Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ondersteuning van familie en vriende help haar hierdie siekte klop

Borskanker is nie ’n maklik siekte om op te doen nie. Danielle Daniëls gesels met Heather Odendaal oor haar stryd teen borskanker.

Heather Odendaal sê haar lewe het heeltemal verander nadat sy met borskanker gediagnoseer is.

Op 10 Mei 2017 is Heather Odendaal met fase 2-karsinoom aan haar linkerbors gediagnoseer. Sy was 40 jaar oud.

Voor Heather gehoor het sy het borskanker, was sy gelukkig getroud en die ma van ’n dogtertjie. “My dogter was vyf jaar oud toe ek gediagnoseer is. Ek het gedink ek het my hele lewe voor my saam met my man en dogter. Ek was baie na aan my en my nou oorlede man se familie. Familie was my rots tydens hierdie reis.”

Heather is ’n finansiële adviseur vir Efficient Wealth, waar sy spesialiseer in lewensdekking, beleggings, mediese fonds, gapingsdekking en korttermynversekering.

“Ek werk sedert 1996 in die finansiële bedryf. Ek het 15 jaar vir Discovery gewerk voordat ek ’n finansiële adviseur geword het. Ek woon al ongeveer 12 jaar in Malmesbury.”

Haar diagnose

Op Paasoggend in 2017 het Heather in die bed gelê met haar arms gevou. Toe sy haar arm oopvou, het sy ’n knop onder haar linkerbors gevoel.

“Ek het my huisdokter gekontak en hy het aangeraai dat ek hom kom spreek. Op 19 April 2017 het ek dit gedoen. Hy het ’n fyn naaldaspirasie gedoen en my verwys vir ’n mammogram wat op 24 April 2017 gedoen is. Na die mammogram met ’n radioloog by SCP Radiologie in die Paarl, is ek na dr. Ettienne Myburgh by die Panorama-hospitaal verwys.

“Op 4 Mei 2017 kon ek slegs dr. Myburgh se vennoot, dr. Christiaan Gildenhuys, spreek. Dr. Gildenhuys het ’n biopsie gedoen, waarna hy my op 10 Mei 2017 gekontak het om my in kennis te stel dat dit wel kanker is. Om saam met jou dogter te sit en aan haar te probeer verduidelik wat aangaan en dat Mamma haar hare gaan verloor en siek word, het my hart gebreek. Dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen.”

Behandeling

Om Heather van die kanker te bevry, moes die gewas uitgesny en ’n lumpektomie gedoen word.

“Ek moes ook op 19 Mei 2019 ’n rekonstruksie van my regterbors ondergaan (sodat dit visueel vertoon soos die linkerbors). Dr. Myburgh was die onkoloogchirurg en dr. Gildenhuys het die heropbou gedoen.

“Daarna is ek na dr. Rika Pienaar by Cancercare in Panorama verwys. Ek het met chemoterapie begin. Drie ‘rooi duiwels’ en toe het ek elke Donderdag vir agt maande chemoterapie ontvang. Elke derde week was dit ’n dubbele dosis. Nadat ek klaar was met die chemoterapie, het ek een maand bestraling gehad,” verduidelik sy.

Tydens hierdie periode was sy baie moeg en daar was dae dat sy eenvoudig net nie uit die bed kon kom nie. Die duiseligheid en gesuis in Heather se ore het haar mal gemaak.

“Die vreeslike sere en smaak in my mond het my daarvan weerhou om te eet en ek moes mondspoelmiddel uit die Verenigde Koninkryk bestel omdat ek nie een in Suid-Afrika kon vind wat nie alkohol bevat het nie. Ek het al my hare verloor en moes gesteriliseer word om te verseker dat ek nie swanger raak tydens chemoterapie nie. Daar is ook ’n poort in my bors geplaas vir die chemoterapie.

“Na die operasie onder my regterbors het ek ’n infeksie opdoen, en is vir ’n week lank in die Panorama-hospitaal opgeneem. Ek was op antibiotika en al my besoekers moes maskers dra. Ek moes ook drie bloedoortappings kry as gevolg van my seltellings tydens chemoterapie. Bestraling het gelukkig geen invloed op my gehad nie; ek het weer soos my ou self begin voel tydens bestraling.”

Familie en vriende

Volgens Heather het haar man ’n hartaanval gehad en is oorlede die dag voordat sy haar bestraling voltooi het. “Hy was verpletterd deur die diagnose en kon nie verstaan waarom dit met my gebeur het nie. Hy het my elke dag ondersteun sodat ek deur die behandeling kon kom. My familie het saamgestaan. My pa en suster was saam met my tydens elke chemoterapiesessie en my ongelooflike vriende het gereeld ingeloer.

“My ma, wat in die buiteland gewerk het, was terug tydens bestraling en het my na elke sessie geneem. Sy wou nie hê ek moes my laaste sessie mis nie, en het my gedwing, selfs met alles wat pas gebeur het. My suster was my steunpilaar nadat my man gesterf het. Sy het haar werk as sjef op ’n toerskip opgegee en by my ingetrek om te help om my dogter te versorg.”

Lewe na borskanker

“My lewe het heeltemal verander. Wat ek gedink het belangrik was, is nie meer nie – my dogter is my alles en ek moet hierdie stryd vir haar veg. Ek het ook opgehou rook en het geen alkohol gedrink tydens behandeling nie – ek kon dit nie inkry nie.

“Ek kon ook nie rooivleis inhou nie, maar kan dit nou weer eet. Ek het dinge geëet wat ek nog nooit voorheen geëet het nie om my immuunstelsel en yster weer reg te kry.

“Ek moes goed soos beet, boerekool, lewertjies en veel meer eet, wat glad nie lekker was nie,” vertel Heather.

Sy sê sy ly steeds aan “chemo-brein”, hoewel haar vriende dit haat wanneer sy dit so noem, maar sy weet nie wat anders om dit te noem nie.

“Ek het vroeg in menopouse gegaan as gevolg van die chemoterapie, so ek is op HRT vir die volgende vyf jaar. My sig het drasties agteruitgegaan; ek het gegaan van geen bril dra na dit die heeltyd dra. Die gehoor in my regteroor is ook nie goed nie en ek moet beendigtheidstoetse ondergaan om uit te kyk vir osteoporose.”

Heather sê die ergste van alles is die scanxiety wat haar elke ses maande oorrompel.

“Ek is kreupel van angs in die opbou tot my mammogramme en skanderings – moet selfs ’n psigiater gaan sien. Die simpatieke kyke wat almal vir jou gee X die kantel van koppe, die hondjie-oë, die “jy lyk nie siek nie”-opmerkings, is alles wat my maag laat knoop. Ek weet dat mense nie weet wat om vir jou te sê nie, so dis iets waaraan ek gewoond moet raak.

Raad aan ander

Heather sê sy was ’n gesonde 40-jarige met geen familiegeskiedenis van borskanker nie, en dit het met haar gebeur. “Dames, ondersoek jou borste en gaan vir mammogramme, want dit kan jou lewe red!”

Sy voeg by dat as jy tydens behandeling moet slaap, slaap. “Moenie te veel probeer doen nie – vra vir hulp. Neem ook ’n pakkie sout Lays-skyfies saam met jou na die chemoterapiekamer om te help met die aaklige smaak in jou mond.”

Meer oor:  Gesondheid  |  Siekte  |  Borskanker  |  Gesondheidsorg  |  Kanker  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.