Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pas só jou tande op

’n Bakkie vir ’n kunsgebit hoef nie noodwendig jou voorland te wees wanneer jy ouer word nie. Danielle Daniëls het meer gaan uitvind.

Wanneer jou tande weens ouderdom begin verswak, is daar verskeie opsies wat jy kan oorweeg om jou glimlag te vernuwe. Foto: iSTock

Belangrikheid van goeie mondhigiëne

Volgens dr. Lize-Mari Botha, ’n tandarts van Brackenfell, borsel jy jou tande snags “om jou tande te behou en in die oggend om jou vriende te behou.”

“As ons aan mondhigiëne dink, kom borsel- en vlosprentjies by ons op. Dit word ook gereeld by ons ingeprent dat as jy nie jou tande borsel nie, ’n gaatjie jou voorland is en jy jou tand kan verloor. Swak mondhigiëne lei egter nie net tot tandbederf nie, dit beïnvloed ook die tandvleis baie meer as wat ons dink. Tandvleisontsteking kom voor wanneer plaak vir te lank op die tande en tandvleis agterbly,” sê sy.

Swak mondhigiëne kan verskeie mondsiektes veroorsaak.

“Swak mondhigiëne lei tot tandvleisontsteking (gingivitis), wat gekenmerk word deur rooi en geswolle tandvleis wat maklik bloei. Onbehandelde gingivitis gaan vinnig oor in periodontitis (ontsteking van die ondersteunende weefsel, byvoorbeeld been en ligamente) wat tandverlies tot gevolg kan hê,” verduidelik dr. Botha.

Volgens haar hou periodontitis direk verband met ernstiger siektetoestande soos:

  • siektes van die hart- en sirkulasiestelsel
  • diabetes
  • moeilike swangerskappe en lae geboortegewig van babas

Soos jy ’n hoë ouderdom bereik, begin jou tande bros raak en begin die verliesproses intree.

Dr. Botha sê tandverlies as gevolg van ’n gaatjie, abses, fraktuur of ongeluk kan enige tyd voorkom, selfs by jongmense en kinders.

Sien só om na jou tande

Vir ouer mense wat nog hul eie tande het, is daar sekere metodes en toestelle waarmee hulle hul tande kan versorg.

Volgens dr. Botha help ’n tweejaarlikse ondersoek en skoonmaak van tande deur ’n tandarts of mondhigiënis om probleme vroeg op te merk en te behandel.

“ ’n Elektriese tandeborsel se handvatsel is groter as ’n gewone borsel s’n en is dus makliker om te hanteer. Vir iemand met verminderde handvaardigheid is dit dus ’n goeie oplossing om te verseker dat die tande goed skoon gehou word,” sê sy.

Stefanie Engelbrecht, ’n mondhigiënis by die Somerset-Wespraktyk van tandespesialis dr. Johann Lochner, noem indien ’n persoon geen probleme met hand-en-oog-koördinasie ondervind nie, is ’n gewone tandeborsel goed om te gebruik.

“ ’n Medium of sagte borsel is meer as genoeg. ’n Harde tandeborsel is beslis onnodig en kan skade aan die tandstruktuur berokken.

Sy meen wanneer dit kom by die borsel van jou tande is “die belangrikste egter om die korrekte borseltegniek te gebruik”.

“Die hele tandoppervlak, insluitend die tandvleisaansluiting rondom elke tand, moet sorgvuldig geborsel word,” verduidelik sy.

Opsies vir 'n beter glimlag

Indien jy jou tande begin verloor, is daar verskeie opsies om te oorweeg vir ’n breë glimlag.

Dr. Johann Lochner, wat spesialiseer in mondgeneeskunde, periodonsie en inplantate, sê bejaardes het presies dieselfde tandvervangingsopsies as jonger pasiënte. “Jongmense se eet- of glimlaggewoontes verskil min van ’n bejaarde persoon s’n. Tandverlies by ouer persone kan behandel word deur opsies soos kunsgebitte, tandondersteunde brûe, enkeltand-inplantate, inplantaatondersteunde brûe en inplantaat-ondersteunde gebitte. Dit geld ook vir ’n jong persoon.”

Dr. Lochner verduidelik die opsies soos volg:

  • Kunsgebit: Dit is ’n verwyderbare prostese wat enkel-, veelvuldige of al die tande vervang. Baie pasiënte sukkel egter met gebitte aangesien dit beweeg wanneer hulle praat of eet. Tog is dit die kostedoeltreffendste manier om tande te vervang.
  • Tandondersteunde brûe: Dié tegniek kan gebruik word om enkel- of meer tande te vervang, maar die ankertande word dikwels erg beskadig. Op die langtermyn word die ankertande geaffekteer deur infeksies en tandbederf wat weer tot groter tandverlies kan lei. Op die korttermyn is dit meer kostedoeltreffend, maar op die langtermyn lei dit tot groter tandverlies en hoër kostes.
  • Inplantate: Inplantate is ankers wat in die kaak geplaas word om enkel-, veelvuldige of al die tande te vervang. Die genesing van inplantate in die kaak is effens stadiger by bejaardes, maar die eindresultaat van die behandeling is geweldig bevredigend en doeltreffend.

Wenke om jou kunsgebit te versorg

Dr. Lochner verskaf dié wenke:

  • Verwyder kosoorblyfsels op die gebit deur dit na etes onder water af te spoel. Spoel ook jou mond uit sonder die gebit daarin sodat daar nie kospartikels onder die gebit vasgevang word nie.
  • Borsel die gebit elke dag goed met ’n naelborsel en ’n vloeibare kiemwerende seep.
  • Slaap sonder jou gebit. Sodoende vermy jy swaminfeksies wat in jou mond kan voorkom wanneer jy daarmee gaan slaap.
  • Stoor die skoongemaakte gebit in ’n bietjie water om te voorkom dat dit uitdroog.
  • Apteke het produkte om harde aanpaksels op gebitte te verwyder.
  • Gebitte kan periodiek vir 10 minute ontsmet word met ’n mengsel waarvan die helfte uit water en die ander helfte uit huishoudelike bleikmiddel bestaan, en agterna weer baie goed met water afgespoel word.
  • Vervang jou gebit gereeld aangesien dit oor die jare minder goed in die mond sal pas.
Meer oor:  Gesondheid  |  Tandarts  |  Tande  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.