Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oudste, middelste, jongste . . .

Beïnvloed die orde waarin kinders gebore word werklik hul persoonlikhede?

Jongste kinders is mos almal bederf, oudstes is verantwoordelike perfeksioniste en middelste kinders is vredeliewende bemiddelaars wat altyd op soek is na aandag.

Geboorte-orde speel inderdaad ’n rol in jou persoonlikheid en hoe jy jou gedra.

Middelkinders sukkel glo soms om in te pas omdat hulle altyd ’n “toebroodjie” tussen die jongste en oudste is. Foto: iStock

Die Oostenrykse psigiater Alfred Adler het geboorte-orde beskou as ’n baie betroubare voorspeller van menslike gedrag en hoe jy jou verhoudings hanteer.

Volgens hom is oudste kinders beslis meer outoritêr en meer in beheer as die ander sibbe. Tweede kinders is volgens hom optimisties, mededingend, ambisieus en presteerders. Jongste kinders word wel vir lank as die “baba” behandel en middelkinders sukkel soms om in te pas omdat hulle altyd ’n “toebroodjie” tussen die jongste en oudste is. Verder is middelste kinders meer gematig as oudstes of jongstes.

“Daar is inderdaad tendense rondom kinders se geboorte-orde, hoewel ek baie versigtig is om te veralgemeen,” sê emeritus-professor Chris Venter van die psigiatrie-departement aan die Noordwes Universiteit, deesdae woonagtig in Stilbaai.

“Wanneer ouers se eersteling gebore word, is hulle gewoonlik ongewoond aan hierdie nuweling in die huis en daarom ook ’n bietjie meer angstig as met die kinders wat volg. Hulle wil alles reg doen en dit het noodwendig ’n invloed op oudste kinders, wat dan ook meestal meer pligsgetrou is, ’n bietjie meer konserwatief is as die ander sibbe, en volgens meer outoritêre waardes leef.

“Met die volgende kinders is die ouers beslis meer ontspanne en dis waarom daar gewoonlik dan ander reëls geld en die opvoedingsgewoontes verskil.”

Bekendes se gedagtes

Die aktrise Lizz Meiring is ’n middelkind en sê sy het beslis al van dié stereotipes gehoor. “Tradisioneel word daar mos gesê die middelste kinders is die wat aandag soek. Daar is blykbaar baie middelste kinders in die uitvoerende kunste.

Foto: iStock

“Maar ek weet nie hoe akkuraat die middelkind-sindroom is nie. Ek was my ouers se enigste dogter, maar my ouers het ons drie kinders as totale individue grootgemaak. My ouer boetie, Karl, is ’n personeelbestuurder en ’n geskiedkundige navorser en my jonger boetie, Rocco, is die afrigter van die Springbok-swemspan. Meer uiteenlopend as dit kan jy nie kry nie! Ons al drie verskil soos dag en nag.”

Die akteur Albert Maritz was weer die jongste van vier kinders en sy oudste broer is baie ouer as hy. Hy sê sy boeties en sussie sal almal sê hy was die witbroodjie, maar hy is nie so seker nie, want volgens hom was die hoeveelheid pak slae wat hy gekry het gelykstaande aan die ander s’n . . .

Adv. Deon Bosman van die Strand was die enigste kind. “Dit was nie eintlik vir my lekker om die enigste kind te wees nie. Ek was alleen, maar niemand het my gepla nie. Ek het geen sosiale vaardighede gehad nie, ek was nog klein, dog groot, en kon nie met my portuur oor die weg kom nie.”

Nog faktore

Die ouderdomsgaping tussen sibbe speel ook ’n rol in hoe hulle hulself later gedra, sê Chris. “Ek dink die ideale verskil tussen die eerste twee kinders is drie jaar, hoewel baie mense dink dis twee jaar. Kinders onder drie jaar is nog baie vas aan hul ma’s en as ’n jonger boetie of sussie dan gebore word, kan hulle onveilig voel – wat ’n invloed op die sibbe-verhouding kan hê.”

Selfs die geslag van ’n kind se sibbe speel ’n rol, en ook of al die sibbe net meisies of net seuns is.

In die algemeen het die laatlammetjies dit so ’n bietjie makliker as hul voorgangers.

Verskeie ander faktore in ’n mens se kinderjare speel later ’n rol in jou persoonlikheid en gedragspatrone. “So kry jy soms dat die oudste dogter wie se ma vroeg in haar lewe sterf, die rol van die moeder oorneem vir die ander sibbe,” sê Chris.

Ook wanneer ’n gesin jare wag op ’n seun en hy dan boonop die laatlammetjie is, is die kanse groot dat hy soos ’n kroonprins behandel gaan word.

“In die algemeen het die laatlammetjies dit so ’n bietjie makliker as hul voorgangers. Enigste kinders is gewoonlik meer volwasse omdat hulle tussen grootmense is,” sê Chris, hoewel hy weer benadruk dat ’n mens nie kan veralgemeen nie.

Volgens ’n artikel deur Peter Dockrill op die webwerf sciencealert.com is enigste kinders nie net anders wat hul gedragspatrone betref nie, maar dit het selfs ’n impak op die ontwikkeling van die brein.

Twee- en meerlinge

Volgens Chris het twee- en meerlinge ’n unieke dinamika en om as deel van ’n tweeling groot te word, gaan noodwendig jou lewe en geaardheid later beïnvloed.

Terésa Coetzee

“Sommige tweelinge hou daarvan om as ’n eenheid gesien te word, terwyl ander juis individualisties wil wees. Ek dink dis belangrik om nie een of die ander op hulle af te dwing nie. Ouers sê baie keer tweelinge maak mekaar groot en dat daar ’n besonderse band tussen veral identiese tweelinge is, en dis beslis so.”

Renette Buitendag, die tweelingsussie van Ansi, stem saam. “My sussie is ’n volle tien minute jonger as ek. Vandat ons gebore is, was dit nog nooit vir my moeilik om myself te definieer as een van ’n tweeling nie. Om die waarheid te sê, doen ek dit met die grootste gemak, want ’n mens kan jouself definieer met verwysing na iemand wat jou regtig verstaan. Daar is nooit ’n gestamel en -hakkel nie, en ek dink min mense buiten tweelinge kan dít regtig verstaan.

“Ons lyk presies dieselfde. Ek ken haar. Ek hoor alles wat sy nié vir my sê nie. En wanneer dit nie met haar goed gaan nie, voel dit vir my asof ek in die hoogste takke van ’n dooie boom sit. Dan kyk ek af en sien ’n vuur brand.

“Ek onthou ons al twee se sproetgesiggies en blonde boksterte. Verjaardagkoeke met twee identiese pienk nommers op. En ek weet dat daar geen begin of einde is nie.”

Raad vir ouers

Wanneer daar meer as een kind in die huis is, kan jy maar weet hulle gaan van tyd tot tyd baklei en in mekaar se hare wees.

Chris sê dis belangrik dat ouers nie kinders se rusies persoonlik opneem en slapelose nagte daaroor het nie. “Selfs nog belangriker is om die rusies regverdig te hanteer. Moenie te gou inmeng nie, want onthou, hierdie rusies leer jou kinders om hulself eendag in die normale wêreld daar buite te handhaaf.”

Dis ook natuurlik dat ’n ouer soms nader aan een kind voel as ’n ander of selfs beter met een kind oor die weg kom as die ander, sê hy verder, maar dit bly belangrik dat ouers aanpas by elke kind se uniekheid en op hul onderskeie talente fokus. Een kind blink dalk uit in sport, terwyl die ander een regtig goed is met mense en baie bedagsaam is. Een talent is nie beter as ’n ander nie.

Hiér pas hulle in:

Oudste kinders:

  • Philip Liebenberg, skrywer en predikant, oudste van vyf broers;
  • Johan van Rensburg, musikant, oudste van vier;
  • Beer Adriaanse, akteur, oudste van drie;
  • Tobie Jooste, sanger en aanbieder, oudste van twee;
  • Anneli van Rooyen, sangeres, oudste van twee.

Middelste kinders:

  • Chris Else, sanger en akteur, tweede jongste van nege;
  • Lizz Meiring, aktrise, middelste van drie;
  • Elvira Wood, finansiële joernalis, middelste van drie.

Jongste kinders:

  • Dozi, sanger, jongste van vier;
  • Rina Hugo, sangeres, jongste van drie;
  • Anton Goosen, sanger, jongste van twee;
  • Riaan van Rensburg, musikant, jongste van twee.

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Opvoeding  |  Gesinne  |  Verhoudings  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.