Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ondersteun só mense wie se geliefdes sterf
Foto ter illustrasie.

Die pandemie ontneem mense nie net fisieke kontak met mekaar nie, maar ook die geleentheid om van geliefdes afskeid te neem en die rouproses af te handel.

So meen Corné van Graan, ’n kliniese sielkundige en dosent aan die Pearsons-instituut vir hoër onderwys in Kaapstad.

“Begrafnisse is meestal die begin van die rouproses, die realiteit van die dood,” sê sy. “In Suid-Afrika beskou die meeste kulture dit as ’n geestelike proses, en mense ontwikkel ontkenning en skuldgevoelens wanneer ’n begrafnis of afskeidsritueel ontbreek.”

Die feit dat baie mense nie die geleentheid kry om hul geliefdes in die hospitaal te besoek of te groet nie, het ’n baie negatiewe impak op individue, meen Van Graan.

“Depressie en angsversteurings neem toe, omdat mense nie die nodige rouproses kan afhandel nie. Enige verhouding is kompleks en indien daar geen kontak was om te groet of dinge reg te stel nie, ontwikkel erge skuldgevoelens en ontkenning.

“Hierdie emosies versper die natuurlike rouproses en gekompliseerde rou ontstaan – die persoon kan emosioneel vasgevang word in hierdie emosies en ontwikkel gevolglik gemoeds- en angsversteurings.”

Hoe kan ’n mens geliefdes help en ondersteun wat sukkel met rou en verlies? Van Graan sê navorsing toon dat sosiale ondersteuning van gehalte die beste hanteringsmeganisme is vir enige mens in rou, maar weens Covid-19-regulasies is dit moeilik.

“Voor Covid-19 kon jy iemand vashou, troos, trane afvee, huistake oorneem, vir hulle kosmaak ensomeer.

“As dit moontlik is, gaan nou voort om mense so te ondersteun, maar gebruik ook tegnologie soos Microsoft Teams, of Zoom. Wees kreatief,” sê sy.

Sy raai mense wat sukkel ook aan om professionele hulp te kry. “Mense benodig soms ook psigoterapie om die rouproses te begin, en medikasie om die gemoed te ondersteun of angs te verminder.”

Zanele Ludziya, gemeenskapsielkundige van die Stikland-hospitaal, sê die belangrikste om te onthou is dat ’n mens nie alleen is nie.

Emosies wat iemand kan ervaar ná ’n geliefde se dood, kan woede en hartseer insluit, sê sy. “ ’n Mens kan tekens van woede, irritasie, hartseer of apatie toon nadat hy of sy ’n geliefde verloor het.

“Tweedens kan die mens se kognitiewe funksionering beïnvloed word, aangesien die persoon vasgevang is in gedagtes en herinneringe aan die oorledene, of probleme ondervind om te konsentreer of deurmekaar voorkom.

“Wees bewus van gedragsveranderinge, byvoorbeeld tranerigheid of verhoogde alkohol- en middelgebruik. Hulle rook miskien meer as gewoonlik, hulle kan onttrek of hulself afsonder of hulle vermy mense en plekke. Hulle sal dalk stilte of geraas uitsoek.”

Ludziya sê as jy ’n geliefde ondersteun, is dit belangrik om die rouproses te verstaan ??en dat elkeen dit anders ervaar. “Hartseer is nie ’n toestand nie, maar ’n proses. Nie alle mense sal die vyf stadiums van rou ervaar nie en daar is ook geen spesifieke volgorde daarvoor nie.”

Ludziya sê dit is belangrik om die mens of jouself met vriendelike geduld en begrip te hanteer, en in gedagte te hou dat dit wat jy voel, uiteindelik sal verbygaan.

“As jy iemand deur die proses van hartseer ondersteun, moet jy nie probeer om die persoon uit ’n stadium te druk of te vergelyk met iemand wat moontlik sy of haar rouproses afgehandel het nie.

“Elke mens sal die stadiums van rou anders ervaar. Moenie skuldig voel of iemand laat skuldig voel as hy of sy miskien in ’n stadium vashaak of terugkeer na ’n spesifieke stadium nie.”

Sy sê terwyl baie volwassenes hartseer te midde van die pandemie hanteer, moet ’n mens nie vergeet dat kinders ook geraak word en ondersteuning nodig het nie.

“Volgens kenners is dit die beste om met kinders oor die dood en die betekenis van hartseer te praat. Help kinders om die emosies wat hulle voel, te identifiseer.

“Vertel hulle wat hulle tydens hierdie proses kan verwag. Beantwoord alle vrae wat hulle mag hê, selfs al het hulle dit al voorheen gevra. Verduidelik dinge op ’n manier wat geskik is vir die kind se ouderdom. Om dit te doen kan jy foto’s, boeke of musiek gebruik.”

Die Inligtingsentrum vir Geestesgesondheid is ’n inligtingsbron oor watter ondersteuningsgroepe en bykomende dienste in jou omgewing beskikbaar is.

Kontak die sentrum by 021 938 9229, Lifeline by 0861 322 322, die Selfdoodhulplyn by 0800 567 567, of die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep by 011 234 4837.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.