Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mishandeling kan sielkundige impak op slagoffers hê

Huishoudelike en seksuele geweld teen vroue en kinders bly ’n groot bron van kommer. Mishandeling neem baie vorms aan en dit kan met mans, vroue of kinders in die werkplek, by die skool, huis of in sosiale situasies gebeur. Ten spyte van Suid-Afrika se jaarlikse 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld-veldtog, bly huishoudelike en seksuele geweld ’n groot bron van bekommernis, gegewe die skokkende statistieke. 

Mishandeling het nie net fisies ’n negatiewe impak op vroue nie, maar ook sielkundig. Foto: ISTOCK

Huishoudelike geweld is ’n patroon van beledigende gedrag waar een familielid probeer om beheer oor ’n ander te verkry.

Seksuele mishandeling is weer enige ongewenste seksuele aktiwiteit waar die mishandelaar geweld gebruik, dreigemente maak of misbruik maak van die slagoffer sonder toestemming.

Afgesien van die verskriklike voorkoms van verkragting, is sowat 250 uit elke 100 000 vroue slagoffers van seksuele mishandeling het ’n 2018-verslag deur Statistiek Suid-Afrika, “Misdaad teen Vroue in Suid-Afrika” bekend gemaak. ’n Verrassende bevinding was dat 2,5% van vroue glo mans is geregverdig om vroue te mishandel.

“Die mees algemene soort misbruik is fisiese, seksuele en emosionele (of sielkundige) mishandeling,” sê Hein Hofmeyr, ’n kliniese sielkundige by Akeso Nelspruit. “Minder bekende soort mishandeling sluit in ekonomiese of finansiële mishandeling, paartjie-geweld (dating violence), bekruipery en kuber- of sosiale media-bekruipery.”

Mishandeling in Suid-Afrika

Volgens Hofmeyr word die meeste gevalle van huishoudelike geweld en seksuele mishandeling in Suid-Afrika nie gerapporteer nie en daarom ontbreek gedetailleerde statistieke.

Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) word meer vroue in Suid-Afrika deur hul lewensmaat of voormalige lewensmaat vermoor as in enige ander land ter wêreld.

“Mishandeling onder die hand van intieme lewensmaats is die algemeenste soort geweld, en die hoofoorsaak van sterftes onder Suid-Afrikaanse vroue. Die voorkoms is skokkend hoog: elke agt uur sterf ’n vrou weens mishandeling deur ’n intieme lewensmaat.”

Hofmeyr sê navorsing toon dat 40% van mans berig het dat hulle hul lewensmaat slaan en een uit elke vier het erken dat hulle ’n vrou verkrag het.

Volgens generaal Bheki Cele, minister van polisie, is daar 124 256 sake van verkragtingsgevalle in die afgelope drie jaar gerapporteer.

“Die MNR sê dat slegs 2% van verkragtings gerapporteer word. Daar kan dan met veiligheid aangeneem word dat die aantal verkragtingsake nader aan twee miljoen per jaar is. Wat meer skrikwekkend is, is dat generaal Cele gesê het dat 41% van verkragtingsake wat gerapporteer is, teen kinders gepleeg is. Dit is baie duidelik dat ons desperaat aktivisme benodig om bewustheid te skep oor die behoefte om ’n einde te maak aan vroue- en kindermishandeling.”

Hofmeyr sê een van die redes waarom die getal gevalle van huishoudelike en seksuele mishandeling so hoog is, is die gebrek aan respek vir die gereg.

“Dit is ’n gevolg van Suid-Afrika se geskiedenis en die manier waarop misdaad in die apartheidsera aangespreek is. Ons leef ook in ’n ongelyke samelewing en mense met min hulpbronne word misbruik van gemaak deur oortreders wat glo dat hulle met hul misdade sal wegkom.”

Tammy Epstein, ’n opvoedkundige sielkundige, glo deel van die probleem lê by afwesige vaders of afwesige rolmodelle.

“Wanneer seuns sonder ’n pa of ’n vaderfiguur grootword, is daar ’n gebrek in die gesinseenheid, wat kan lei tot ’n nadelige uitwerking op die sielkundige ontwikkeling van seuns.”

Die sielkundige uitwerking van mishandeling

Daar is geen “regte” manier vir slagoffers om te reageer op mishandeling of daaroor te voel nie, sê Hofmeyr.

“In die begin kan die slagoffer in ontkenning wees. Mense wat mishandel word, ervaar ook verwarring, vrees, hopeloosheid, hulpeloosheid en skaamte.”

Ander sielkundige uitwerkings op ’n slagoffer sluit in:

  • Angs en paniekaanvalle
  • Lae selfbeeld en lae selfvertroue
  • Depressie of depressiewe simptome
  • Selfdoodgedagtes en selfs poging tot selfdood
  • Slaapprobleme soos insomnie of hipersomnie
  • Alkohol- of dwelmmisbruik of verslawing
  • Sosiale onttrekking en isolasie

Tekens van mishandeling

Hofmeyr sê mense wat van die sielkundige uitwerkings van mishandeling ervaar, moet hulle situasie noukeurig oorweeg om te help bepaal of hul verhoudings gesond is of nie. “Vra jouself of jou lewensmaat uiters beherend is. Monitor hulle jou en hou tred van alles wat jy doen. Dring hulle aan om jou foon en sosiale media se wagwoorde te ken? Dring hulle daarop aan dat jy dadelik op hul boodskappe reageer?

“Hierdie is die soort beherende gedrag wat daartoe kan lei dat jou lewensmaat jaloers of kwaad raak. Hulle het dalk ’n vinnige humeur hê en beskuldig van kullery. Hulle kan probeer om te beheer hoe jy jou geld bestee, hoe jy jou medikasie gebruik of voorbehoedmiddels gebruik, en hulle maak dalk die meeste of al jou besluite vir jou.”

Hofmeyr sê fisiese tekens van mishandeling kan ook insluit om jou fisies seer te maak of dreig om jou, jou geliefdes of hulself seer te maak wanneer jy hulle ontstel of probeer om op te staan teen hulle.

Seksuele mishandeling kan deur ’n vreemdeling of deur jou intieme maat gepleeg word. Dit sluit enige persoon in wat jou probeer dwing om seks of ander seksuele of intieme aktiwiteite te hê.

Soek hulp in mishandelende situasies

Om die besluit te neem om ’n verhouding te verlaat waar jy mishandel word, is dikwels die moeilikste deel. Slagoffers voel verward, skuldig of blameer hulself, en isoleer of onttrek hulle van hul ondersteuningsnetwerk.

“Jy sal selfs glo dat jou lewensmaat sal verander of hulle mag dalk belowe dat hulle hulp sal soek vir hul gedrag,

“As die mishandeling herhalend is en jou mishandelaar of lewensmaat het nie hul gedrag verander nie, moet jou veiligheid die enigste ding wees wat vir jou saakmaak,” sê Hofmeyr.

Hy beklemtoon dat dit belangrik is om te onthou dat jy op geen manier verkwalik moet word nie. Almal verdien om veilig en gelukkig te wees, en met respek behandel te word. Daar is mense wat bereid is om jou te help.

  • Inligting verskaf deur Akeso Clinics.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.