Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Omega 3 – hier’s die jongste feite

Anders as wat die internet beloof, is ’n omega 3-kapsule per dag nie ’n wonderkuur nie, skryf Delia du Toit.

1. Noodsaaklik

Omega 3-vetsure is noodsaaklik vir breinfunksionering, groei en ontwikkeling, en help ook inflammasie beheer. Jou liggaam kan dit nie vervaardig nie en jy moet dit dus deur kos inneem. ’n Tekort aan omega 3 is al gekoppel aan hartsiekte, sekere kankers en depressie, maar dit beteken egter nie ’n aanvulling of ’n porsie salm kan siekte verhoed of gesond maak nie?.?.?.

2. Hoeveel het jy nodig?

Lila Bruk, ’n dieetkundige van Johannesburg (lilabruk.co.za), sê:

  •  Die gemiddelde, gesonde mens kort 250-500 mg omega 3-vetsure per dag. Kinders, swanger vroue en mense met depressie of outisme kort moontlik meer, gaan spreek ’n dokter.
  •  Eet minstens twee keer per week vetterige vis.
  • Sommige neute en sade is ook goeie bronne, maar jou liggaam skakel nie die vetsure uit plantbronne so maklik om in die nodige komponente soos dié uit vis nie.
  • ’n Oormaat omega 3 (sowat 3 000 mg per dag) kan newe-effekte soos bloedverdunning veroorsaak.

3. Waarvoor help dit regtig?

Hartsiekte. Ja en nee. Studies het al bewys omega 3-vetsure kan hoë bloeddruk help verlaag en vlakke van "goeie" cholestrol effens verhoog. Maar ander studies wys die uitwerking is nie groot genoeg om jou risiko vir hartsiekte te verminder nie

In ’n grootskaalse studie is ook bevind aanvullings help nie vir hartgesondheid nie – tensy jy byna nooit vis eet nie. Oorweeg dus ’n aanvulling as jy nie van vis hou nie en ’n familiegeskiedenis van hartsiekte het, maar moenie ’n wonderwerk verwag nie.

Kanker. Onduidelik. Die meeste navorsing toon omega 3 verlaag nie jou risiko vir kanker nie. Tog wys ander studies weer bevolkings wat gereeld olierige vis eet, het ’n laer risiko om veral kolon-, bors- en prostaatkanker te kry. Meer navorsing is nodig.

Epilepsie. Dalk. ’n Meta-analise het verlede jaar na nege studies van epilepsie-pasiënte gekyk. Volgens vier het omega 3 die gereeldheid van aanvalle verminder, maar volgens vyf nie. Die vier positiewe studies was egter baie klein. Meer navorsing is nodig.

Outisme. Ja, maar nie vir alle simptome nie. ’n Meta-analise in 2017 het gewys dit verminder hiperaktiwiteit (ook in die geval van aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit­sindroom), lusteloosheid en herhalende aksies, maar help nie vir sosiale probleme en funksionering nie.

Depressie. Ja en nee. ’n Tekort aan omega 3 kan depressie veroorsaak en dan sal ’n aanvulling help, maar waarskynlik nie waar daar ander oorsake is nie, wys ’n meta-analise van studies tot en met 2015. Dis moeilik om die oorsaak van depressie vas te stel.

Artritis en verwante siektes. Ja. ’n Meta-analise van 20 studies wys omega 3 help om die simptome van artritis, osteoartritis, lupus en ander rumatiese probleme te verlig.

4. Watter aanvulling om te koop

Staan jy voor die rak, is daar legio verskillende botteltjies wat omega 3 beloof: kril-olie, nagblomolie, visolie en meer. Rosanne Lombard, ’n dieetkundige van Johannesburg (nutritionalsolutions. co.za), sê dis nie die olie wat belangrik is nie, maar die vetsure. “EPA (eikosapentanoësuur) en DHA (dokosaheksanoësuur) is die belangrikste en voordeligste omega 3-vetsure. Kyk dus op die etiket en sorg dat dit minstens 450-500 mg EPA en DHA bevat.”

Moenie val vir beloftes van ’n omega-balans van 3:6:9 nie.

“Ons diëte bevat reeds oorgenoeg omega 6 en 9. Jy het net omega 3-olie nodig,” sê Rosanne.

Meer oor:  Omega 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.