Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Rose vir skenkers: ‘Hoe sê ’n mens genoeg dankie?’
Tina Beckbessinger met ’n skildery van haar orgaanskenker, die 17-jarige Carlize Lombaard.Foto: Werner Beukes

“Hoe kan ’n mens genoeg dankie sê vir iemand wat vir jou ’n tweede kans op die lewe gee?”

So vra Tina Beckbessinger (38), die ontvanger van die hart en longe van die 17-jarige Carlize Lombaard, op ’n seremonie wat Sondag in Houghton in Johannesburg gehou is om hulde te bring aan orgaanskenkers.

Beckbessinger, van Durban, wat met ’n verswakte hart gebore is, het Sondag vir die eerste keer Carlize se ouers, Calie en Lizette Lombaard van Barkly-Oos in die Oos-Kaap, ontmoet.

“Die enigste manier hoe ek hul dogter kan bedank, is om voluit te leef. Ek het onlangs begin gewigte optel, ry gereeld fiets en het selfs al aan ’n bikini-kompetisie deelgeneem,” sê Beckbessinger. Carlize se hart en longe is in 2011 in haar oorgeplant nadat Carlize weens ’n breinaneurisme dood is.

“Ek onthou hoe ongelooflik swak ek destyds was. Net om asem te haal, was bitter moeilik. Om doodeerlik te wees, ek het eintlik begin moed verloor dat ek ooit ’n nuwe hart en longe sou kry. Ek onthou hoe ek my kop kaalgeskeer het omdat ek selfs te swak was om my hare behoorlik te borsel. Calie en Lizette se dogter het my lewe gered.”

Tina Beckbessinger (middel) saam met Calie en Lizette Lombaard. Foto: Werner Beukes
Die Lombaard-egpaar het al die pad van Barkly-Oos in die Oos-Kaap gereis om die seremonie Sondag in Johannesburg by te woon. Van links is Calie Lombaard, Tina Beckbessinger en Lizette Lombaard.Foto: Werner Beukes

Volgens Beckbessinger, wat deesdae gereeld as ’n motiveringspreker optree, is sy een van die ontvangers wat die langste nog met dié nuwe organe leef. “Min mense besef hoe kosbaar die lewe eintlik is. Elke dag is ’n geskenk. As jy asemhaal, is dit ’n geskenk.”

Beckbessinger het as deel van die seremonie ’n roos as huldeblyk vir Carlize geplant.

Die Pretorianer Martin Odendaal (57) het ook Sondag sy hartskenker, die 17-jarige Bryn Magree, se ouers ontmoet.

Brett en Janine Magree het van Durban af gekom vir die seremonie.

“Dit is ’n groot voorreg om Bryn se ouers te ontmoet. Hulle het my vertel hy was ’n talentvolle sportman wat voluit geleef het. Ek sal hom ewig dankbaar bly. Ek weet sommer dat ek en sy ouers voortaan kontak sal behou en nog hegte vriende gaan word.”

Odendaal, wat in die vleisbedryf werk, het Bryn se hart in 2017 ontvang nadat hy in Februarie dié jaar ook weens ’n breinaneurisme dood is. Odendaal het hard teen die trane geveg toe hy ’n roos vir Bryn plant in die tuin van Foxwood House in Houghton, waar die seremonie gehou is.

Jan Groenewald, regisseur van 1 000 Lives, ’n SABC2-reeks, het die seremonie gereël.

Die televisiereeks fokus op die skenkers en ontvangers van organe asook die behoefte aan sulke skenkings.

Volgens Groenewald was dit ’n historiese oomblik toe die ontvangers die gesinne van hul skenkers ontmoet. “Daar word na my mening te min aandag gegee aan die skenking en oorplanting van organe, wat dikwels iemand se enigste hoop op oorlewing is. Wat vandag hier gebeur, het almal in trane, maar dit is belangrik om ’n boodskap van hoop oor te dra aan ander mense wat nog op organe wag,” sê Groenewald.

Tina Beckbessinger plant ’n roos vir haar orgaanskenker, Carlize Lombaard, in die tuin van Foxwood House in Houghton, Johannesburg, waar die seremonie gehou is. Foto: Werner Beukes
Die Pretorianer Martin Odendaal het ook Sondag ’n roos vir sy orgaanskenker, die 17-jarige Bryn Magree, geplant.
Martin Odendaal en sy vrou, Rene, saam met die ouers van sy orgaanskenker, Bryn Magree. Van links is Brett Magree, Odendaal, Rene Odendaal en Janine Magree. Foto: Werner Beukes
Martin Odendaal (regs) en Brett Magree, die pa van sy orgaanskenker, Bryn. Foto: Werner Beukes

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.