Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Rooibos teen verkoue

Rooibostee is ’n goeie wapen teen die knaende wintersiektes, skryf Karla Janse van Vuuren.

Maak rooibostee deel van jou arsenaal om winterkieme te beveg.

’n Mens het al baie gehoor dat rooibostee bomenslike kragte het. Studies uitgevoer deur die Suid-Afrikaanse Rooibosraad het nou boonop bewys dat rooibos kragtige antioksidant-, antivirale en immuno-moduleringseienskappe het wat die liggaam se natuurlike immuunstelsel ’n hupstoot gee.

Volgens Marijke Ehlers van Rooibos Limited bevat rooibos antioksidante, veral aspalatien (uniek aan rooibos) en notofagien. “Dié antioksidante tree op as ‘jagters’ van vrye radikale in die liggaam wat verantwoordelik kan wees vir inflammasie. Dit het ook anti-spasmodiese eienskappe en is strelend vir die sentrale senuweestelsel.”

Prof. Christo Muller, hoofwetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad wat die navorsing behartig het, sê koue winterweer lei dikwels tot minder bloedvloei na ’n mens se arms en bene omdat die bloed na die middel van die liggaam verskuif om die lewensnoodsaaklike organe teen koue te beskerm.

“Stadiger bloedsomloop kan egter skade doen aan die immuunstelsel wat ’n mens dan meer vatbaar maak vir virusse wat verkoues en griep veroorsaak,” sê hy.

As jy warm rooibos deur die dag drink, verwarm dit die liggaam, en die strelende uitwerking daarvan help om algemene angstigheid en stywe spiere te laat ontspan.

“Tekens dat jou liggaam nie in balans is nie, is onder meer gewrigspyn, ’n droë vel, ’n stadiger metabolisme, hoë bloeddruk, depressie en verkoue wat nie wil wyk nie. As jy ’n heilsame dieet kombineer met sekere kruie en ook rooibostee, kan dit jou liggaam se ekwilibrium herstel,” sê Christo.

Dr. Nireshni Chellan, navorser by die navorsingsraad, sê dis ’n goeie idee om suurlemoensap by rooibos te voeg; dis vol vitamien C. Marijke sê borrie, gemmer, swart- en rooipeper by rooibos is verkouevegters.

Rooibos-met-skop

Hierdie drankie kan ’n seer keel streel.

Jy benodig (genoeg vir 1 drankie):

1 rooibosteesakkie

1 t vars suurlemoensap

1 t heuning

½ t vars gemmer (’n teelepel is beter)

’n knypie rooipeper

Só maak ’n mens:

1. Giet kookwater oor die teesakkie in ’n beker en laat vir minstens ses minute trek totdat dit lekker sterk is.

2. Roer die res van die bestanddele by en meng goed.

Wenk: As jy iets koels verkies, maak jou eie ysies deur die bogenoemde mengsel in ysie-vorms te vries of selfs in ysbakkies.

– Resep verskaf deur die Suid-Afrikaanse Rooibosraad.

Meer oor:  Rooibostee  |  Rooibos  |  Teen  |  Wintersiektes  |  Verkoue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.