Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oppas vir dié velkanker-mites

Suid-Afrika het van die hoogste velkankersyfers ter wêreld. Pas jouself en jou gesin op, skryf Delia du Toit.

Enige sonbrand dra by tot jou kanse om velkanker te ontwikkel.Foto:

Elke keer wat jy rooi brand, verhoog jou kans om melanoomkanker te kry. Dis gram vir gram die aggressiefste kanker en dié velkanker versprei baie vinnig, sê dr. Marc Roscher, ’n dermatoloog van Umhlanga en hoof van die Suid-Afrikaanse Velkankervereniging.

Dr. Marion Morkel, mediese hoof by Sanlam, sê melanoomkanker is in die topvyf van kankers waarvoor Sanlam se kliënte eis. “Die grootste oorsaak van alle soorte velkanker is blootstelling aan ultraviolet (UV)-strale – hetsy van die son, of kunsmatig, van sonbeddens en dies meer.”

Melanoom is die algemeenste soort kanker by jongmense tussen 25 en 29, volgens die Amerikaanse Vereniging vir Dermatologiese Chirurgie (ASDS). Boonop, sê Marion, gebeur 80% van die sonskade wat die gemiddelde mens oor ’n leeftyd opdoen, reeds voor die ouderdom van 20.

Melanoomkanker is op 43 by Elmarie Marais (60) van Johannesburg gediagnoseer. Haar dokter het toe gesê sy het die meeste velskade wat daartoe bygedra het, waarskynlik al as kind opgedoen. “Ek het ’n ligte vel en rooi hare, so ek is my hele volwasse lewe al baie versigtig. Maar as kind sou ons ure lank swem en dan die aand huil oor ons so gebrand het.”

Elmarie se kanker het al na haar limfkliere versprei toe sy gediagnoseer is en sy moes chemoterapie kry. Gelukkig het die mediese wetenskap vir die behandeling van velkanker al baie verbeter, sê Marc. “Ons vermoë om dit te genees is vandag soveel beter. Melanoom was jare gelede byna ’n doodsertifikaat, maar vandag is daar biologiese behandelings wat baie suksesvol is. Chirurgie het ook verbeter: Mohs-chirurgie, waar kanker onder ’n mikroskoop uitgesny word, is baie meer suksesvol as tradisionele chirurgie en los ook ’n baie klein litteken. En Erivedge, ’n nuwer medikasie, werk uitstekend vir basaalselkanker, hoewel dit baie duur is.”

Elmarie is sedertdien in remissie. “Nou is ek éérs versigtig. Ek smeer elke dag SPF50 aan.”

Enige sonbrand dra by tot jou kanse om velkanker te ontwikkel. Foto:

Oppas vir dié mites:

Ek is veilig, want ek sonbad nooit nie

Onwaar. Selfs vinnige sonblootstelling, soos wanneer jy bestuur, vererger oor ’n tydperk en kan velkanker veroorsaak – veral as jy ’n ligte vel het. UV-strale dring ook deur wolke, sambrele en skaduwee en weerkaats van ander oppervlakke soos water en selfs sneeu.

Donker velle is veilig

Onwaar. Hul risiko is kleiner, maar sê die ASDS, mense met blasser velle kry gewoonlik eers te laat hulp wanneer die kanker reeds versprei het – waarskynlik omdat hulle nie so op hul hoede is nie, en die letsels minder sigbaar op ’n donker vel is.

Ek brand nie en word bruin, so ek is veilig

Onwaar. Daar bestaan nie so iets soos ’n gesonde sonbrand nie. Enige verkleuring van jou vel is te wyte aan sonskade.

Velkanker begin by moesies en kan maklik afgesny word

Onwaar. Daar is verskeie soorte velkanker en dit lyk verskillend – ’n klein seertjie wat net nie gesond wil word nie of selfs skurwe vel wat soos ekseem kan lyk, is ook waarskuwingstekens. As jy enige veranderings opmerk, besoek ’n dokter. Bekyk jou hele vel elke drie maande (meer gereeld as jou dokter so aanbeveel), sê Marion. “Soek vir enige vreemde letsels, littekens wat groter lyk as voorheen, of moesies wat groter as 6 mm is of van vorm, kleur of tekstuur verander het.”

Dit is so dat jou kans op remissie baie goed is as velkanker vroeg opgemerk en verwyder of behandel word. Maar in latere stadiums is omvattende chirurgie, chemoterapie en selfs bestraling nodig.

Sonbrandroom is al wat help

Gelukkig nie! Antioksidante, sê Marc, is een van die belangrikste deurbrake in die stryd teen sonskade, omdat dit vrye radikale wat deur die son “losgemaak” word en jou selle beskadig, teenwerk. “As jy dit gereeld gebruik, en genoeg daarvan, kan dit byna die beskerming van jou sonbrandroom verdubbel – oftewel jou risiko op velkanker halveer.

“ ’n Goeie serum was ook nie af soos sonbrandroom nie, maar trek in die vel in. Oppas vir die serums wat jy sommer van die rak af koop, want jy weet nie altyd wat in die bottel is nie – vra jou dermatoloog vir ’n aanbeveling.”

Jy kan dit ook in pilvorm inneem. Marc stel voor jy drink 1 000 mg vitamien C en 400 IE vitamien E per dag vir ’n paar dae voor jy baie sonblootstelling gaan hê, soos voor ’n marathon of ’n seevakansie – en dan ook elke dag gedurende die vakansie. Eet ook soveel moontlik verskillende kleure groente en vrugte, veral bessies, om oksidante deur jou dieet in te neem.

  • Lees meer op die Velkankervereniging se webwerf, skincancerfoundation.co.za. Die organisasie bied ook gratis hulp vir behoeftige pasiënte – kontak hulle vir meer.
Beskerm jouself

Sonbrandroom vee af soos jy beweeg en was af as jy swem of sweet en jy moet elke twee uur weer aansmeer, of ná enige aktiwiteite.

  • Gebruik ’n sonbrandroom wat beskerming teen sowel UVA- as UVB-strale bied (breëspektrum-room).
  • Smeer aan sowat 20 minute voor jy buitentoe gaan, want sommige rome se aktiewe bestanddele neem ’n rukkie om volle beskerming te bied.
  • Smeer genoeg aan: ’n Eetlepel vol op jou gesig, ’n sopieglasie vol op jou lyf.
  • Sinkoksiedroom, daardie dik, wit room wat krieketspelers graag aansmeer, is fantasties vir kinders, sportlui of dié wat graag swem, want dit was nie sommer af nie. Tweede beste is enige taai sonbrandroom (minstens SPF30) wat moeiliker sal afwas. Vermy sproeie of vogrome met SPF – dis net voldoende as jy nie aktief gaan wees nie.
  • Dra ook ’n sonbril om die vel om jou oë te beskerm en ’n hoed (nie ’n keps nie). Kry vir jou kind wat graag swem ’n sg. rash vest vir ekstra beskerming – maak net seker dis gesertifiseer om UV-strale te blokkeer.
  • Vermy die son tussen 10:00 en 15:00, wanneer dit op sy skadelikste is.

Meer oor:  Sonbrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.