Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Lig jouself in oor koronavirus en bly gesond

Vir Suid-Afrikaners te midde van die koronavirus-pandemie is hierdie ’n onsekere tyd. As jy egter die nodige voorsorgmaatreëls tref, kan jy verhoed dat jy en jou gesien ernstig siek raak. Dr. Jan Hendrik Vermeulen, ’n pediatriese longspesialis, verduidelik wat die virus behels en hoe om te voorkom dat jy dit opdoen.

Wat is die SARS-Covid-19-virus?

Dit verskil van vorige koronavirus-opbloeiings in 2002 en 2003.

Covid-19 versprei baie vinnig en kan lank genoeg in die lug en op sekere oppervlakke oorleef om jou aan te steek. Die virus vermeerder baie vinnig in die liggaam en selfs al het jy nie simptome nie, is jy aansteeklik. Die asemhalingstelsel is die hoofteiken en ook die grootste oorsaak van sterftes.

Hoe versprei die koronavirus van persoon tot persoon?

Die virus versprei hoofsaaklik tussen mense deur middel van respiratoriese druppels (sproei) en oppervlakke waaraan hulle raak.

Dit dring die liggaam binne deur blootgestelde slymvliese in die neus, mond en oë (veral groter druppels). Afhangend van die grootte van die virusdeeltjies, kan dit tot die kleinste lugweë van die longe binnedring.

Groter druppels word rondom jou gestort, en die lewensvatbaarheid van die virus op die verskillende oppervlakke wissel van ure tot dae indien die temperatuur en ander faktore gunstig is.

Dit is raadsaam om na kontak met moontlik besmette oppervlakke nie aan jou gesig te vat nie. Dit is nie bekend hoeveel van die virus jy moet inneem voor jy siek word nie. Die beste raad vir die voorkoming van infeksie, is om fisieke kontak sover as moontlik te vermy.

grafiek
Wat doen die virus aan ’n mens?

Jy kan na ’n inkubasietydperk van vier tot sewe dae simptome begin toon, maar oordrag van die virus kan reeds twee tot drie dae vooraf begin plaasvind.

Die verloop van die virusinfeksie kan rofweg in vyf kliniese stadiums verdeel word.

  • Geen kliniese simptome, maar jy is wel aansteeklik.
  • Toon griepverwante simptome wat nie vererger nie. Tuisbehandeling is voldoende.
  • Sowat 20% van pasiënte kan sieker word en hospitalisasie en isolasie benodig.
  • Pasiënte met longontsteking en asemhalingsprobleme (4 tot 6%) benodig hospitalisasie.
  • Kinders het tot dusver gespaar gebly en kry geringe of geen simptome nie. Hulle kan wel die virus huis toe bring!

Dit het ook duidelik geword dat pasiënte ouer as 60 jaar asook mense met kroniese longsiektes, diabetes, hartsiektes, hoë bloeddruk en ander siektes waar die immuunstelsel aangetas is of waar middels gebruik word wat die immuunstelsel onderdruk, ’n groter kans het om ernstig siek te word. Daar is tans geen spesifieke behandeling wat die infeksie kan voorkom of genees nie.

Hoe kan jy die siekte voorkom?

Voorkoming is die beste behandeling. Volg hierdie riglyne om te verseker dat jy gesond bly:

  • Was jou hande.
  • Moenie aan jou gesig vat nie.
  • Vermy fisieke kontak.
  • Moenie persoonlike items (soos ’n selfoon) deel nie.
  • Ontsmet oppervlakke waar jy werk en waaraan jy gereeld vat.
  • Dit is nie nou die tyd om gesellig te verkeer nie.
  • Vermy groepe mense en dring op ’n veilige afstand aan as jy in ’n tou moet staan. Dit is beter om nie in so ’n situasie te beland nie.
  • Was groente. Daar is geen bewyse dat die virus deur kos oorgedra word nie. Maar dit kan nie skade doen om vars groente met skoon water af te spoel nadat jy jou hande gewas het nie.
  • Maskers vir hoes en proes. Riglyne vir die gebruik van maskers is oral in die media beskikbaar. Eerder as om jouself te beskerm, gee dit beskerming aan mense om jou wanneer jy hoes of nies. Al is die beskerming vir jouself nie 100% nie, is dit tog die moeite werd om ’n masker te dra.
  • As jy nie ’n masker dra nie, gebruik ’n sneesdoekie of nies en hoes in jou elmboog om druppelbesmetting te voorkom. Plaas die sneesdoekie in ’n plastieksak wat seël en gooi dit weg.

Bly gesond met winter om die draai

Met winter net om die draai, is daar sekere voorsorgmaatreëls wat jy kan tref:

  • Griepinspuiting vir almal.
  • Volg ’n gesonde dieet.
  • Nou is die tyd om op te hou rook.
  • As jy kroniese medikasie gebruik, neem dit soos voorgeskryf.
  • As jy siek word, kontak jou dokter vroegtydig.
  • Vermy mense wat reeds siek is.
  • Hou by die reëls van inperking soos dit aangepas word.
Meer oor:  Gesondheid  |  Koronavirrus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.