Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker deel 2: ’n Nuwe bors in 9 uur
Netwerk24 was by toe ’n vrou ’n mastektomie en borsrekonstruksie ondergaan het deur ’n weefseloorplanting van haar eie vet en bloedtoevoer.

Dr. Conrad Pienaar en dr. Clare Neser, albei plastiese en rekonstrukiewe chirurge (links) besig met die operasie op Cecelia Jacobs. Dr. Britta Dedekind, borschirurg, en dr. Shalin Singh is regs. Al vier werk gelyktydig aan die mastektomie en die begin van die borsrekonstruksie-operasie by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad. Foto: Elsabé Brits

Die Maandagoggend om 08:30 staan vyf spesialiste en verskeie susters gereed om na Cecelia Jacobs, borskankerpasiënt, om te sien.

Uiteindelik sal die laaste van hulle eers om 17:30 uit die operasieteater by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad stap. Ek ook.

Vroeër jare het vroue wat ’n mastektomie gekry het, uiteindelik gesit met ’n plat bors en spiere wat so weggesny is dat hulle gesukkel het om hul arms op te lig.

Dit is nie vandag meer so nie. Vandag is daar soveel meer hoop.

Die 50-jarige Jacobs van Kaapstad is onlangs met fase 2-borskanker in haar linkerbors gediagnoseer. Sy sal ná die mastektomie wakker word met ’n nuwe bors, kunstig gevorm uit haar eie abdominale vet.

Die egpaar dr. Clare Neser en dr. Conrad Pienaar is albei plastiese en rekonstruktiewe chirurge. Hulle word bygestaan deur dr. Britta Dedekind, ’n borschirurg, wat die mastektomie sal doen, en sy word bygestaan deur dr. Shalin Singh. Die narkotiseur is dr. Natasha Plaatjes. 

Die operasie is ’n langer en meer komplekse prosedure wat mikrosnykunde vereis, as die inplanting van ’n silikonbors, wat ná tien of 15 jaar vervang moet word.

Die prosedure, wat vel en spier behou, verg kundigheid en kan beskryf word as ’n weefseloorplanting van een plek van jou eie lyf na ’n ander. (Dit staan bekend as “Deep Inferior Epigastric Artery Perforator Flap”, of “Diep Flap”.)

Die operasie begin om 09:00 toe Dedekind en Singh begin met die mastektomie van die linkerbors. Oorkant hulle begin Neser om die regterbors te verklein en te lig.

Langs haar maak Pienaar ’n lang snit oor die laer abdomen.

Vier chirurge werk gelyk aan een pasiënt.

Neser verduidelik omdat ’n nuwe linkerbors later die middag opgebou gaan word, sou hulle ter wille van eweredigheid in elk geval die ander bors moes oplig. Omdat Jacobs ’n kleiner borsgrootte wou hê, kan hulle dít netsowel doen.

Voor die operasie is ’n radio-aktiewe middel ingespuit wat na die limfkliere dreineer. Die doel is om die limfkliere naaste aan die borskanker te vind omdat die dokters dit wil uithaal: Dit is die brandwag-limfklier, asook die daaropvolgende drie of vier, genoem die esjelon-limfkliere.

As die kanker versprei het, is die kanse baie goed dat dit daar sal sit.

Dedekind gebruik ’n radioaktiewe taster om na dié limfkliere te soek sodat sy hulle uit die borsweefsel kan haal. Die taster piep en gee ’n lesing. Die limfkliere met die hoogste lesing word uitgehaal.

Carol van der Velde, sitotegnoloog van Lancet Laboratories, staan in die teater gereed om dit te ontvang.

Terwyl die operasie voortgaan, ondersoek Carol van der Velde, sitotegnoloog van Lancet Laboratories ’n paar treë verder die vier limfkliere wat uit Jacobs se bors verwyder is om te sien of die kanker versprei het. Indien wel, sal die chirurge nog limfkliere verwyder. Foto: Elsabé Brits

Van der Velde werk ’n paar meter van die teater sodat sy dit daar en dan kan toets. Sy sny vinnig die vier limfkliere op en berei skyfies vir ontleding voor. As dit positief is, wil die dokters nog limfkliere uithaal, maar intussen gaan hulle voort met die mastektomie.

Terwyl sy deur die limfkliere sny, voel Van der Velde daaraan. “Dit moet nie hard wees nie. Die eerste esjelon-limfklier voel nie reg nie, dit is te hard,” sê sy.

“Ek is baie, baie versigtig vir dié selle,” sê sy, terwyl sy my deur die mikroskoop laat kyk. Daar is minimale verskille tussen dié skyfie en die ander skyfies. Maar tog.

Sy wys hoe die limfklier wat sy vermoed het kanker gehad het, wel onder die mikroskoop positief bevestig is. Dit lyk of daar groepies selle saamkoek, maar die verskil is bitter klein.

Binne 40 minute het Van der Velde die vier limfkliere opgesny en skyfies voorberei om dit onder die mikroskoop te bekyk. Foto: Elsabé Brits

Sy kyk weer, en weer en weer. “Uiteindelik moet ek myself oortuig,” sê Van der Velde. Die hele proses het 40 minute geduur.

Sy loop terug teater toe om die nuus aan die dokters te gee: Een van die vier limfkliere het kanker.

Die mastektomie is pas klaar. Die borsweefsel wat verwyder is, weeg 1,2 kg. Die vel – sonder die areola en tepel – is behou.

Pienaar verduidelik die areola en tepel word verwyder omdat kanker dikwels eerste in die melkbuise ontstaan. Tussen ses en nege maande later kan hulle ’n tepel skep met ’n klein prosedure en die areola wat nou van die abdomenvel gemaak sal word, kan getatoeëer word deur ’n kosmetiese kenner sodat dit ’n natuurlike kleur het.

Dedekind haal nog 14 limfkliere uit nadat sy die nuus van Van der Velde ontvang het.

’n Mens moet versigtig wees om nie te veel uit te haal nie, anders kan die limf nie dreineer nie.

Intussen het Neser die regterbors verklein en Pienaar het ver gevorder om ’n groot stuk van die vel en abdominale vet los te sny. Hy het reeds die area gemerk op die abdomen waar die nuwe areola uitgesny sal word.

Hoe het die twee snydokters ontmoet? “Oor ’n septiese drukwond. Clare was vyfde jaar medies en ek was besig om te spesialiseer,” sê Pienaar.

Dit is lekker om saam te werk, anders “sal ons mekaar nooit sien nie”. Die lekkerste van dié werk is dat daar elke dag iets anders is om te doen.

Ons kan mekaar vertrou. Die een weet wat die ander een doen tydens ’n operasie.
Dr. Neser

“Ons kan mekaar vertrou. Die een weet wat die ander een doen tydens ’n operasie,” sê Neser. ’n Mens kan dit sien, hulle werk saam soos vier hande wat een brein het.

“Dit is iemand wat verstaan wat jy bedoel, wat moeilike tye kan deel,” sê Pienaar. “Ja, ’n spansport,” sê Neser.

Dr. Clare Neser en dr. Conrad Pienaar, plastiese en rekonstruktiewe chirurge, het ná Jacobs se mastektomie op dieselfde dag vir haar ’n nuwe bors gebou met ’n weefseloorplanting uit haar abdomen. Foto: Elsabé Brits

Uiteindelik het Pienaar ná ure se fyn sny ’n groot stuk abdominale vet, soos ’n groot driehoek, met die kritieke aar en slagaar daarby, en ’n klein stukkie spier blootgelê. Dit is 20 cm by 15 cm groot en strek dwarsoor die abdomen.

Neser het in dieselfde tyd, ook met mikrochirurgie, die interne torakale aar en -slagaar in die borskas blootgelê. Baie versigtig. Dit is 1 mm tot 2 mm in deursnee.

Sy verduidelik dat ’n mens nie bloot vet kan neem en oorplant nie, dit sal ’n “dooie” bors skep. Die vet (van die abdomen) en die gepaardgaande aar en slagaar moet gekoppel word aan ’n aar en slagaar in die bors.

Dit is eintlik ’n weefseloorplanting wat fyn snykunde vereis.

As ’n vrou nie genoeg vet in die abdomen het nie, kan dit uit die binnebeen of boud geneem word. Soms is dit dus voordelig om ’n boepie te hê.

’n Mens kan duidelik die blou aar en pienk slagaar in die bors sien lê nadat ’n klein stukkie ribbebeen verwyder is sodat daar meer spasie is om te werk.

Pienaar sny die abdominale vel los van die vet (met sy bloedtoevoer).

Hulle weeg die flap wat nou gereed is vir rekonstruksie en sny oortollige vet weg. Dit moet ooreenstem met die grootte van die regterbors.

Die weefsel word oorgeplaas en die rekonstruksie begin. Met ’n skaars sigbare klein naald en gare so dun soos ’n haar, heg Neser die slagaar. Pynlik presies.

Dit is ’n kritieke deel van die operasie. Pienaar help kyk, soos ’n gids.

Die slagaar word met ’n koppelaar – ’n instrument – geheg.

Sodra dit gedoen is, bloei die nuwe borsweefsel. Klein straaltjies bloed loop uit die abdominale vet wat op die linkerborskas lê. Hulle stop dit gou, maar dit is ’n goeie teken. Dit leef.

'n Grafiese voorstelling van hoe die borsrekonstruksie gedoen is. (Grafika: Cobus Prinsloo, Grafika24)

Intussen verduidelik Plaatjes meer oor narkose. Jacobs is nou al sewe uur lank in die teater. Narkose is ’n omkeerbare toestand van bewusteloosheid, en daar word gesorg dat ’n mens geheueverlies het, verduidelik sy.

Deesdae kyk hulle ook na die pasiënt se breingolwe en ’n toestel korreleer dit. Sodra dit bó ’n sekere syfer is, gaan ’n alarm af om te waarsku dat die pasiënt moontlik bewussyn herwin.

Pienaar verwyder nou ’n mooi ronde stukkie vel uit die abdomen om oor te plant presies in die area waar Jacobs se areola verwyder is. Hy vorm ook die oorgeplante weefsel sodat dit soos ’n bors lyk. Hy doen dit sorgvuldig sodat dit so na as moontlik soos die regterbors lyk.

Dan is dit tyd vir toewerk, maar die prosedure is nog nie heeltemal verby nie.

’n Fluoresserende middel word ingespuit en die teater word donker gemaak. Nou kan die dokters met ’n infrarooi-kamera sien hoe goed die nuwe bors se bloedtoevoer is. Dit is perfek.

Om seker te maak Jacobs se abdomen is nie verswak nie, of haar maag bult nie uit nie, werk hulle ’n strook maas vas. Dit versterk die abdomen, wat nou toegewerk word. Maar eers word lokale verdowing ingespuit om pyn te beheer.

Jacobs se naeltjie het ook geskuif omdat sy as’t ware ’n maagverkleiningsoperasie gehad het. Die groot deel vet wat aan die een kant verwyder is vir die weefseloorplanting moes aan die ander kant ook verwyder word, vir balans.

Dr. Conrad Pienaar en dr. Clare Neser, plastiese en rekonstruktiewe chirurge verbonde aan die Netcare Christaan Barnard-gedenkhospitaal, is getroud. Tydens die operasie van nege uur het hulle elkeen net een keer ’n breuk geneem, maar nie tegelyke tyd nie. Foto: Elsabé Brits

Daar is geen doel vir ’n naeltjie nadat jy gebore is nie, maar dit sou baie vreemd wees sonder een. ’n Nuwe gaatjie word in die abdomen gesny en Pienaar trek die naeltjie deur en werk dit vas.

Om pyn te beheer sit hulle ’n klein kateter in die wond, waardeur pynmedikasie ingespuit kan word. Die wonde word verbind.

Dit is 17:30 toe almal daar uitstap en Jacobs na die hoësorgeenheid geneem word.

Dit is waar dat sy ’n lang sny laag oor haar maag het. Daar is ’n sny aan haar regterbors waar dit verklein is. Maar sy het werklik ’n pragtige nuwe linkerbors. Dit is baie mooier herbou as wat ek verwag het.

Die littekens sal kwyn, maar belangriker – die operasie is gedoen soos wat Jacobs dit wou gehad het.

En môre wanneer sy wakker word, begin haar nuwe seisoen.

ALGEMENE CHIRURGIESE OPSIES

Dr. Conrad Pienaar sê op grond van die diagnose en fase van kanker word daar besluit op:

  • ’n Lumpektomie: ’n Deel van die borsweefsel word verwyder en dan volg verdere behandeling, soos radioterapie.
  • ’n Mastektomie waar die borsvel behou word en rekonstruksie op dieselfde dag gedoen word, ook met verdere behandeling.
  • ’n Mastektomie sonder rekonstruksie met eers ander behandeling. Die rekonstruksie word dan eers vyf jaar later gedoen. Om die vel te rek ná dié lang tydperk, word ’n weefsel-uitdyer ingeplant wat stelselmatig vergroot word.


* Lees volgende meer oor Cecelia Jacobs se verhaal; die genetika van borskanker; die behandelingsopsies en hoe jy jou risiko kan verlaag.

Lees aflewering 1: BORSKANKER: 'DIT GEBEUR MET VROUE SOOS EK EN JY'

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier