Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
James (7) glimlag weer ná operasie

’n Sewejarige wat met ’n gesplete lip en verhemelte gebore is, kan weer glimlag en amper normaal eet nadat hy ’n operasie ondergaan het om sy mond te herstel.

James Mellish, ’n gr. 2-leerling van Sunningdale in Kaapstad, het reeds drie operasies ondergaan. Die laaste een was op 15 Januarie in die Louis Leipoldt-hospitaal.

Dr. Louwrens Swart, ’n kaak-, gesig- en mondchirurg van die hospitaal, sê hy doen sowat vyf tot ses van hierdie operasies per jaar, maar hy het lanklaas ’n jong man ontmoet wat so volwasse is.

“Dis lekker om saam met hierdie kind ’n pad te stap,” sê Swart.

Swart het in samewerking met dr. Marius Coetsee, ’n ortodontis, hierdie fase van die behandeling beplan. Die tydsberekening is soms moeilik om presies te bepaal wanneer die optimale resultaat verkry kan word (tussen sewe en 12 jaar).

’n Driedimensionele foto is van James se gesig geneem. Die dokters kon toe bepaal dat sy tande reg is om te groei, maar dat daar weens die spleet nie plek is nie.

Klein James Mellish glimlag weer. Foto: Verskaf

Swart en dr. Siegi Rabe, die plastiese chirurg, het ’n twee uur lange operasie op James uitgevoer.

Daar is nie been by die plek waar sy tandjies ontwikkel nie en daar moet nou ’n tand in daardie posisie inbeweeg, sê Swart.

’n Stukkie been is uit sy heup verwyder en in sy mond oorgeplant waarin die hoektand kan groei. Hy het verder ook ’n opening tussen sy mond en neus gehad, waardeur vloeistof kon vloei, en dit is ook in die operasie toegemaak.

Ingrid Anderson, James se ma, sê dit gaan goed met hom en hy eet al normaal. Hy kan nog net nie vaste kos eet nie.

“Hy neem alles in sy stride, ek kan dit nie altyd glo nie. Hy is soos ’n klein grootmensie.”

Dis juis James se sprankelende persoonlikheid wat Swart inspireer.

Swart werk nooit op sy verjaardag nie, maar het verlede jaar op 19 September wel op sy 57ste verjaardag gewerk. “James het Wêreldbekerrugby-kaarte bymekaargemaak en hy vra toe dat ek moet saamspeel. Ek moes ’n nommer gee, dan gee hy my die speler se naam asook statistieke van die speler. Die woorde van die volkslied was ook op die kaartjies.”

En net daar sing James vir hom die volkslied in sy spreekkamer.

“Ek het hoendervel gekry van ’n kind wat so trots is op sy land en wat so trots is dat hy die volkslied ken. Dis die gees van die mense van Suid-Afrika, van hoe ons mense moet wees. Hy is so ’n taai seun, dit is wonderlik.”

Swart sê dit is soms goed vir pasiënte om te weet dat dokters ’n menslike kant het en hoewel daar pasiënte was wat ’n bietjie langer moes wag, was dit vir hom belangrik om James toe te laat om voluit die volkslied te sing.

“As ek daardie magic van James weggeneem het en hom nie kans gegee het nie, wonder ek of ek nie ’n deeltjie van sy sielkundig groei sou inperk nie. ’n Kind moet ook wys hy kán iets bereik en trots wees daarop.”

James se vrae oor sy operasies het Swart ook beïndruk. “Hy is baie volwasse vir sy ouderdom. Hy kry baie ondersteuning van sy ma en ouma. Hoewel hy klein is, het hy baie pertinente vrae gevra. Hy verstaan die situasie waarin hy is. Baie kinders sal in stressituasies ’n kinderhouding of ’n huilposisie inneem. Hy het egter opgestaan en sy innerlike krag gewys. Ons as volwassenes kan ’n boompie buig en help vorm, ons moet net asseblief nie die boompie knak nie.”

James het nog ’n lang pad om te stap totdat sy gesplete lip en verhemelte heeltemal herstel is.

“Ek is seker dat hy met die regte simpatieke ondersteuning sy positiwiteit sal behou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.