Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oudatleet verneem sy is kankervry

Te midde van al die slegte nuus om die koronavirussiekte het ’n voormalige Suid-Afrikaanse atleet Dinsdag tot haar groot vreugde uitgevind sy is ná ’n sewe maande lange stryd kankervry.

Anneri en haar man, Kobus Moolman, het Kersfees saam met haar broer Sias Ebersohn en sy vrou, Elette, op hul plaas by Hartswater deurgebring. Hulle wou vir Anneri se ander broer, Robert, in Frankryk gaan kuier het, maar moes hul planne weens die chemoterapie laat vaar. Agter is Sias en Kobus en voor is Elette en Anneri. Foto: Verskaf

Anneri Moolman (née Ebersohn), voormalige 400 m-hekkieskampioen, is in September 2019 op 29-jarige ouderdom onverwags met graad 2-borskanker gediagnoseer.

Sy het verlede Dinsdag, ná maande se chemoterapie, hormoonbehandeling en bestraling, ’n lumpektomie gehad waartydens ’n gewas uit haar linkerbors en 16 kliere onder haar arm verwyder is.

Sy het Dinsdag die nuus gekry dat al sestien kliere en die gewas kankervry is.

Moolman is lid van ’n bekende Vrystaatse sportgesin. Sy het self as senior kampioen in die 400 m-hekkies naam gemaak, nes haar pa, Tiaan Ebersohn. Haar broers, die tweeling Robert en Sias, is bekende rugbyspelers.

Sy sê sy was aan die begin van haar behandeling net daarop gefokus om die kanker te oorwin.

“Ek het nie eers gehuil toe ek aanvanklik gehoor het van die diagnose nie. Ek was net daarop gefokus om gesond te word.

“Vier maande later was die eerste keer dat ek emosies ‘ingelaat’ en vir die eerste keer daaroor gehuil het.”

Moolman, ’n oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, sê erkenning van haar emosies was nodig om die stryd teen die kanker aan te durf.

“Die Here het my kanker al oorwin voordat ek geweet het van my diagnose en net Hy het geweet wat ek gaan nodig hê om aan die ander kant uit te kom,” sê sy.

Van links is Anneri en Kobus saam met sy tweelingbroer, Jurie, en sy vrou, Done. Hulle stap om die blok vir vars lug saam met Jurie en Done se seuntjie, Johannes. Jurie en Kobus het hul hare saam met Anneri afgeskeer. Foto: Verskaf
Anneri en haar man, Kobus Moolman, einde September 2019. Hulle het toe al geweet dat Anneri kanker het, maar sy het toe nog nie met chemoterapie begin nie. Foto: Verskaf

Moolman woon deesdae saam met haar man, Kobus, in Pretoria.

In ’n kort tydperk van twee weke het Moolman van Johannesburg na Pretoria verhuis en by ’n nuwe werk ingeval. En toe verander haar lewe toe sy hoor sy is met borskanker gediagnoseer.

“As ek nou terug dink aan daardie twee weke, sien ek hoe die Here my toe al voorberei het op die stryd teen die siekte.

“Die huis in Pretoria is naby die hospitaal waar ek chemoterapie gekry het en naby aan my skoonfamilie is wat my deur dié tyd ondersteun het.”

Moolman sê op haar pad vorentoe gaan sy aanhou bid, glo en op haar gesondheid fokus.

Wat haar behandeling betref, gaan sy moontlik nog net ’n klein bietjie bestraling moet kry en medikasie wat haar hormone beheer.

“Die gewas is hormoon-positief wat beteken hormoon-afskeidings is soos petrol op die vuur.”

Die medikasie gaan help om haar hormone te beheer sodat die kanker nie weer groei nie.

Sy en Kobus is in die inperkingstyd veilig tuis en sy kan darem van die huis af werk.

“Ek is seker een van die min mense wat dankbaar is vir die inperking, want dit het beteken dat my man mooi na my kan kyk en dat ek sonder haas ná die operasie kon aansterk,” lag sy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Virus  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.