Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Selfdood: Daar’s hande wat kan help

Selfdood is aan die toeneem, veral in die inperkingstyd, ook in Suid-Afrika. Die sangeres Lize Beekman vertel aan Maryke Roberts hoe sy opgestaan het ná sy haar geesgenoot so verloor het.

Die musikant Lize Beekman vertel sy’t weer hoop nadat sy haar geesgenoot deur selfdood verloor het. Foto: Christelle Pretorius

Die bekende sangeres Lize Beekman se stilte en vrede kom van ver ente langs Melkbosstrand se wit strand stap. April agt jaar gelede, ná die selfdood van haar geesgenoot, Annake de Villiers, het haar wêreld tot stilstand gekom. Maar die toekoms lê weer oop en mooi voor haar.

April agt jaar gelede, ná die selfdood van haar geesgenoot, Annake de Villiers, het haar wêreld tot stilstand gekom.

Voor daardie April was haar konserte volbespreek, sy’t geskryf vir bekendes soos Amanda Strydom, Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Coenie de Villiers, daar was optredes in Nederland, Australië, Duitsland en Londen . . .

Dit het als 25 jaar terug begin toe Lize ná haar studie by ’n platemaatskappy gaan werk het. Sy’t ’n kasset met van haar liedjies in haar lessenaarlaai gehou vir ingeval Amanda Strydom daar instap. Toe gebeur dit en enkele dae later komponeer hulle saam vyf liedjies vir Amanda se album Vrou by die spieël. Oor twee dekades skryf Lize meer as 100 liedjies, onder meer die temaliedjies vir Soutmansland en Pasella.

Toe verloor sy haar geesgenoot – en die musiek in haar raak stil, want te midde van die storm in haar binneste kon sy nie musiek hoor nie.

Haar talent skuif na die visuele kunste. Sy begin in die warboel van emosies mandalas teken. Sy skryf op Facebook: “Die woord ‘mandala’ beteken gewoon ‘sirkel’. Vanaand het ek bietjie see toe ge­stap om te gaan kyk hoe die son-mandala nader en nader aan die blou dam staan. Asof hy dors is ná die dag se reis. Dit was mooi.” Aanvanklik teken sy net sirkels, maar soos sy weer haar voete gevind het, begin sy buite die sirkels beweeg met die toevoeging van figure – eers net silhoeëtte, maar deesdae ook gedetailleerde sketse van mens en dier.

Ek is dankbaar om te kan sê dat ek onlangs weer my skryfpen en notaboeke opgetel het en weer begin skryf het.

Vele solo-uitstallings, mandala-slypskole en praatjies oor die land heen, waar sy soms ’n paar note op haar kitaar getokkel het, volg. Op haar webwerf is dit vir etlike jare nie konserte waarvoor daar enige hofies is nie, maar eerder vir haar visuele kunswerke en ook kaartjies, plekmatjies en strooikussings, alles versier met haar mandalas, onder die naam Kalm. Die ontwerpe en druk daarvan hanteer sy alles self. Drie van die gewilde inkleurboeke vir volwassenes met haar mandalas het al verskyn.

“Ek is dankbaar om te kan sê dat ek onlangs weer my skryfpen en notaboeke opgetel het en weer begin skryf het,” vertel sy.

Intussen het sy ook haar huis opgeknap en plek ingeruim vir ’n galerytjie en ateljee. Sy’t self ’n tafel aanmekaar getimmer wat in die galerytjie staan waarrondom tien mense kan sit, vir haar gewilde “Lize se langtafel: kos, musiek, kuns”.

Haar vriendin die avonturier Anette Grobler van Silent Steps hanteer die besprekings.

Lize se pad na herstel

Sy erken dat vandag se Lize anders is as die een destyds. “Agt jaar gelede was dit soos ’n stormwind wat opgekom, my bene onder my uitgeslaan en my in die lug op gegooi het. Wanneer jy in die lug rondgegooi word, is daar nie iets waaraan jy kan vasklou nie, en die hoeke waaruit jy alles rondom jou sien, is anders as toe jy op gelyk grond gestaan het, waar alles vir jou bekend is en jy dink jy weet alles. Nou herinner ek myself elke dag om gestroop te beweeg in die oomblik waar ek is; om op te daag vir wat oor my pad kom; om nie op te hou om dinge te bevraagteken, te ondersoek en te leer nie.”

En dan is ek op ’n wonderbaarlike manier gelei tot by: ‘Be still and know that I’m with you, be still and know that I am God’

Sy erken sy’t geen wysheid of raad vir iemand wat ’n geliefde aan selfdood verloor het nie. “Ek kan net my ervaring deel. Eerstens moes ek déúr dit en nie rondom dit gaan nie. En dan is ek op ’n wonderbaarlike manier gelei tot by: ‘Be still and know that I’m with you, be still and know that I am God’. Ek ken die woorde al lank, maar dit het onlangs eers weer my pad gekruis, en dié keer met die kennis dat die oorspronklike Hebreeus se direkte vertaling “let go of your grip” is.

“Nou, as ek terugkyk op my pad, is die oomblik waar ek my greep laat los het só duidelik: die oomblik toe ek erken het ek het nie die antwoorde nie, ek weet nie hoe om die verskriklike hartseer en innerlike chaos deur te sien nie, en dat ek bang is dat ek nie kan nie. Wanneer ons ons greep laat los, gaan ons hande oop, en dan is ons hande beskikbaar om geneem te word. Ek kan ongetwyfeld getuig dat ek van oomblik tot oomblik aan die hand gelei is tot by innerlike stilte en vrede, en dis steeds elke dag so as ek my hande oophou.”

Dr. Elize Morkel, ’n kliniese sielkundige, sê jou routyd hoef nie binne ’n spesifieke boksie plaas te vind nie.
Hoe verwerk jy jou maat se selfdood?

Dr. Elize Morkel, ’n kliniese en voorligtingsielkundige met meer as 30 jaar se ervaring in privaat praktyk, gee die volgende raad: “Die emosionele reaksie van rou en trauma wat volg op die selfdood van ’n maat, is baie intens en dikwels gevul met ’n kraaines van vrae. Saam met die intense verlies is daar ook dikwels ’n baie komplekse proses van sin en betekenis maak van die selfdood. Mense het verskillende maniere om sin te maak. Sommige soek inligting, party praat daaroor, sommige skryf en ander onttrek terwyl hulle met die singewingsproses besig is. Daar is dikwels selfverwyt, gevoelens van verraad, magteloosheid, woede en verwerping.

Jy behoort jou nie te laat voorskryf hoe lank die proses van singewing en rou moet duur of hoe dit moet verloop nie.

“Jy behoort jou nie te laat voorskryf hoe lank die proses van singewing en rou moet duur of hoe dit moet verloop nie. Neem die tyd en ruimte wat jy nodig het hiervoor. Die tragedie en voortydigheid van selfdood, die vlak van wanhoop en uitsigloosheid wat so ’n daad verg, maak die pyn vir die maat wat agterbly soveel meer intens.

“Gesprekke met ’n professionele persoon kan help om sin te maak en ’n veilige ruimte bied om te rou en algaande ’n pad vorentoe te vind. Goeie vriende kan ’n hupstootjie gee en hand vashou met die eerste paar wankelende treë op daardie pad.”

Volgens statistieke van die Suid-Afrikaanse Depressie­-en-Angsgroep (Sadag) het voorvalle van depressie, angs en selfdood toegeneem sedert die staat van inperking se begin. Eensaamheid en isolasie is ’n herhalende tema onder die inbellers. Dit kan negatiewe gevolge vir geestesgesondheid inhou.

Wees pront en praat openhartig oor selfdood wanneer jy dink iemand oorweeg dit. Maar wees ook gewillig om te luister.

Laat die persoon sy gevoelens uitdruk en wees ontvanklik vir alle gevoelens, sonder om te oordeel. Moenie debatteer of selfdood reg of verkeerd is nie; moenie preek oor die waarde van ’n lewe nie.

Raak betrokke en wees beskikbaar om te luister.

Moet nooit iemand uitdaag om selfdood te pleeg nie en moet nooit geskok wees as iemand hierdie gedagtes met jou deel nie.

Moet nooit iemand uitdaag om selfdood te pleeg nie en moet nooit geskok wees as iemand hierdie gedagtes met jou deel nie. Dit sal ’n wig tussen julle dryf en jy sal daardie persoon se vertroue verloor.

Moet nooit instem om die geheim te bewaar nie; soek hulp. Vra of jy ’n gesinslid of ander vriend mag betrek. Verwyder alle moontlike gevare: pille, vuurwapens.

Moet hulle nooit net aan hulself oorlaat nie, kry hulp van ’n kenner.

Jy kan die Suid-Afrikaanse Depressie­en-Angsgroep (Sadag) se 24 uur-geestesgesondheidshulplyn bel by 0800 456 789 of 011 234 4837 of die Selfdood-krisislyn by 0800 567 567. Die WhatsApp-geselslyn is 076 882 2775 of SMS 31393.

Jy kan ook namens vriende bel as jy wil help.

Meer oor:  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.