Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ruk só mondsiektes in die bek

    Veroudering is ’n natuurlike proses waardeur ons almal moet gaan, en dikwels met die ongerief van ouderdomverwante siektes gepaardgaan. Danielle Daniëls het meer gaan uitvind oor mondsiektes wat onder ouer persone voorkom.

    Bejaardes behoort elke ses tot 12 maande ’n tandarts te besoek, veral as hulle steeds hul eie tande het. Foto: Pixabay

    Ontwikkeling en verbetering van medisyne en gesondheidsorgdienste het daartoe bygedra dat ’n mens se gemiddelde lewensverwagting nou veel hoër is.

    Meer mense leef deesdae langer en die ouer gedeelte van die bevolking raak nóg ouer. Volgens die Verenigde Nasies is die snelgroeiendste bevolkingsegment in die meeste lande, mense ouer as 80 jaar.

    Volgens dr. Johan Hartshorne, ’n tandarts by Intercare Tygervallei, het bejaarde mense gesondheidsprobleme wat spesifiek aan hoë ouderdom gekoppel kan word. Hierdie probleme, waarvan mondsiektes een is, vereis spesiale aandag hoe ouer jy word.

    “Die algemene mondsiektes wat gewoonlik by bejaardes voorkom, is tandverrotting, perio­dontale siekte (tandvleis), droë mond, tandverlies en voorkankerletsels.”

    Dr. Suné Mulder, ’n spesialis in mondgeneeskunde en periodonsie van Somerset-Wes, stem saam dat bejaardes aan tandbederf, tandvleisinfeksie, beenverlies, orale infeksies en mondletsels kan lei.

    “Hierdie toestande kan baie ongemak veroorsaak en ook ’n negatiewe impak op jou lewensgehalte hê. Bejaardes ervaar in sommige gevalle erge tandbederf omdat hulle partykeer sukkel om hul mond deeglik skoon te maak as gevolg van ’n afname in handvaardigheid (veral waar die persoon aan toestande soos Parkinson se siekte of artritis ly).”

    In bejaardes wat aan chroniese siektes ly en partykeer ’n swakker immuunstelsel het, is die risiko om mondsiektes te ontwikkel hoër.
    Dr. Suné Mulder

    Oorsake van mondgesondheidsprobleme

    Dr. Hartshorne sê die volgende faktore beïnvloed tot ’n groot mate die mondgesondheid van ’n bejaarde:

    • Kroniese sistemiese siektetoestande. Die teenwoordigheid van kroniese sistemiese siektetoestande soos hoë bloeddruk, suikersiekte en artritis, beïnvloed nie net ’n ouer persoon se vermoë om behoorlike mondhigiëne te handhaaf nie, maar hou ook direk verband met die voorkoms en ernstigheidsgraad van tandvleissiektes soos periodontitis.
    • Voeding. Gesonde tande en tandvleis speel ’n groot rol in goeie voeding en gesondheid. Kunsgebitte by tandelose mense sal oor die algemeen koufunksie en voedingstatus verbeter.
    • Droë mond. Afname in speekselklierfunksie en ’n droë mond word algemeen met veroudering vereenselwig. Speeksel speel ’n belangrike rol in vertering en die beskerming van die mondholte, boonste lugweg en spysverteringskanaal. ’n Droë mond lei veral tot ’n groter voorkoms van tandverrotting en irritasie asook ongemak van die mondslymvlies. Kroniese medikasie kan ook aanleiding gee tot ’n droë mond.
    • Mondslymvliesveranderinge. Die mondslymvlies speel ’n belangrike beskermende funksie wat ’n groot uitwerking op die algemene gesondheid en welsyn van ’n bejaarde het. Dit beskerm jou teen indringing van bakterieë en toksiese chemikalieë. Met ouderdom raak hierdie selmembraan baie dun en verloor dit tot ’n groot mate sy beskermingsfunksie. Verkeerde tandepasta, mondspoele en kunsgebitte wat swak pas, kan verder ’n skadelike effek op die mondslymvlies hê wat tot ongemak en pyn kan lei.
    • Tandveranderinge. Soos jy ­ouer word, raak jou tande bros en vind groter slytasie plaas. Dit kan die voorkoms van jou tande aansienlik verander, sensitiwiteit veroorsaak en kouvermoë beïnvloed.
    • Tandvleissiektes (periodontitis). Periodontale siekte of kroniese tandvleisontsteking is een van die mees algemene kroniese siektes wat by bejaardes voorkom. Die voorkoms en ernstigheidsgraad daarvan neem toe met ouderdom. Swak mondhigiëne vererger die voorkoms en ernstigheidsgraad daarvan. Periodontitis is een van die grootste oorsake van verlies van gesonde tande by bejaardes.
    • Swakpassende kunsgebitte. Swakpassende kunsgebitte veroorsaak dikwels ontsteking en infeksie van die tandvleis in die verhemelte. Dit lei tot druksere van die mondslymvleis wat ongemak veroorsaak en eet bemoeilik.

    Volgens dr. Mulder kan mondsiektes op enige stadium voorkom. Die risiko vir mondsiektes word beïnvloed deur die pasiënt se gewoontes en algemene gesondheid.

    “In bejaardes wat aan chroniese siektes ly en partykeer ’n swakker immuunstelsel het, is die risiko om mondsiektes te ontwikkel hoër. Dus is dit belangrik om gereeld jou mondgeneesheer te besoek om seker te maak dat alle aspekte van jou mond gesond is.”

    Bejaardes se dieet bestaan gewoonlik uit hoë koolhidrate omdat dit makliker is om te kou en te verteer.
    Dr. Christiaan Vorster

    Hoe gereeld moet bejaardes ’n tandarts besoek?

    Dr. Christiaan Vorster, ’n prostodontis (kroon- en brugspesialis), wat in tandheelkunde spe­sialiseer, sê bejaardes behoort elke ses tot 12 maande ’n tandarts te besoek, veral indien hulle steeds hul eie tande het.

    “Bejaardes se dieet bestaan gewoonlik uit hoë koolhidrate omdat dit makliker is om te kou en te verteer. Maar daarmee saam skakel die koolhidrate vinniger om in suiker wat tandbederf aanhelp en die tande vinniger laat agteruitgaan. Dit is hoekom bejaardes meer gereeld die tandarts behoort te besoek, sodat moontlike probleme vinniger aangespreek kan word, eerder as om te lank te wag voordat ’n tand verwyder sou moes word.”

    Dr. Vorster sê die meeste mense dink dat bejaardes net geskik is om kunsgebitte te dra.

    Voorkomende mondsorg

    Dr. Hartshorne verduidelik dat elke individuele bejaarde eiesoortige behoeftes, omstandighede en probleme het.

    Voorkomende sorg en behandelings moet aangepas word na die eiesoortige behoeftes van elke persoon.

    “Daar is ook baie ander faktore wat die uitkoms van voorkomende sorg en goeie mondsorg by bejaardes affekteer, byvoorbeeld algemene liggaamswakheid, vergeetagtigheid en samewerking, fisiese beperkings en vermoëns weens artritis, Parkinson se siekte en beroertes, finansiële hulpbronne, mobiliteit en vervoer na plekke waar dienste beskikbaar is. Bejaardes het al die gewone basiese tandheelkundige behandeling nodig wat mense van alle ouderdomme benodig, byvoorbeeld vulsels, krone, brûe, verwydering van tande, prostese en inplantate.”

    Ander opsies vir bejaardes om weer mooi te glimlag

    Dr. Vorster sê die meeste mense dink dat bejaardes net geskik is om kunsgebitte te dra.

    “Hierdie is egter nie ’n waar stelling nie, want ons kan deesdae inplantate met baie groot sukses plaas.

    “Hierop kan inplantaat-gesteunde kunsgebitte vasgeheg word, of vollemondse tandprostese direk vasgeskroef word op inplantate in die bo- en onderkaak waar hierdie tande nie meer verwyder word nie, maar die naaste sal wees aan jou eie tande soos voorheen.”

    Verbeter jou mondhigiëne
    • Tandeborsel. Borsel ten minste twee keer per dag jou tande. As jy sukkel om jou tande te borsel, weens ’n probleem met handvaardigheid, skaf ’n elektriese tandeborsel aan wat jou mond ordentlik skoon sal maak.
    • Vlos. Dit is belangrik om tussen jou tande skoon te maak – ten minste een keer per dag. Indien jy sukkel om los stukkies vlos te gebruik, gebruik eerder kleiner borseltjies of vlos met ’n handvatsel.
    • Valstande. Indien jy valstande dra, moet jy dit daagliks met ’n tandeborsel skoonmaak. Skoonmaakprodukte(soos Corega of Sterident) kan ook gebruik word om bakterieë en swamme te verwyder. Tandartse beveel ook aan dat jy jou gebit snags uithaal.
    • Mondspoel. Daar is ’n groot verskeidenheid mondspoelmiddels beskikbaar in die winkels. Die keuse van watter mondspoel om te gebruik, word deur jou unieke behoeftes bepaal. Indien jy byvoorbeeld met ’n droë mond sukkel, kan jy uitkyk vir mondspoelmiddels wat geen alkohol bevat nie en help om jou mond minder droog te laat voel.
    • Hou op rook. Rook het ’n ongelooflike negatiewe impak op mondgesondheid (asook algemene gesondheid) en verhoog jou risiko om mondkanker te ontwikkel.
    • Dieet. Bejaardes moet daarop bedag wees dat enige soet kosse of drankies nadelig vir jou tandgesondheid kan wees. Gebruik eerder natuurlike versoeters en kies suikervrye medikasie. Suikervrye kougom help met stimulering van speekselvloei.
    Meer oor:  Gesondheid  |  Siektes
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.