Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Proefbuisbaba’ se prof help ook sy ma

’n Meestersgraadstudent in menslike genetika aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein het nie net die professor ontmoet wat dit moontlik gemaak het dat hy as proefbuisbaba gebore kon word nie, maar hom ook as medestudieleier gehad.

Hannes Erasmus (29), ’n assistent-bio-analis by Farmovs, ’n kliniese navorsingsmaatskappy van die UV, vertel dit was oorweldigend toe sy ouers hom in 2015 na die bekende fertiliteitspesialis prof. Paul Wessels neem.

Bernadine en Hannes Erasmus. Foto: Verskaf

Wessels was destyds die kundige wat gehelp het dat sy ma swanger raak deur middel van ’n kunsmatige bevrugtingsmetode genaamd intrafallopiese gameetoordrag (Gift).

Hy was langer as ’n dekade die voormalige hoof van die departement van verloskunde en ginekologie aan die UV, en het deesdae sy eie praktyk, Fem-Spes, in die stad.

Burger en Esmaré, Erasmus se ouers wat op Struisbaai woon, wou hoor of hy bereid sou wees om Erasmus toegang tot sy private kliniek te gee. Hy het ingestem.

Dit is nadat hulle hom destyds by die Universitas-hospitaal geraadpleeg het toe hulle gesukkel het om swanger te word en deur vyf onsuksesvolle inplantings is.

Erasmus is agt jaar ná sy ousus, Carina Pretorius, gebore en 19 maande ná sy wonderbaarlike geboorte het sy kleinsus, Petra Cairns, gekom en dié keer het alles heel normaal verloop.

Erasmus se navorsing fokus op onvrugbaarheid onder mans.

Prof. Paul Wessels Foto: Verskaf

Hy sê sy geboorte speel ’n groot rol in die keuse van sy loopbaan en belangstellingsveld.

“Ek dink my geboorte het dit taamlik beïnvloed. Ek het altyd ’n belangstelling in genetika gehad en gewonder hoe die infertiliteitswêreld werk.”

Hy vertel sy pa het baie gehardloop en hy het begin wonder of daar ’n verband is tussen sportmanne en onvrugbaarheid.

Erasmus is oorspronklik van Kimberley en het ná skool ’n BSc in molekulêre biologie en biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en toe sy honneursgraad in gedragsgenetika by die UV. Hy kry later vandeesmaand sy meestersgraad.

Bernadine, sy vrou, is ’n onderwyseres by die Laer Meisieskool Oranje.

Op die vraag of hulle eendag wil kinders hê, sê hy dit is beslis die plan vir die toekoms, maar hulle is nie haastig nie.

• Wessels was saam met drs. Olga de Smidt en Gerda Marx mede-studieleier van Erasmus se meestersgraad. Sy hoofstudieleier was Sue-Rica Schneider.

Meer oor:  Prof. Paul Wessels  |  Hannes Erasmus  |  M-Graad  |  Proefbuisbaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.