Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Met pret word jy fikser

Kies ’n oefensoort wat jy geniet, voordat jou Nuwejaarsvoorneme in die hek duik, skryf Sofia Nel

Paaldans is deesdae ’n ernstige sportsoort.

Verskeie opnames wêreldwyd het al gewys een van die drie gewildste Nuwejaarsvoornemens, jaar ná jaar, is om meer te oefen.

Maar byna ewe veel opnames wys dat selfs wanneer mense dit nie summier op 2 Januarie “vergeet” nie, hou hulle nie lank by die nuwe plan nie.

En een van die groot redes hoekom dit nie werk nie, is omdat hulle dit eenvoudig nie geniet nie, sê kenners.

Kies eerder iets wat jy geniet, sodat dit nie soos oefening voel nie . . .

Gaan klim

As rotsklim vir jou soos groot pret lyk, maar jy nie elke naweek in die buitelug kan kom nie of nie weet hóé nie, is klimmure die (veiligste) antwoord. Dis ’n fantasties vir jou arms, bene en maagspiere en kan tot 700 kalorieë per uur verbrand.

Die hoogste binnenshuise klimmuur op die vasteland is CityRock in Johannesburg, waar 2 000 m² se muur op jou wag.

Spring

Trampolienspring was groot pret as kind, en nou is dit ’n gier in grootmens-oefenkringe ook. Dis boonop ’n uitstekende oefensessie: In ’n Nasa-studie is bevind tien minute se gespring het meer kardiovaskulêre voordele as 33 minute se draf.

By Bounce Inc. kan jy in Gauteng en KwaZulu-Natal oefenklasse bywoon, op jou eie gaan rondspring, of ’n pretdag saam met die kinders deurbring.

Rol rond

Rolskaats het ná die 1980’s min of meer verdwyn toe inlynskaatse die in-ding word. Maar deesdae is die bordjies verhang. Roller derby is nou die vinnig groeiendste vrouesport ter wêreld, en daar is ligas in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad. Spelers kry punte deur die ander span se skaatsers verby te steek en dit verbrand tot 500 kalorieë per uur.

Slaan iets

Boks is glad nie die arm-oefensessie wat jy dalk dink dit is nie. As jy dit reg doen, gebruik jy byna jou hele liggaam – jou heupe, bene, rug en maagspiere – om daai vuis te gooi. Dis ’n twee-in-een-kardio-en-kragoefensessie wat jou balans, ratsheid en uithouvermoë sal toets en tot 400 kalorieë in 30 minute sal verbrand.

Word warm

As joga vir jou soos ’n vervelige streksessie lyk, het jy nog nie “hotpod”-joga gesien nie. Dit word in ’n opblaasvertrek gedoen (klasse in Johannesburg en Kaapstad) wat tot 37 °C verhit word en deelnemers swoeg en sweet behoorlik.

Die hitte sorg vir ’n intense kardiosessie, maar maak dit ook makliker om al die strekke te doen weens jou warmer spiere. Onthou jou waterbottel!

Dans onderstebo

Paaldans was jare terug ’n “gewaagde” aktiwiteit. Deesdae is dit ’n sportsoort in eie reg wat ongelooflike krag, balans en koördinasie verg. Paaldansateljees het al oor die land heen oopgemaak en daar is verskeie nasionale kompetisies. Jy kan só tot 350 kalorieë in ’n uur verbrand, en gedefinieerde maag- en armspiere bou.

Meer oor:  Oefen  |  Nuwejaarsvoornemens  |  Pret
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.