Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Seldsame borskanker op ‘wonderbaarlike’ wyse oorwin

Geloof en ’n ‘wat-ook-al-dit-sal-vat’-houding kan grootliks help om borskanker vierkantig in die oë te staar. Tasneem van Rooyen gesels met Nicola Marsh oor hoe dié gesondheidsvegter fase vier-borskanker kon klop en gesond anderkant kon uitkom.

Nicola Marsh (39) van Edgemead was 37 toe sy met borskanker gediagnoseer is. “Tot op die dag van my diagnose het ek ’n dowwe, aanhoudende pyn in die ribbes en lewer ervaar.

“Toe die pyn in my linkerribbekas ondraaglik word en nie meer met gekoopte medikasie behandel kon word nie, het ek geweet dié pyn is anders,” sê Nicola.

Sy sê tydens die behandeling vir die pyn het sy agtergekom die voorkoms van haar bors het verander. ’n Groot duik het in haar bors ontwikkel en haar vel het op ’n abnormale manier begin span.

“Toe ek my linkerarm oplig om ondersoek in te stel, het ek gesien die duik het dieper geword en ek het geweet iets is nie reg nie.”

Eerste doktersbesoek

Nicola se eerste doktersafspraak nadat sy die duik in haar bors ontdek het, was met dr. Fourie van Edgemead.

“Sy het my al vir jare vir kommerwekkende borsafwykings behandel, dus het ek haar eerste gekontak.

“Sy was onmiddellik bekommerd oor die bors se voorkoms sedert my vorige ondersoek en het ’n afspraak vir my gereël by ’n borsspesialis, dr. Justus Apffelstaedt.”

Volgens Nicola is dit ’n wonderwerk dat sy ’n afspraak vir die volgende werksdag kon kry aangesien daar ’n tekort is aan spesialiste, wat dit moeilik maak om gou gehelp te word.

Nicola Marsh het borskanker oorwin met optimisme, uitstekende dokters en die ondersteuning van familie en vriende. Foto: VERSKAF

Sy sê die ondersoek by die spesialis het bestaan uit ’n mammogram en ’n 3D-bors-ultraklank.

“Deur middel van die ultraklank is die afwyking in my bors opgespoor waarna die dokter ’n biopsie van die borsweefsel weggestuur het vir toetse.

“Die volgende oggend is ek met borskanker gediagnoseer. Na die diagnose het die dokters roetine-toetse uitgevoer.”

’n Week na Nicola se eerste afspraak het haar onkoloog, dr. Rika Pienaar van Cancercare Panorama, vir haar en haar man ingelig dat sy fase vier-borskanker het, met metastase in haar lewer, ribbes en ruggraat. Die slegte nuus hiervan, het sy haar meegedeel, is dat hierdie soort kanker nie ’n hoë sukseskoers het nie.

“My onkoloog het my van die beste behandeling moontlik verseker om my kanse te verbeter.

“Die kanse was skraal, maar ek was vasberade om enige iets te doen om dié siekte te takel en hopelik in remissie te gaan,” sê Nicola oor daardie eerste dae nadat sy gediagnoseer is.

Behandeling

Hoewel Nicola se geval ietwat buitengewoon was en daar geen presiese behandelingsplan bestaan het nie, het die span dokters van Cancercare alles probeer wat hulle kon om ’n behandelingsplan volgens haar siekte uit te werk.

“Die behandeling het bestaan uit drie weeklikse chemoterapie-sessies vir sowat vier ure per sessie by Cancercare se sorgeenheid in Panorama, ’n kanker-blokkeer-inspuiting, ’n hormoon-blokkeer- inspuiting sowel as ’n beenversterker.”

Hierdie behandeling het vir sowat vyf maande aangehou totdat Nicola nie meer die chemoterapie kon hanteer nie omdat sy verskriklik siek geword het na elke sessie.

Sy was oor ’n tydperk van twee maande in en uit die hospitaal met ’n verlaagde witbloedseltelling.

“Ek moes met witbloedselstimuleerders behandel word, afgesonderd bly en besoekers moes maskers dra asook skoenomhulsels, wat hulle elke keer moes ontsmet as hulle inkom.”

Toe dié terapie tot ’n einde kom, het sy aangehou met die kanker-blokkeer-inspuiting en die beenversterker.

Sy is nou al ’n jaar lank op hierdie program en volgens haar is die uitslae wonderbaarlik.

“Aan die begin van die Covid-19-inperking is die gewas uit my bors verwyder omdat dit so goed verklein het, dat dit verwyder kon word. Dit is ’n wonderwerk vir my omdat daar vir my gesê was ek moet voorberei vir ’n mastektomie,” vertel sy.

In Meimaand het Nicola die nuus ontvang waarvoor sy gehoop en waarin sy geglo het: Sy is in remissie.

Al die kanker in haar lewer, ribbes, ruggraat en bors is weg.

“Die dokter en ons almal was stomgeslaan en regtig dankbaar vir iets wat my familie as ’n wonderwerk beskou!

“Ek hou aan met die behandeling van drie weke, sowel as die hormoon-blokkeer-pil. Die plan is om hopelik vir die volgende vyf jaar aan te hou met die behandeling om te verseker dat die kanker nie weer terugkom nie.”

Hoe haar lewe verander het

“Om te hoor jy is by die finale vlak van fase vier, was oorweldigend, maar dit het ’n intensiteit by my laat ontstaan. Ek is daarop gefokus om hierdie siekte te oorwin,” vertel Nicola.

“Ek het ’n ongelooflike goeie man en twee pragtige dogters saam met wie ek graag nog vir ’n lang tyd die lewenspad wil stap,” sê sy.

Nicola vertel dat sy en haar gesin die houding ingeneem het dat dit sý is wat met kanker lewe en dat sy nie sal toelaat dat kanker saam met háár leef nie.

Hoewel hulle nie baie fisieke veranderinge gemaak het aan hul gesinslewe nie, het hulle wel daaraan gewerk om hul harte en denke te verander.

“Ons geloof en houding het ons besluite vir die pad vorentoe gevorm,” sê sy.

Vir Nicola was een van die grootste uitdagings dat haar rol as vrou, ma, dogter en vriendin baie anders begin lyk het.

In die week van haar behandeling het sy nie die energie of breinkapasiteit gehad om normale take uit te voer soos kosmaak, skoonmaak, help met tuiswerk of om vir ander te sorg nie.

Sy moes ook haar gemeenskapswerk by haar kerk en die plaaslike skool beëindig.

Wie sy is, hang nie meer af van wat sy doen nie, maar van wie sy aan die binnekant wil wees.

Hoe sy positief gebly het

Nicola sê haar geloof in die Here asook die aanneem van ’n “wat-ook-al-dit-sal-vat”-houding het haar gehelp om optimisties te bly.

“Ek het vrede gemaak met die uitkoms van lewe én dood, solank ek my doel in die lewe uitgeleef het.”

Hierdie denkwyse, tesame met die opbouende gebede, ondersteuning en boodskappe van familie en vriende, het vir Nicola deur die proses gehelp.

Meer oor:  Borskanker  |  Pyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.