Ferreira die oefeninge ’n bietjie taaier maak.

Meer oor:  Kaapstad  |  Pretoria  |  Koronavirus  |  Fiks  |  Covid-19-Virus  |  Oefen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.