Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mense met diabetes ontwikkel makliker oogsiektes

Pasiënte wat met diabetes gediagnoseer is, loop ’n groot gevaar om oogsiektes te ontwikkel. Danielle Daniëls het meer gaan uitvind oor moontlike oogprobleme.

Laserbehandeling is een van die prosedures wat diabete vir oogsiektes ontvang. Foto: iStock

Hoewel enige mens oogsiektes kan ontwikkel, is die kanse groter as jy ’n diabeet is.

Volgens Claudette Medefindt van Retina SA, lê die retina agter in die oog en skakel die fotone van lig met neurale seine wat die brein deur die optiese senuwee stuur. “Die visuele korteks interpreteer dan die seine in visuele prente. Geheue speel ’n belangrike rol in hierdie interpretasie en berging van visuele beelde. Die retina het verskeie lae en is baie kompleks, met elke laag wat noodsaaklik is vir hierdie wonderwerk van visie. Skade aan enige van hierdie lae sal visieverlies veroorsaak.”

Ouderdomsverwante makulêre degenerasie (AMD), die opbou van afvalmateriaal in die heel agterste laag van die retina, veroorsaak sigverlies in ouer mense.

Dr. Frikkie Hartog, ’n oftalmoloog in Bellville, sê diabetes is ’n groot oorsaak van retinale aantasting, en dat beide die makula en die perifere retina daardeur aangetas word. “Die risikofaktore is hoofsaaklik die duur van diabetiese behandeling en die kontrole van glukose-vlakke. Diabetes lei tot swelling van die makula in sommige pasiënte. Die perifere retina kan ook aangetas word deur bloeding, lekkasie en retinale loslating. Diabete moet ten minste een keer per jaar ondersoek word om enige patologie te identifiseer en so spoedig moontlik te behandel.”

Oogprobleme in diabete kom grootliks voor as gevolg van ’n chroniese suurstoftekort in hul oë. Dit word veroorsaak deur abnormaliteite van die klein bloedvaatjies in hul oë wat tot gevolg het dat die bloedvaatjies toegaan of begin lek.

Volgens dr. Hartog veroorsaak diabetes skade aan die klein bloedvate agter op die retina (sienvlies) van jou oog.

“Die afsluiting van die bloedtoevoer lei daartoe dat die retina se voorsiening van suurstof afgesluit word en die aangetaste dele versmoor.

“Aan die ander kant verswak die bloedvate se wande ook in diabetes en lei dit tot lekkasie uit die vate. Vog wat uitlek veroorsaak swelling en proteïene wat uitlek vorm harde eksudaat.”

Die algemeenste verskynsel in diabete is lokale verswakking in die wande van die bloedvate, wat aneurismes genoem word.

Verder vind daar ook bloeding in die verskillende lae van hul retina plaas.

“Die behandeling van diabetiese oogsiektes is slegs nodig indien jou visie bedreig word. Hoewel diabetiese veranderinge dikwels in jou oog gesien kan word, is behandeling nie altyd aangedui nie. Slegs indien jou visie aangetas is of bedreig word deur die diabetiese veranderinge, is behandeling wel aangedui.

“Verskillende soorte behandeling kan toegepas word. Die toediening van medikasie met ’n klein inspuiting het egter die uitkomste van behandeling baie verbeter. Medikasie wat die abnormale bloedvate onderdruk asook steroïed-behandeling word dikwels gebruik, met goeie resultate,” verduidelik dr. Har­tog.

Claudette sê AMD raak 25% van witmense oor die ouderdom van 65. Ongeveer 25 000 Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe word geaffekteer deur oorgeërfde retinale verblindende toestande.

Dr. Hartog voeg by die doel is om probleme vroegtydig te behandel, vóór die pasiënt sy sig begin verloor. “Die behandeling van diabetiese retinopatie sluit laserbehandeling in, sowel as inspuitings, oogdruppels en operasies.”

Volgens Claudette is die behandeling vir retinale siektes beperk tot die beheer van bloeding agter die retina in nat AMD of in diabetiese makulêre edeem.

“Laserbehandeling kan ’n losstaande retina red as dit dadelik gedoen word. Kliniese toetse met behulp van geenvervangingsterapie of stamselle toon ook belowende resultate om fotoreseptors te vervang of degenerasie te stop.”

  • Skakel Retina SA se hulplyn by 086 059 5959 indien jy meer oor die retina wil weet.
Meer oor:  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.