Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mans: Skoonheid is nie net vir vroue nie

Net soos vroue, is baie mans ook lief vir mooimaak- en pamperlang-sessies. Daar is gelukkig verskeie opsies beskikbaar vir die manne. Tasneem van Rooyen het meer hieroor gaan uitvind.

Besoek gerus jou naaste salon en gaan vind uit watter skoonheidsopsies daar vir jou is. Foto: iSTOCK

As jy aan skoonheid en mooimaak-sessies dink, klink dit onmiddellik na iets wat eintlik meer vir die skoner geslag bedoel is.

Dit is egter net so belangrik vir die manne om goed te lyk en voel.

Eric Way Lovemore, eienaar van Groomed Men The Salon in Somerset-Wes, sê dat jy beter na iets sal omsien as jy daarvoor lief is, of dit nou iets materialisties is of jou voorkoms is.

“Mans doen beslis deesdae meer moeite om hulself beter te laat lyk en voel. Oor die algemeen besoek alle soorte mans ons salon.”

Volgens Gary Josephus van Sorbet Men, het skoonheidsopsies vir mans oor die jare toegeneem en is daar tans ’n verskeidenheid beskikbaar.

“Dit is belangrik om te fokus op die skoonheid van mans. Ons is wel gelykstaande aan vroue, maar as dit by skoonheid kom, was ons maar altyd in die agtergrond,” sê Gary.

Skoonheid kan in enige vorm kom, na gelang van jou behoeftes. Maak dus seker dat jy goed na jouself omsien.

Skoonheidsopsies vir mans

Volgens Eric is daar verskeie opsies beskikbaar, insluitend:

  • Haarsny
  • Baardskeer met warm handdoek
  • Haarkleur
  • Massering
  • Gesigsbehandeling
  • Waks
  • Manikuur en pedikuur
  • Tandverbleiking
  • Intelligente haartegnologie

Baarde in November

November is deesdae die maand van baarde en snorre vir mans, dus is die versorging van baarde ook meer in die kollig.

“Gesighare is ’n faktor wat onderskeid tref tussen mans van seuns,” meen Eric.

Hy meen ook dat die versorging van baarde ’n kuns is.

“Dit verg uithouvermoë, geduld en kennis om te verseker dat elke man wat die salon verlaat, op sy beste lyk.”

Baarde word ook met die beste produkte gepamperlang tot dit op sy beste lyk.

Volgens Eric kan baarde vergelyk word met haarstyle van vroue.

“Net soos vroue van kleins af geleer het watter tipe haarstyle by hul gesigte pas, moet mans ook dieselfde doen as dit by baarde kom.

“Om ’n baard te kies, begin dus by jou gesigvorm,” sê hy.

Só kies jy die perfekte baard vir jou gesig:

  • Ronder gesigte: Vir dié tipe gesig is dit belangrik om hare teen die kante van die gesig te hou om ’n dunner gesigvorm te skep. Die baard moet langer wees op die ken, dit sal die illusie skep van ’n langer gesigvorm en nie ’n wyer een nie.
  • Blokvormige gesigte: Vir mans met dié gesigvorm is ’n baard wat oral op die gesig is ideaal, met netjies rante op die wange en onder die kakebeen.
  • Lang gesigte: Vir dié gesigvorm is ’n kort gesnyde, vol baard ideaal, met slegs netjiese rante onder die kakebeen wat skoon geskeer is.

Dit is egter belangrik om te onthou dat hierdie voorstelle slegs as leiding moet dien, meen Eric. “Dit is steeds belangrik dat jy vol selfvertroue voel oor jou baard en dat dit jou persoonlikheid weerspieël.

“Baarde moet ook soos jou hare hanteer word. Was dit gereeld, asook die vel onder die baard.”

Hy sê dat baarde wel velprobleme kan wegsteek, maar dit gaan nie die probleem laat verdwyn nie.

Eric stel voor dat jy ’n goeie sjampoe en opknapper gebruik wat sulfaat-vry is.

Dit is ook belangrik om jou baard elke keer te was as jy stort.

Belangrikheid van skoonheid

Skoonheid vir mans verdien meer aandag sodat wanopvattings daaroor reggestel kan word, meen Gary Josephus van Sorbet Men.

Hy reken die grootste wanopvatting is die feit dat skoonheid vir mans nie as iets vir die “gewone man” beskou word nie.

“Soos die jare aanstap, is dit goed om te sien dat sommige mans se siening oor skoonheid verander. Baie wat eens teen dit gekant was, het ook nou bygekom oor versorging.”

Hy sê dat skoonheidsbehoeftes van persoon tot persoon verskil en selfs mans in korporatiewe afdelings besoek nou gereeld salonne.

“Hierdie soort versorging is ook belangrik omdat dit bydra tot persoonlike higiëne.”

Meer oor:  Gesondheid  |  Mansgesondheid  |  Mansskoonheid  |  Mans  |  Skoonheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.