
As jy gewig wil verloor na die vakansie, moet jou kop en jou dieet reg wees Foto: ISTOCK
Die feesseisoen is amptelik verby en dis tyd om weer die regte wêreld aan te pak. Terwyl jy besig is, raak sommer ook ontslae van die ekstra gewig wat jy aangesit het.
Bernice Venter van GENEway sê dis belangrik om eerstens te verstaan waarom jy in die vakansie gewig aansit.
“Jy is nie meer in ’n roetine nie, jy is weg van die huis af, so daar is dalk meer geleenthede om te gaan uiteet. Dit is altyd lekker om ’n roomys op die strand te eet. Jy kuier of braai meer waar jy gereeld eet, jy oefen nie so baie nie en dit is natuurlik ’n feestyd waar daar altyd ’n oorvloed van kos is. So waar begin jy? Jy begin om al die vakansiegewoontes af te leer en weer in ’n gesonder roetine te kom.”
Carina Brits, ’n gesondheidspraktisyn van EWC MediWellness Centre, sê gewigsverlies is en was nog altyd ’n uitdagende proses vir die meeste mense.
“Indien jy nog altyd oorgewig was en bekommerd raak oor jou gesondheid, sal dit nodig wees om by ’n goeie gesondheidspraktisyn uit te kom wat nie net help met die regte eetplan om gewig te verloor nie, maar wat jou ook kan help om spesifieke leefstylgedragspatrone permanent te verander.
“Dit is soms nodig om te verstaan wat jou gedragspatrone dryf en dan hard te werk om dit te verander waar jy kan. Slegs dan gaan dit makliker raak om nuwe patrone te vorm. Die vetjies sal dan outomaties afbly!”
Sy sê sommige mense volg reeds ’n goeie leefstyl, maar het die vakansie ’n bietjie afgewyk en wil dalk net van ’n paar kilogram ontslae raak. “Streng porsiebeheer, goeie koskeuses en ’n aktiewe leefstyl is dan die enigste manier.”
Die regte dieet vir jou
Volgens Carina is hierdie ’n moeilike onderwerp aangesien daar soveel teenstrydighede en navorsing bestaan oor verskillende diëte asook die voor- en nadele daaraan verbonde.
“Maak seker dat jy jou mediese profiel in ag neem (ook jou familie se mediese geskiedenis) voordat jy sommer ’n nuwe leefstyl of dieet begin volg.
“Indien jy onseker is, besoek ’n gesondheidspraktisyn wat jou kan help met die proses. Die nuutste opsie deesdae is om eers jou gene te laat toets.”
Volgens Bernice is genetiese toetse die beste manier om uit te vind wat die regte dieet vir jou is. “Met hierdie toetse kan presies gesien word watter soort dieet die beste vir die pasiënt sal werk. Dit skakel die raaiwerk uit. Daarna word gekyk na die persoon se doelwitte – hoeveel hulle wil weeg, is daar enige siektes wat in ag geneem moet word, ensovoorts. Sodra die persoon hul doelgewig bereik het, word daar oor leefstyl gesels.”
Belangrikheid van psigiese gesondheid wanneer jy gewig wil verloor
“Jy moet die pad wil stap om gesonder te wees. As praktisyns kan ons jou lei oor watter gesonder keuses om te maak en ’n pad saam stap vir ondersteuning, maar jy moet self verantwoordelikheid neem en die leefstyl implementeer,” sê Bernice.
Die regte leefstylaanpassings
Bernice sê wanneer jy gewig wil verloor, veral na die vakansie, is daar verskeie aanpassings wat jy moet maak.
“Goeie koskeuses, porsiekontrole, gesonder kookmetodes, roetine en om meer aktief te wees, is gewoonlik wat jy moet doen om gewig te kan verloor.”
Veiligste maniere om gewig te verloor
Volgens Bernice kan jy die volgende toepas om op ’n veilige manier gewig te verloor:
- Gaan sien ’n gesondheidspesialis.
- Volg ’n plan spesifiek vir jou behoeftes en liggaamsgewig.
- Geen tydelike gewilde diëte nie. Dit moet ’n verandering van leefstyl en nie net ’n “quick fix”-dieet wees nie.
- Jy moet die wilskrag hê om ’n verandering te wil maak.
Behandelings om te oorweeg vir gewigsverlies
“Die meeste van die estetiese liggaamsbehandelings kan aanvullend tot jou dieet en nuwe leefstyl gedoen word. Voorbeelde sou wees endermologie vir limfdreinering, beter bloedsirkulasie en fermer vel, of Ozone-sauna-behandelings om te help met die proses van ontgifting, bloedsirkulasie en om jou metabolisme te stimuleer,” verduidelik Carina.
Sy voeg by dat indien jy hardnekkige vet op sekere dele het wat nie wil verdwyn nie, al oefen en dieet jy, die vetvriestegniek ’n baie goeie opsie is.
“Dit is egter belangrik om altyd te onthou dat daar geen kitsoplossings is nie! Die liggaamsbehandelings is net deel van ’n groter prentjie. Jy sal uitstekende resultate kry as jy jou doelwitte holisties aanpak.”