Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Moenie gou moed verloor oor jou nuwe leefstyl nie

Deursettingsvermoë, veral wanneer dit kom by ’n gesonder leefstyl, is moeilik. Danielle Daniëls het gaan uitvind hoe jy dit kan handhaaf.

Dis heeltemal te gou om nou al moed op te gee op jou nuwe leefstyl. Deur goed te voel oor jouself, vier jy elke mylpaal wat jy bereik. Foto: iStock

Waarom jy moet voortgaan met jou nuwe, gesonder leefstyl

Dit is die tweede maand van die jaar en ’n bietjie te vroeg om nou al op te hou met jou goeie eetgewoontes en leefstyl.

Des Christie, Herbalife Wellness-afrigter, sê daar is ’n rede waarom jy die keuse gemaak het en begin het – vind weer hierdie rede en doen dit vir jouself. “Mense wat weet waarom hulle ’n spesifieke ding doen, is gelukkiger en gesonder, plus dit is volhoubaar.”

Volgens Carina Brits, ’n gesondheidspraktisyn van EWC MediWellness Centre, kan ’n gesonde leefstyl jou in die korttermyn help om gewig te verloor, maar om daarmee voort te gaan, kan egter soveel meer gesondheidsvoordele inhou, wat ’n lewenslange impak op jou lewe gaan hê:

  • Jy vergroot jou kanse op ’n langer lewe met ’n sterker immuunstelsel en meer energie om die dinge te doen waarvoor jy lief is.
  • As jy van binne gesond is, sal dit na buite wys. Om van binne en buite goed te voel oor jouself is die sleutel tot ’n meer vervulde lewe in verskeie aspekte.
  • As jy gesond en fiks voel, sal jy dinge met baie meer selfvertroue kan aanpak en doen, selfs by jou werk.
  • Jy gaan heel waarskynlik jonger lyk en voel! Om ongesonde kos permanent te elimineer, aktief te wees en genoeg te slaap, sal jou jare jonger laat voel as wat jy werklik is.
  • As jy ’n gesonde leefstyl handhaaf, is jy ’n goeie rolmodel vir jou kinders of kleinkinders.

Goeie wenke wat jou op koers sal hou

Des deel hierdie wenke wat jy kan toepas om jou goeie leefstyl te behou:

  • Weet wat jy doen.
  • Weet waarom jy dit doen.
  • Begin klein en gee jou alles. Bereik jy meer in ’n vasgestelde tyd as wat jy gedink het, is dit ’n bonus!
  • Bederf jouself wanneer jy suksesvol is, jy verdien dit.
  • Bly gemaklik met wat jy doen, dit is nie ’n straf nie.
  • Jy bly mens. Een keer se uithaak is nie die einde nie.

Carina meen jy kan die volgende doen vir ’n gesonde leefstyl:

  • Sorg dat jy ’n plan in plek het wat jy as gids kan gebruik vir die nuwe reis wat jy onderneem het.
  • Bevestig elke oggend hoekom jy op hierdie reis is. Klop jouself op die skouer vir die gedrag wat jy verander het en ook die resultate as gevolg daarvan. Bou voort op hoe goed jy daaroor voel.
  • Begin altyd klein. Al het jy baie om te verander, begin stadig. Elke klein gewoonte wat jy suksesvol verander en kan volhou, gaan jou selfvertroue gee om ’n nuwe en beter een aan te pak.
  • Dit help as jy iemand het (’n vriendin of familielid) wat saam met jou hul gewoontes wil verander. So kan julle saam suksesse vier en mekaar motiveer om uitdagings te oorkom.
  • Kry ondersteuning. Identifiseer wat jy nodig het, byvoorbeeld ’n dokter wat holisties na jou gesondheid kyk, ’n voedselkundige wat jou gewig kan help monitor, ’n persoonlike afrigter of dalk ’n lewensafrigter wat jou kan help met die proses om jou gedrag te verander.
  • Indien jy vasgevang voel met net te veel emosionele probleme wat jou telkemale pootjie om jou leefstyl te verander, oorweeg dit om ’n terapeut te spreek wat jou eers kan help om jou balans te herwin, sodat jy op ’n beter plek is om van daar af vorentoe te kan beweeg.

Voel só vinniger en vir langer gesond

“Maak seker jy eet daagliks van al die voedselgroepe – jou liggaam het dit nodig,” sê Des. “Kry genoeg vesel in – dit hou jou langer versadig, wat beteken jy gaan nie kort-kort wil peusel nie. Drink ’n glas water ten minste elke 40 minute. Probeer ’n goeie vitamienaanvulling gebruik, en oorweeg ook ’n middel soos aalwyn vir spysverteringsgesondheid.”

Des sê wat oefen betref, selfs 15 minute per dag is genoeg.

“Ten minste vier keer ’n week, of as jy regtig ’n groot doelwit het, 30 minute drie tot vier keer ’n week. Basiese oefeninge – solank jy net jou liggaam gebruik.”

Behandelings wat jou sal laat beter voel en lyk

Die Ozone-behandeling gee jou ’n gesonder blink vel. Foto: iStock

Volgens Carina sal die volgende behandelings jou beter laat voel tydens hierdie proses.

  • Help jou liggaam om van gifstowwe ontslae te raak met Ozone- stoomsauna-terapiesessies. Word terselfdertyd beloon met ’n gesonde blink vel.
  • Stimuleer jou sirkulasie en verbeter limfdreinering met volliggaam-endermologie-masserings. Dié behandelings laat jou goed ontspan, help om sentimeters te verloor en verminder selluliet.
  • Bederf jouself met afskilferings- of mikronaaldgesigsbehandelings om jou veltekstuur en plooitjies te verfyn en jou ’n gesonde, gloeiende gelaat te gee.
Meer oor:  Leefstyl  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.