Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Laat jou vroeg vir dié kanker toets’

November staan alom bekend as “Movember” en in hierdie maand word daar sterk klem gelê op mansgesondheid. Danielle Daniëls gesels met Gerrit van Zyl oor sy ervaring met prostaatkanker.

Gerrit van Zyl raai alle mans aan om hulle vir prostaatkanker te laat toets. Foto: Pixabay

Op 16 November 2016 is prostaatkanker by die 55-jarige Gerrit van Zyl gediag­noseer.

Gerrit, nou 56, wat op ’n plaas by Riebeek-Kasteel werk, het geen idee gehad dat dié kanker by hom gediagnoseer sou word nie.

“Ek het my huisdokter besoek vir ’n pynstiller vir my voet. Voordat die dokter die pynstiller voorgeskryf het, het hy ’n bloedtoets vir my lewertelling gedoen en ook ’n prostaatspesifieke antigeen (PSA)-bloedtoets geneem.”

“Die lewertelling was normaal, maar my PSA-telling was te hoog.

“Die dokter het my verwys na ’n uroloog.”

Hy het die uroloog besoek en op 5 Desember 2016 is ’n biopsie gedoen.

Die herstel na hierdie prosedure was vinniger as wat dit sou neem met die gewone metode.
Gerrit van Zyl

“Ek is onder narkose gesit om die biopsie te doen.

“Die uitslag was dat ­ek kanker het.”

Die prostaat is op 9 Februarie vanjaar verwyder.

“Die uroloog het my twee opsies gegee om die kanker te verwyder: een wat gedoen word op die gewone manier, wat ’n groterige sny behels en langer vat om te herstel, of die Da Vinci-metode.

“Ek het besluit op die Da Vinci-metode. Dit is ’n minimaal indringende robotchirurgiese stelsel wat klein insnydings maak. Die herstel na hierdie prosedure was vinniger as wat dit sou neem met die gewone metode.”

Nadat die prostaat verwyder is, moes Gerrit die uroloog weer besoek sodat opvolgtoetse gedoen kon word.

Ek moedig alle mans aan om hulle op ’n vroeër ouderdom vir prostaatkanker te laat toets.
Gerrit van Zyl

“Die uroloog het weer ’n bloedtoets gedoen. My PSA was steeds te hoog, en hy het my na ’n onkoloog verwys. Die onkoloog het bestraling voorgestel.

“Op 14 Junie vanjaar moes ek vir ses weke elke oggend by die St. Stephen-onkologiesentrum in die Paarl wees vir die bestraling.

“Die bestraling was ’n pynlose en vinnige proses en ek het baie min newe-effekte gehad.”

Na hy die bestraling ontvang het, het die onkoloog na ses weke weer ’n bloedtoets laat doen.

“Die eerste keer na bestraling het die bloedtoets getoon dat my PSA laer is en verlede Vrydag is dit weer getoets, en dit is weer laer.”

Met enige siekte is voorkoming beter as genesing.

“Ek moedig alle mans aan om hulle op ’n vroeër ouderdom vir prostaatkanker te laat toets.”

Meer oor:  Gesondheid  |  Chirurgie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.