Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Praat tot jou trauma weg is

Daar’s ’n beradingstegniek wat jou jou trauma laat wegpraat, skryf Jana Smit.

“Trauma wat nie ontlont en deurgewerk word nie, bly by die mens.”Foto: iStock

Suid-Afrikaners leef met posttraumatiese stresversteuring (PTSV), ’n toestand wat gewoonlik ’n aanvang neem nadat jy ’n traumatiese gebeurtenis beleef of aanskou het. Dit kan wissel van misdaad of ’n motorongeluk tot om ’n geliefde aan die dood af te staan.

Net onder Suid-Afrikaanse tieners ly meer as ’n miljoen daaraan.

Dr. Eugene Allers, ’n psigiater en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Vereniging (Sasop), sê tot ses miljoen Suid-Afrikaners ly heel moontlik aan posttraumatiese stresversteuring. Dis as ’n mens die voorkoms van misdaad en motorongelukke in ag neem.

Wie het behandeling nodig?

Hoewel nie almal wat blootgestel word aan trauma PTSV sal ontwikkel nie, het almal by wie dit gediagnoseer is, hulp nodig, meen die oudweermagkapelaan ds. Jan Viljoen, wat ook gekwalifiseer is om berading aan sulke mense te gee.

Vanself vergeet ’n mens niks, sê Jan. “Trauma wat nie ontlont en deurgewerk word nie, bly by die mens. Tyd genees dit nie. Tyd bedek dit, maar dit word iewers in die onderbewussyn gebêre.

“As ’n mens nie berading kry nie, kan dit jare by jou bly. Vertraagde aanvang veroorsaak dat PTSV jare later kan ontwikkel wanneer iets die persoon herinner aan die voorval,” sê Eugene.

Selftrots en die vrees om weer die pynlike ervaring te herleef, keer baie mense om te gaan vir berading. Maar dis nodig en nooit te laat nie.

Ds. Jan ViljoenFoto: Jana Smit

’n Tegniek van praat

Traumatic Incident Reduction (TIR) is ’n tegniek wat van twee weke ná ’n voorval tot dekades later steeds doeltreffend is.

Met TIR, die tegniek wat Jan toepas, lei ’n berader die getraumatiseerde persoon na herstel deur herhaaldelik in ’n gespreksproses die trauma te herleef, verduidelik hy.

In TIR vra die berader nie “Hoe voel jy?” nie, hy vra “Wat het met jou gebeur?”.

As ’n mens nie berading kry nie, kan dit jare by jou bly.  
Dr. Eugene Allers

Die persoon vertel eers die traumatiese gebeurtenis aan die berader, daarna saggies aan homself en dan weer vir die berader. Deur die herhaling vind die persoon uiteindelik die “oplossing” tot gesondheid, vertel Jan.

’n Mens vertel jou verhaal aan iemand anders op ’n feitelike manier (kognitief). In jou gedagtes speel ’n emosionele vertelling af. Volgens Jan bring die herhaling die kognitiewe en emosionele bymekaar.

TIR vind natuurlik in die veilige omgewing van ’n beradingslokaal en binne ’n terapeut-pasiënt-vertrouensverhouding plaas.

“As die getraumatiseerde persoon nie die oplossing vind nie, is daar ander tegnieke om te kyk of daar nie iets anders is (wat trauma veroorsaak) nie,” sê Jan.

Geen mens het net een trauma nie, sê hy. Elke trauma moet gedurende TIR afsonderlik aangepak word.

“Iemand was dalk in ’n motorkaping en is as kind geboelie. Een vrou wat my kom spreek het, is as kind gemolesteer, geboelie, was in ’n motorongeluk waarin iemand dood is én het ’n aborsie ondergaan.

“Baie mense lewe onder groot druk.”

TIR werk met wat in die onderbewuste is. Die trauma word in die onderbewuste gaan haal, dit dring deur tot die bewussyn en deur herhaling kom dit na vore, verduidelik Jan.

In sy boek Anderkant trauma verby vertel Jan hy het as hoof van pastorale dienste by 1 Militêre Hospitaal dikwels met slagoffers te doen gekry wat ná berading steeds in ’n toestand was omdat hul trauma nie gehanteer is nie.

“Later sien jy dieselfde mens is by die maatskaplike werker en later by die sielkundige se deur.”

  • Vir meer inligting oor TIR besoek www.tirasa.co.za. Bygewerkte bronne: Sun.ac.za
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.