Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dokter wat lewer ontvang: ‘Ek wens ek kan jou pyn oorneem’

“Hoe sê ’n mens dankie vir ’n lewer?”

So het dr. Sheldeen Botha op die vierde dag ná haar leweroorplanting in ’n hees stem uit die hoësorgeenheid gevra.

Sy het reeds Sondag self opgestap na die tweede vloer van die Wits Donald Gordon Medical Centre in Johannesburg, om haar beste vriendin en skenker, Carine Terblanche, te besoek.

“Dankie vir jou lewer. Ek wens ek kan jou pyn oorneem,” is wat sy oor en oor vir Terblanche sê.

Sy was Maandag nog kortasem nadat haar sentrale-aar-kateter verwyder is.

“Ons is so bevoorreg. Alles verloop baie goed.”

Carine Terblanche (links) en dr. Sheldeen Botha op die vierde dag nadat Terblanche ’n stuk van haar lewer aan Botha geskenk het.Foto: Annelie Terblanche

Terblanche het Maandag gesê dit voel nog onwerklik dat sy 38% van haar lewer aan Botha geskenk het.

“As ek ontslaan word, sal dit seker insink.”

Die oorplanting sou verlede Dinsdag plaasgevind het, maar weens ’n noodoperasie op ’n seuntjie moes dit na Donderdag geskuif word.

Die seun het akute lewerversaking gekry en die oorplanting is deur die nag gedoen nadat sy ma deel van haar lewer geskenk het.

Botha sê die seuntjie het Sondag al glimlaggend in die hoësorgeenheid gespeel.

Terblanche sou laat Maandag uit die hoësorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas word. Sy het vroeër die dag nog baie pyn in haar skouers verduur.

“Hulle noem dit skouerpuntpyne. Dit is volgens die dokters verwysde pyn.”

Hoe sê ’n mens dankie vir ’n lewer? Sy weet darem ek sou dieselfde vir haar doen. Sy weet sy kan eendag op my knoppie druk.

Terblanche se lewer het glo reeds begin herstel, en Botha se gestel lyk asof dit die nuwe lewer aanvaar.

Hoewel die spesialiste voorspel het Terblanche sal meer pyn ervaar, vermoed die twee vriendinne se naastes Botha se pyndrempel is bogemiddeld hoog omdat primêre biliêre cholangitis, ’n soort outo-immuunsiekte, reeds tien jaar gelede by haar gediagnoseer is.

Botha het baie bloed tydens en ná die operasie verloor, maar die dokters is versigtig om dialise te doen.

Hulle sou ook haar milt tydens die operasie verwyder, maar hulle was bang daar is te veel bloedverlies.

Botha sê dit is ’n ongelooflike ervaring hoe die mense se boodskappe en omgee haar deur die hele proses dra.

“Hoe sê ’n mens dankie vir ’n lewer? Sy weet darem ek sou dieselfde vir haar doen.

“Sy weet sy kan eendag op my knoppie druk.”

Meer oor:  Sheldeen Botha  |  Leweroorplanting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.