Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
O, vet!
Dis ouers se verantwoordelikheid om gesonde eetgewoontes by hul kinders te vestig en daardeur kan jy later baie emosionele en fisieke probleme by hulle voorkom, skryf Terésa Coetzee. 

Help kinders om gesond te kies.

Sowat een uit elke tien kinders is vetsugtig en Suid-Afrikaanse kinders spesifiek is meer onaktief as ooit tevore.

En boonop word volwasse siektes soos hartsiektes en diabetes ál meer by hulle gediagnoseer, lui ’n onlangse mediaverklaring van Virgin Active.

Dis omdat sport nie meer verplig word op skoolvlak nie en kinders al hoe meer tyd voor die televisie, rekenaars en ander tegnologie deurbring, wys navorsing. Die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum staan immers net ’n uur per week aan liggaamlike opvoeding af.

Dís waarom dr. Eileen Africa en Catherin Lacey van die program vir kinderkinetika in die departement sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch vir Virgin Active spesiale kinderaktiwiteite ontwikkel het. Dis prettige oefeninge en hulle hoop die kinders leer ’n liefde vir fisieke aktiwiteit aan wat tot in volwassenheid sal strek.

Aardjie na sy vaartjie

Prof. Branislav Antala van die Comenius-Universiteit in Slowakye sê 10% van alle kinders in die wêreld is vetsugtig. En dis waarskynlik jóú skuld . . .

Die kans is baie groot dat as jy ’n vet ouer is, jou kinders ook oorgewig gaan wees. Kinders is hul ouers se volgelinge en as julle gedurig gemorskos eet, aan lekkergoed peusel en net voor die TV sit, gaan kinders die voorbeeld volg.

Deur jou kinders vroeg al gesonde eetgewoontes te leer en hulle bewus te maak van die belangrikheid van liggaamlike oefening, help jy hulle om van kleins af die regte houding jeens kos en hul gesondheid te hê. Hulle moet weet dat kos geniet kan word, maar ook dat dit nodig is om gesond te wees en te groei en te ontwikkel. Sonder die regte kos het ons nie genoeg energie om elke dag ons take te voltooi nie.

Ongesonde eetgewoontes, kitskos (wat hoër is in versadigde vette, transvetsure, kleur- en geurmiddels) is al hoe meer algemeen in huishoudings omdat dit maklik en gerieflik is, maar onthou, julle gaan eet wat in die huis beskikbaar is. Leer jou kinders van kleins af die basis vir gesonde eetgewoontes. Maak hulle gewoond daaraan om water te drink wanneer hulle dors is en moenie dat lekkers vrylik beskikbaar wees nie. Eet gesonde, gebalanseerde kos met elke ete.

Aktiewe ouers, aktiewe kinders

Een van die enigste maniere om jou kinders meer aktief te kry, is om self ook meer aktief te raak. Die Parkrun-inisiatief is ’n wonderlike manier om mense aan die beweeg te kry en boonop sommer met jou gemeenskap te sosialiseer. Elke Saterdagoggend om 08:00 vind daar Parkruns oor die hele land plaas en om deel te wees van hierdie 5 km-wedloop is groot pret vir die hele gesin. Jy kan elke week op ’n ander plek aan ’n Park­run gaan deelneem. Hou ook die sosiale media vir ander pretlope dop en raak betrokke. Daar is min dinge soos ’n medalje om ’n klein lopertjie aan te moedig om klaar te maak.

Mag ek my vet kind op ’n dieet sit?

Navorsing het bewys dat kinders se siening van hul liggame en voorkoms direk verband hou met verbale en nieverbale boodskappe wat hulle veral van hul ma’s af kry. Ma’s en maatjies het die grootste invloed op dogters en of hulle gevaarlike metodes sal gebruik om gewig te verloor.

Moet nooit jou kind laat honger ly of kos verminder nie, maar let op wat jy vir hulle gee om te eet. As jou kind oorgewig is, kan jy doelbewus suiker, vet en koolhidrate in julle almal se dieet verminder en jul daaglikse aktiwiteite vermeerder. Moenie jou kind heeltemal van lekkernye ontneem nie, maar leer hom of haar om eerder klein porsies te eet van kos wat nie so gesond is nie.

Voer gesprekke aan die etenstafel oor groente en vrugte wat gesond is, en vertel hulle dat vleis byvoorbeeld baie proteïene bevat wat spiere bou en ’n mens help groei.

Jy kan nie verwag een lid in die gesin moet soetgoed vermy terwyl julle ander steeds in die lekkergoedblik invaar nie.

Dink mooi voordat jy jou eie lyf kritiseer, want die manier hoe jy na jou lyf verwys, gaan die manier beïnvloed hoe jou kind na sy of haar lyfie kyk.

Wenke om gesonde eetgewoontes by kinders te skep:

  • ’n Goeie ontbyt is baie belangrik en leer jou kinders van kleins af om soggens ontbyt te eet, selfs al voel hulle nie honger nie. Dit kan dalk help as julle saam aan tafel sit en iets eet.
  • Pak eerder gesonde happies in ’n kosblik as lekkergoed en kies opsies soos ’n stukkie koue vleis, ’n blokkie kaas, rou groente en vrugte. As jou kind geneig is om lyf aan te sit, kan jy minder brood met smeergoed soos margarien, konfyt en sjokoladesmeer opsit. (My kinders het nooit die appels geëet wat ek vir hulle ingepak het nie, totdat ek die appel in skyfies gesny het. Dieselfde geld lemoene en nartjies.) Rosyntjies en droë vrugte kan af en toe as ’n soet bederfie ingepak word.
  • Laat jou kinders help met die kosmaakproses, soos om die slaaiblare in stukkies te breek of om die komkommer te sny. As hulle groter is kan hulle help roer of meng ook.
  • Eet by ’n tafel en nie voor die televisie nie. Soms is ’n mens so meegevoer met wat op televisie aangaan dat jy skoon vergeet dat jy lankal vol is. (Ons gesin speel al vir jare die speletjie waar elke lid moet vertel van die lekkerste en slegste deel van die dag. Op dié manier kry mens sommer ook handige inligting uit veral seuntjies wat nie altyd ewe entoesiasties is met hul vertellings nie.)
  • Laat jou kinders toe om met hul hande te eet – kinders leer deur hul tas- en reuksintuig.
  • Maak seker etes is gebalanseerd: ’n Gesonde maaltyd bevat stysel, proteïene, die regte suikers en vette en vitamiene. Probeer vyf groentes en vrugte per dag te eet. Wissel die vrugte af wat jy koop en kyk uit vir vrugte in seisoen.
  • Noem kosse wat kinders nie wil eet nie ander name, byvoorbeeld boompies vir broccoli en balletjies vir ertjies. Gee kinders die geleentheid om verskillende kosse te proe, al hou hulle nie dadelik daarvan nie. Sny kosse in interessante vorms.
  • Leer hulle gesonde eetgewoontes deur jou voorbeeld, jy kan nie verwag hulle moet al hul groente eet as jy dit haat nie!
  • Drink water eerder as gaskoeldranke. Verdun vrugtesappe met water en beperk dit tot 125 ml per kind per dag.
  • Leer kinders om stadiger te eet.
  • Beperk suikerinname, maar moenie onrealisties streng wees nie.
  • Soms kan baie voedingstowwe in skommeldrankies (smoothies) verdoesel word. Groente soos beet of ’n broccolitakkie kan slim verskuil word in ’n vrugteskommeldrankie.

Die voedingskundige dr. Hester Visagie van die Mayo-kliniek in Roodepoort gee die volgende wenke:

  • Leer jou kinders dat hulle hulle nooit mag ooreet nie. Moenie jou kind dwing om sy bord leeg te eet nie. As hy nie voor etes peusel nie, sal hy wel honger wees met etenstyd.
  • Eet gereeld, minstens 4 tot 6 keer per dag.
  • Moenie lekkergoed weerhou of ontneem nie. Beperk dit tot naweke en spesiale geleenthede. As jy hulle ontneem, kan hulle hulle later maklik vergryp.
  • Hou voedsel in die rou, natuurlike vorm en vermy ryk, vetterige kos.
  • Beperk kleurstowwe en preserveermiddels.
Meer oor:  Ouers  |  Kinders  |  Gesond  |  Eet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.