Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kyk só na persone met gestremdhede

Gestremdheid is deel van ons samelewing en daarom word Nasionale Bewusmakingsmaand vir die regte van gestremdes van 3 November tot 3 Desember gevier. Danielle Daniëls het by kenners meer oor hierdie inisiatief en die doel daarvan gaan uitvind.

Dit is belangrik dat versorgers en familielede van persone met gestremdhede ingelig is oor daardie spesifieke gestremdheid, want so breek jy die stigma.Foto: ISTOCK

Daar is ongeveer 2 870 130 persone met gestremdhede in Suid-Afrika, wat beteken dat 7,5% van die bevolking gestremd is, is een van die bevindings in Statistieke Suid-Afrika se 2011-sensus.

Gillian Moses, nasionale programbestuurder van Disabled People South Africa, sê die voorkoms van gestremdheid is hoër in vroue as mans, “onderskeidelik 8,5% teenoor 6,5%”.

Die 24 soorte gestremdhede word volgens haar in vyf kategorieë geklassifiseer, naamlik fisiek, sensories, intellektueel, neurologies en psigososiaal.

Wanneer dit by die hoofoorsake van gestremdheid kom, sê Erica du Toit, koördineerder van bewusmaking en sensitisering by die Wes-Kaapse Vereniging vir Persone met Gestremdhede, daar is drie oorsake van ’n sensoriese, psigososiale, fisieke, neurologiese of intellektuele verlies, naamlik trauma (ongeluk), siekte of aangebore.

“Die grootste aantal verliese is onder mense met swak visie of blindheid. Dit bygesê, gestremdheid is nie iets wat die persoon het nie, maar iets wat deur verskeie faktore op die person afgedwing word, byvoorbeeld omgewing, kommunikasie, inligting of gesindheid. Die publiek se gesindheid teenoor persone met gestremdhede is wat hulle keer om deel van die samelewing te wees. Die trappe wat maak dat rolstoelgebruikers nie in geboue kan ingaan nie, tekort aan toeganklike vervoer, toegang tot kommunikasie en inligting soos subtitels op nuusberigte vir diegene wat nie ’n gebaretaal gebruik vir kommunikasie nie, en veel meer.”

Tydens die Covid-19-pandemie is die meerderheid persone met gestremdhede swaar getref, omdat hulle nie toegang tot gesondheidsorgdienste gehad het nie en sommige nie hul chroniese medikasie kon kry nie.

Volgens Erica is vanjaar se tema vir Nasionale Bewusmakingsmaand vir die regte van gestremdes om saam te bou aan gemeenskappe, insluitend regte vir gestremdhede.

“Gedurende die maand sal daar weeklikse sub-temas wees om dit te vier. Hierdie is deur die departement vir vroue, jeug en persone met gestremd­hede saamgestel.”

Volgens Gillian is die uitdagings wat persone met gestremdhede daagliks in die gesig staar, toegang tot onderwysgeleenthede (veral toegang tot tersiêre opleiding), toegang tot werksgeleenthede, gebrek aan toeganklike vervoer en ongelykheid in toegang tot hulpmiddels.

“Tydens die Covid-19-pandemie is die meerderheid persone met gestremdhede swaar getref, omdat hulle nie toegang tot gesondheidsorgdienste gehad het nie en sommige nie hul chroniese medikasie kon kry nie.”

Wenke oor hoe om persone met gestremdhede te behandel

Erica sê hierdie is maar ’n paar algemene wenke:

* Sien die persoon eerste raak en nie die verlies of hul hulpmiddel nie. Behandel die persoon soos enige ander mens.

* Groet die persoon en moenie bang wees om ’n geselsie aan te knoop nie.

* Moet nooit toeganklike parkeerplekke gebruik nie!

Wenke vir versorgers

Gillian stel hierdie wenke voor:

* Raak vertroud met die verskeie hulpbronne vir mense met gestremdhede in jou gemeenskap. Byvoorbeeld, as jy inligting benodig oor die menseregte van persone met gestremdhede, kontak stigtings soos Disabled People South Africa.

* Leer persone met gestremdhede dat hulle sukses kan bereik, ondanks hul gestremdhede.

Breek die stigma

“As vereniging besef ons dat die manier waarop die publiek met persone met gestremdhede kommunikeer, baie keer gegrond is op onkunde en nie noodwendig onvriendelikheid nie. Bewusmaking en opvoeding oor gestremdheid is dus van kardinale belang om die stigma uit te wis,” sê Erica.

GEBORG

Folio InterTel is jou tolk vir elke kwaal in jou moedertaal! Dié intydse mediese telefoontolkdiens lewer hul diens in 38 tale vir nie-Engelssprekende pasiënte.

Meer oor:  Gesondheid  |  Gestremdhede  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.