Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Piepklein babas kry hier ’n kans op lewe

Net 950 g.

Dit is wat Vinona geweeg het toe sy gebore is.

Julia Pebane (30) is verheug dat sy vandeesweek met klein Vinona in haar arms huis toe kan gaan. Sy het sedert 30 Augustus by Vinona gewaak. Vinona is nou sterk genoeg om huis toe te gaan. Foto: Mlungisi Louw

Maar, ná drie maande in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein se neonatale eenheid, kan ma Julia Pebane uiteindelik met die bondeltjie van 1,68 kg in haar arms huis toe gaan.

Pebane (30) het groot geskrik toe sy op 30 Augustus hoor Vinona is op pad. Sy was 24 weke swanger.

Vinona moes in ’n broeikas sterk word en om haar lewe veg.

“Nou drink sy mooi,” sê ’n dankbare Pebane, wat drie miskrame voor Vinona gehad het.

Maandag het die eenheid gewemel van mammas soos sy, wat elk met ’n piepklein baba in die arm tougestaan het vir ’n spesiale foto.

Die kleinste baba in die Pelonomi-hospitaal weeg 850 g. Fedile Garing het net 750 g geweeg toe hy op 3 November gebore is. Foto: Mlungisi Louw

In samewerking met Allied Health het personeel van die hospitaal met die idee vorendag gekom om die ouers van die sowat 66 vroeggebore babas wat hier versorg word met ’n fotosessie te bederf en om Wêreldprematuurdag te vier.

Leana Bosch, bekend om haar babafotografie, het aan die vooraand van Wêreldprematuurdag haar ateljee in ’n saal by die eenheid opgerig om elke ma met haar baba (of tweeling) af te neem.

“Die vroeggebore babas is ’n bietjie meer van ’n uitdaging, want hulle is so klein,” sê Bosch, wat vir ’n tweede jaar die foto’s uit welwillendheid vir die hospitaal geneem het.

Die mammas sal met die foto’s vir die familie kan wys dat die baba nie maar net nog ’n baba is nie, sê Louise Peens, bestuurder by Allied Health.

“ ’n Neonatale baba is altyd meer spesiaal.”

Boitumelo Busakwe weeg ’n skamele 1,6 kg. Sy ma het in die ambulans geboorte gegee toe sy 30 weke swanger was. Foto: Mlungisi Louw

Wêreldprematuurdag word Vrydag by die hospitaal gevier om die ouers te bederf, maar ook bewustheid rondom premature geboortes te skep.

Die gedrukte foto’s sal aan die ma’s oorhandig word sodat hulle dit huis toe kan neem.

“Die foto’s kan ook die band tussen die ma en die baba versterk deurdat sy uit ’n ander hoek daarna kan kyk,” sê Peens.

Die hospitaal doen ook melkskenkings deur die Human Milk Banking Association of South Africa vir mammas wat sukkel met borsvoeding.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.