Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mans, kyk na jul gesondheid om dié kwale en kankers te voorkom

In November word daar gefokus op manskankers en algemene gesondheid onder die Adamsgeslag. Danielle Daniëls het gaan uitvind watter kankers meer geneig is om onder mans voor te kom.

Maak jou gesondheid ’n prioriteit hierdie November. Laat ook jou snor groei om fondse in te samel vir die Movember-stigting. Foto: ISTOCK

Dr. Ruan Venter van Doctor in Durbanville sê wanneer daar oor mansgesondheid (en veral in die maand van November) gepraat word, is mense geneig om altyd eerste aan die prostaat te dink.

“Die prostaat is ’n belangrike orgaan en prostaatkanker is steeds die algemeenste kanker onder mans in Suid-Afrika, maar as ons kyk na siektes wat ons manne laat sterf, maak prostaatkanker nie eers die top-10 nie.”

Volgens hom is dit die volgende kwale wat mans se lewens verkort:

  • Hartvatsiekte. Wêreldwyd bly hartvatsiekte die belangrikste oorsaak van sterftes onder mans. Die tragedie is dat baie van die gevalle verhoed kon word as vroeë diagnose in plek was.
  • Suikersiekte. Diabetes mellitus se getalle is aan die styg ten spyte van verbeterings in medikasie en behandelingstrategieë. Dié kommerwekkende statistiek veroorsaak ook dat hierdie kroniese siekte nou die tweede plek beklee onder Suid-Afrika se sterftesyfers.
  • Ander kankers. Long- en kolonkanker knip baie meer manne se lewens kort.
  • Psigiese gesondheid. Hierdie groep toestande is baie meer algemeen as wat mense wil erken, maar daar is steeds ’n stigma wat daaraan kleef, wat diagnose en behandeling vertraag.

Dr. Venter sê mans kan aan die volgende werk vir beter gesondheid:

  • Raak ontslae van die boep. Kry ’n maatband en meet jou middellyfomtrek (rondom jou naeltjie). As jy meer as 94 cm meet, moet die gevaarligte begin flikker, maar as jy oor 102 cm meet, val jy in die vetsuggroep en is jy amper gewaarborg om iewers een van die boonste toestande te ontwikkel.
  • Oefening. Dertig minute matige oefening wat darem jou hart vinniger laat klop en jou effens laat sweet. Doen dit ten minste vyf keer ’n week.
  • Eet gesond. Dis nou al herhaaldelik bewys dat ’n dieet wat ’n verskeidenheid vars groente, vrugte en plantvette insluit, gesonder vir jou is.

Movember-stigting

Die Movember-stigting is die toonaangewende wêreldwye liefdadigheidsorganisasie vir mans, en finansier meer as 1 250 projekte in 21 lande wêreldwyd – gefokus op mans se gesondheidsinisiatiewe soos prostaat- en testikulêre kanker, psigiese gesondheid en selfdoodvoorkoming.

Aan die begin van November word alle mans aangemoedig om hul snorre te groei en deel te neem aan die beweging, om sodoende geld in te samel vir die Movember-stigting en ander mans wat dit nodig het, te kan help.

Vir meer oor die Movember-stigting en indien jy wil deelneem om fondse in te samel, besoek gerus www.za.movember.com.

Mans is minder geneig om na hul gesondheid om te sien as vroue. Daarom word daar in November op mansgesondheid klem gelê sodat hulle die erns van die saak kan besef.

Topdrie-manskankers

Dr. John Duminy, ’n onkoloog in Hermanus, sê hierdie is die drie algemeenste kankers waarmee mans gediagnoseer word:

  • Prostaatkanker: Die risiko om prostaatkanker te kry verhoog met ouderdom. By mans ouer as 80 jaar is dit baie algemeen en by mans onder 40 jaar weer baie skaars. Die prostaatkanker wat by mans ouer as 80 jaar gediagnoseer word, is oor die algemeen minder lewensbedreigend as dié onder jonger mans. Die meeste prostaatkankers word by mans van 65 jaar en ouer gediagnoseer.
  • Longkanker: Rook is die hoofoorsaak van longkanker. Om op te hou met die gewoonte of beter nog, om nooit te begin rook nie, is die heel beste manier om jou risiko te verlaag. Om nooit te rook nie verlaag nie jou risiko na nul nie, maar dit is wel so dat die oorgrote meerderheid van longkankerpasiënte primêre of sekondêre rook ingeasem het. Sekere chemiese stowwe, asbes en radon-gas (in myne gevind) saam met rook is bewys om die risiko verder te verhoog. Moenie dink e-sigarette is so onskuldig as wat die bemarkers en verspreiders dit wil voorgee om te wees nie!
  • Kolorektumkanker: Hierdie tipe kanker is ook baie algemeen en is voorkombaar indien behoorlike siftingstoetse gedoen word. Tog bly dit een van die hoofoorsake van kankersterftes, aangesien dit dikwels eers later simptome en tekens toon. Die ideaal is dat die siekte deur middel van kolonoskopie reeds in die poliepstadium opgespoor word. Deur op te hou rook, rooivleis- en alkoholinname te beperk, verwerkte vleis te vermy, gereeld te oefen en jou gewig in toom te hou, kan jy jou deel doen om jou risiko te verminder.

Voorkomende toetse

Volgens dr. Duminy is hierdie die verskeie voorkomende toetse vir bogenoemde kankers:

  • Prostaatkanker word deur siftingstoetse vroeg opgespoor, maar die toetse is nie onfeilbaar nie. Dit word aanbeveel dat jy op ’n vroeër ouderdom met siftingstoetse begin indien jou pa of broer met prostaatkanker gediagnoseer is, of as jy genetiese toetsing ondergaan het wat aandui dat jy ’n genetiese mutasie het. Indien jy in bogenoemde kategorie val, behoort jy jou toetse te begin doen 10 jaar voor jou nabye familielid met prostaatkanker gediagnoseer is, byvoorbeeld op 35 jaar indien jou pa op 45 jaar gediagnoseer is. Indien jy nie in dié kategorie val nie, behoort jy ’n basislyn-PSA-bloedtoets en ’n digitale rektale ondersoek te ondergaan op 45-jarige ouderdom. PSA-toetse word oor die algemeen nie bo die ouderdom van 75 jaar aanbeveel nie, behalwe as jy baie gesond is en ’n lewensverwagting van 10 jaar of meer het.
  • Longkanker. Siftingstoetse is beskikbaar vir sekere persone wat 55 tot 79 jaar oud is en in die vorige 15 jaar gerook het en met meer as 30 pakjare agter die rug (een pakjaar is 20 sigarette per dag vir een jaar, 40 sigarette per dag vir een jaar is twee pakjare). Die beste toets daarvoor is lae dosis RT-skandering wat deur die radioloë gedoen word.
  • Kolorektumkanker . Basislyn-kolonoskopie word op 50-jarige ouderdom gedoen, maar mense wat hoërisiko is (eersterangse familielede met kolorektumkanker) moet dit nie later as 45-jarige ouderdom of 10 jaar vroeër as die indeksgeval ondergaan nie.

“Aangesien dit algemeen aanvaar word dat kanker makliker geneesbaar is as dit in die vroeë stadium van die siekte gediagnoseer en behandel word, is dit voor die hand liggend dat ’n vroeë diagnose beter is,” gee dr. Duminy raad.

Meer oor:  Gesondheid  |  Mansgesondheid  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.