Lindi Opperman was jare lank te bang om te slaap uit vrees dat sy in ’n diabetiese koma sou verval, maar nou kan sy rustig slaap sedert Amberley, haar mediese dienshond, pal aan haar sy is.
Tipe 1-diabetes is op sesjarige ouderdom by Lindi (23), ’n finalejaar-LLB-student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU-Pukke), gediagnoseer en sedertdien is sy insulien-afhanklik.
Amberley loop selfs saam met Lindi klas om haar te waarsku wanneer haar bloedsuikervlak te laag daal. Die hond ruik dit aan haar speeksel.

Lindi Opperman en Amberley, haar diabetes-dienshond, Woensdag in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Die tweejarige labrador-tefie is by die Honey’s Garden-opleidingsentrum vir mediese honde in Kaapstad opgelei, en Lindi het haar in Junie vanjaar gekry.
Dié boorling van Pretoria vertel sy het ’n paar jaar gelede al gehoor van diabetes-dienshonde in die buiteland.
“Ek het navorsing daaroor begin doen en toe op Honey’s Garden se Facebook-blad afgekom.”
Lindi was sedertdien in kontak met die sentrum, een van net ’n handvol landwyd waar mediese dienshonde opgelei word.
Anders as in die geval van gidshonde vir blindes, is die aanskaf van ’n mediese dienshond vir ander doeleindes nog baie duur omdat dit minder algemeen is.
“Dit kos omtrent R100 000 in Suid-Afrika, maar die staat subsidieer die helfte daarvan,” sê Lindi.
Haar slapelose nagte het haar ouers, Caroline en Philip, oortuig om ’n diabetes-dienshond vir haar te kry.
“Ek was in trane toe my pa (vroeër vanjaar) vir my ’n skermfoto stuur om te wys hy het die deposito vir ’n dienshond betaal.”

Amberley is pal aan Lindi Opperman se sy en word dadelik onrustig wanneer sy haar vir ’n paar oomblikke nie sien nie. Hier is die twee Woensdag in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Honey’s Garden het toe ’n hond geïdentifiseer wat by Lindi se leefstyl, behoeftes en persoonlike omstandighede pas.
“Hulle het Amberley deur middel van ’n video-oproep aan my voorgestel. Dit was ’n baie emosionele oomblik om te dink sy gaan nog my beste vriend word.”
Lindi was in Mei twee weke lank in Kaapstad vir opleiding oor hoe om Amberley te hanteer.
“ ’n Personeellid van Honey’s Garden het met Amberley by die gastehuis in Kaapstad gewag toe ek daar aankom. Ek het na haar gehardloop en daar was onmiddellik ’n band tussen ons. Amberley is nou nog mal oor haar sagte speelgoed-dinosourus wat ek daardie dag vir haar gegee het. Sy hou hom met haar pote vas en slaap met hom.”

Lindi Opperman en Amberley het dadelik ’n band gevorm toe sy haar in Mei die eerste keer in Kaapstad ontmoet het. Hier is hulle Woensdag aan die stap in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Amberley is opgelei om Opperman se aandag te trek wanneer haar bloedsuikervlak 4 of laer is.
“Hoe laer my suiker is, hoe erger sal sy aangaan,” sê Opperman.

Lindi Opperman en Amberley Woensdag in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin in Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers
“Wanneer ek wakker is, sal sy haar kop en poot teen my druk of albei pote as teken dat my bloedsuiker baie laag is. As dit gevaarlik laag is, sal sy teen my opspring.”
Amberley sal aan Opperman krap en stamp om seker te maak sy word wakker wanneer haar suikervlak in haar slaap te laag daal.
“Amberley gaan haal ook selfs my suikermeetmasjien as my suiker laag is. Ek het haar ook geleer om vir my ’n pakkie neute en rosyne wat op ’n spesifieke plek gebêre word te bring.”
Opperman woon in ’n studentehuis met ’n groot tuin naby die universiteit, waar Amberley van haar energie ontslae kan raak.
“My ma sê ek is Amberley se mens. Ander mense dink dit is vreemd dat ek met ’n dienshond loop terwyl ek nie blind is nie. Mense is nie bewus daarvan dat honde ook diens kan doen vir mense met onder meer suikersiekte, epilepsie en mense wat aan geestesiektes ly nie.”
* Besoek medicalalertdogs.co.za vir meer inligting oor Honey’s Garden en die honde wat daar opgelei word.