Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Produktief én gesond by die huis
Dit kan ’n uitdaging wees om produktief te bly as albei ouers en die kinders heeldag tuis is.Foto: iStock

Twee uit drie Suid-Afrikaanse paartjies sê hulle is nie so produktief wanneer hulle saam tuis moet werk soos wanneer hulle by hul afsonderlike werke is nie, wys ’n opname van sowat 3 000 Wes-Kapenaars wat einde April deur die internasionale bemarkingsagentskap PR Pioneer gedoen is.

Dis een ding om alleen te woon en tuis te moet werk, maar ’n perd van ’n ander kleur as woelige kinders ook om jou aandag meeding en jou man of vrou skielik ook jou kollega is. Boonop is dit tog te aanloklik om die “snooze”-knoppie nog ’n keer (of ses) te druk, om “net gou” ’n episode van jou nuwe Netflix-plesiertjie te kyk, of om saam met jou gesin oor middagete te kuier.

Maar terwyl die ekonomie sukkel en afleggings dreig, is dit noodsaaklik om so produktief moontlik te bly.

Riette du Preez, ’n sielkundige van Johannesburg, sê dis boonop belangrik vir jou geestesgesondheid. “ ’n Groot deel van ’n mens se identiteit is gekoppel aan die werk wat jy doen en hoe goed of swak jy dit doen. Om produktief te bly, laat jou voel of jy ’n doel en betekenis het.”

Busie Mjimba, ’n konferensiebestuurder in Johannesburg by Knowledge Resources, ’n geïntegreerde inhoudverskaffer aan besighede, sê egter ’n mens moet ook realisties wees oor die uitdagings wat jou produktiwiteit kan beïnvloed – produktiwiteit neem byvoorbeeld af wanneer ’n mens gespanne is (en ’n pandemie is beslis stresvol) en boonop is daar tuisonderrig en ander take wat jou aandag kan verg. “Probeer dus om ontslae te raak van perfeksionisme. Doen jou bes, maar moenie jouself ooreis nie – dis oukei as jou huis byvoorbeeld ’n gemors is of jou kind tydens ’n videovergadering in die kamer in wandel. Verstaan ook dat ander mense dalk sukkel; wees gawer met mekaar.”

Riette, Busie en Jamie Ellis van PR Pioneer gee dié wenke om produktief te bly:

  • Skep ’n roetine. Staan op, stort en trek aan asof jy werk toe gaan, al is jou lessenaar net in die kamer langsaan. Struktuur help jou brein om die oorgang te maak tussen werkstyd en ontspanning – anders kan elke dag soos ’n Saterdag begin voel.
  • Omskep ’n vertrek of selfs net ’n hoek van ’n vertrek in jou “kantoor”. Werk slegs hier sodat jy jou werkslewe en persoonlike lewe kan skei. Dit moet verkieslik nie in jou slaapkamer wees nie, want dit kan met jou slaappatrone lol as jou slaap-area ook die plek is waar jy moet werk. Verduidelik vir die kinders dat wanneer jy daar is, is dit werks­tyd.
  • Neem gereelde maar kort breuke gedurende die werksdag – dis noodsaaklik om jou brein skerp en wakker te hou.
  • Pas jou skedule aan soos nodig. Vir sommige mense werk dit beter om vroeg soggens en saans te werk en deur die dag by die gesin te wees. Ander vaar beter as hulle in kort sarsies om die beurt werk en die kinders versorg. En ander het die struktuur van gewone werksure en af-tyd saans nodig. Wees kreatief oor hoe jy jou dag verdeel en vind ’n manier wat vir jou werk, maar hou dan by jou nuwe skedule.
  • Gebruik ’n dagboek. As jy jou daaglikse take neerskryf, vergeet jy dit nie sommer in die warboel tuis nie. Om vooruit te beplan, gee jou ook ’n mate van beheer oor hoe jou dae verloop.
  • Hou geraas tot ’n minimum. ’n Radio teen ’n lae volume is een ding, maar ’n blêrende televisie gaan jou aandag aftrek. Moet ook nie aanhoudend met jou maat oor jou werk gesels as hulle ook besig is nie. Gesels soggens of saans oor jul werksdag om mekaar te ondersteun, maar hou werksbesprekings vir kollegas.
  • Maak steeds tyd vir pret en ontspanning. Maak ’n afspraak om ’n lekker ete saam te kook, speel bordspeletjies as gesin, gaan stap soggens saam, en gesels nog gereeld met vriende en familie oor die foon. Ontspanning is noodsaaklik – sonder daardie balans kan jy uitbrand.
Meer oor:  Opname  |  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.