Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Só verseker versorgers hul geliefdes is veilig

Om ’n bejaarde te versorg is ’n veeleisende taak wat meeste van jou tyd in beslag neem, dus moet versorgers sorg dat hulle gereeld blaaskanse neem om te verhoed dat hulle uitbrand. Danielle Daniëls het gaan uitvind hoe om die nodige voorsorg te tref sodat jou geliefde goed versorg word terwyl jy weg is en jy dus met ’n geruste hart kan gaan ontspan. 

Dit is belangrik om vooraf reëlings te tref wanneer jy sonder jou bejaarde geliefde vakansie gaan hou. Nie net bied dit vir jou gemoedsrus nie, maar maak dinge ook makliker vir jou familielid. Foto’s: ISTOCK

Die maatskaplik-ekonomiese werklikheid van vandag beteken dat al hoe meer bejaarde ouers by hul volwasse kinders moet gaan woon.

Volgens dr. Martin de Villiers, mediese direkteur van Medwell SA, is hierdie werklikheid ’n globale tendens.

“In hierdie scenario word die bejaarde dikwels aangetas deur ’n chroniese siekte soos kanker, hartversaking of demensie, wat dan skielik een of meer van die familielede in die rol van ’n informele versorger plaas. Die familie-versorgers lewer ’n breë reeks dienste aan hul bejaarde familielid wat oor die spektrum van alle dag-tot-dag aktiwiteite strek.”

Waarom ’n versorger van ’n bejaarde ook ’n blaaskans moet neem?

Dr. De Villiers sê in baie gevalle is die saamwoon ’n simbiose waar die gesonde bejaarde ouer of ouers ’n aktiewe rol in die saamleef-opset speel.

“Soms mag een of twee van die bejaardes egter met tyd een of meer gesondheidstoestande ontwikkel, wat hulp en selfs versorging vereis, en dan ’n groot las op die familielid plaas wat daarvoor verantwoordelik is. Hoewel professionele versorgers aangestel kan word om met daaglikse take te help, word die rol van familie-versorgers al groter.

“Die realiteit is dat die omsien na en sorg vir jou bejaarde familielid oor tyd fisieke en emosionele uitputting veroorsaak.”

Die regte persoon om na jou geliefde om te sien terwyl jy met vakansie is

Eerstens moet die gesondheidstatus van die bejaarde in ag geneem word, sê dr. De Villiers.

“Met ander woorde, het ons te doen met ’n gesonde, aktiewe ouma of oupa wat net lus het om by die huis te bly en net nie saam wil see toe gaan nie? In welke geval die dienste van ’n metgesel, meer as ’n versorger, benodig word. Iemand wat net daar kan wees en help met die daaglikse takies in en om die huis, wat die sosiale interaksie aan die gang kan hou en ’n bestuurslisensie het om te gaan inkopies doen, te gaan fliek of op uitstappies te gaan.

Die familie-versorgers lewer ’n breë reeks dienste aan hul bejaarde familielid wat oor die spektrum van alle dag-tot-dag aktiwiteite strek.

“Aan die ander kant mag die ouers wat tuis bly versorging en hulp met die uitvoer van daaglikse leef-aktiwiteite nodig hê, waar ’n opgeleide versorger aangestel moet word wat die vermoë het om daardie funksies te verrig, wat weet hoe om verswakte bejaardes te hanteer en ook die siektetoestand te moniteer, te help met die neem van gereelde medikasie en te weet wanneer om hulp te ontbied,” verduidelik dr. De Villiers.

Inligting om agter te laat vir die tydelike versorger

Petra Fordelmann, direkteur van Creative Wellness, sê een van die grootste aanbevelings is om die tydelike versorger ’n dag of drie voordat jy vertrek, te laat kom om sodoende saam met jou die roetine van die bejaarde te leer ken en die bejaarde gewoond te maak aan die persoon.

“Dit los baie potensiële probleme op as die bejaarde bekend is met die versorger. Hier is van die inligting wat jy kan los:

* Name en kontaknommers van mense wat gebel moet word in die geval van nood, soos ’n huisdokter of spesialiste, ambulans, hospitale, jou kontakbesonder­hede en as jy iewers gaan waar daar nie opvangs is nie, die nommers van die plekke waar jy gaan bly (soortgelyk aan ’n reisgids), die mediese fonds se naam en nommer, en kontaknommers van ander naaste familielede.

* Hoeveel van watter medikasie wanneer gegee moet word. Maak ook seker daar is genoeg voorraad totdat jy terugkeer, of gee die apteek se besonderhede om weer te bestel indien nodig. Die gebruik van “blister”-pakke is baie gewild en veilig vir die uiteensetting van medikasie.

* Watter voedselvoorkeure die bejaardes het, asook allergieë. Indien die bejaarde dieetvoorskrifte het, moet dit ook genoem word, byvoorbeeld ’n diabetiese dieet. Maak seker die versorger weet wat dit behels of stel ’n spyskaart op en los resepte. Voorafbestelde kos kan ook as hulpmiddel in hierdie verband gebruik word.

* Watter aktiwiteite die bejaarde deur die dag doen, byvoorbeeld ’n speletjie speel, brei, blokkiesraaisels ensovoorts.

Wanneer jy ’n tydelike versorger vir jou bejaarde ouer of familielid kry, gee vir die persoon ’n lys met inligting soos watter kos die persoon van hou asook medikasie en aktiwiteite.

Redes waarom dit goed is om professionele diens vir jou geliefde te oorweeg

Dr. De Villiers sê terwyl jy met vakansie is, moet jou beplanning en aanstelling van die versorger vir jou en jou gesin die nodige gemoedsrus gee dat daar na jou bejaarde ouer(s) omgesien word asof dit jy is wat dit self doen.

“Jy kan vir hulp aanklop by ’n bestaande tuisversorgingsmaatskappy. Die voordeel van so ’n maatskappy is dat opleiding in die rol van metgesel sowel as die rol van versorger gegee word, beide teoreties en deurlopend aan diens. Dit sluit in basiese noodhulp en resussitasie.

“Die ondersteuning van jou seleksie en keuse van ’n metgesel of versorger kom uit beskikbare hulpbronne binne ’n raamwerk van voorkeure van die versorgde en met die nodige vaardighede in spesiale gevalle.

“Jy het dan gemoedsrus dat dienste onder toesig van gekwalifiseerde verpleegkundiges gelewer word wat leiding sal gee in gevalle van onsekerheid om onverwagte gebeure te hanteer of in gevalle van nood. Indien die versorger skielik siek word en nie kan voortgaan met die taak nie, moet daar logistieke ondersteuning wees om die herplasing van ’n nuwe versorger te behartig met inagneming van al jou beplanning en instruksies.”

Hoe om kommunikasie met jou geliefde te bestuur

Petra meen afhangend van die tegnologie, sou ’n boodskap met ’n foto van die bejaarde twee of drie maal per dag, jou gemoedsrus gee.

Dit is nie wys om ’n onbekende persoon aan te stel vir die taak as daar geen verwysings of kennis van die persoon is nie.

“Bejaardes kommunikeer gereeld via Zoom of Skype en op WhatsApp-video-oproepe sodat hulle steeds die geliefde kan sien en hoor. Dit is belangrik vir hulle om die kontak te behou, al is dit ook nie daagliks nie.”

Tuisversorgingsopsies

Volgens Petra is die beste om bejaardes in hul eie omgewing te laat. Dis die minste ontwrigtend en laat die bejaardes die veiligste voel.

“Daar kan ’n goeie vriend die sorg oorneem. Alternatiewelik is daar maatskappye wat die sorg behartig. Dit is nie wys om ’n onbekende persoon aan te stel vir die taak as daar geen verwysings of kennis van die persoon is nie. Hoewel ’n privaat versorger soms ’n goedkoper opsie is, is daar geen toesig nie en geen kontinuïteit as die versorger om enige rede nie daar kan bly nie. Deur ’n versorger deur ’n maatskappy aan te stel, is daar die versekering dat sorg deurlopend sal gebeur en by sommige agentskappe sal daar ook toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige wees.”

Wenke om jou angs en skuldgevoelens te bestuur

Petra Fordelmann, direkteur van Creative Wellness, sê jy kan hierdie wenke toepas as jy skuldgevoelens ervaar:

* Aanvaar dat jy soms skuldig gaan voel om ’n bejaarde agter te laat. Besluit dan of jou gevoelens geregverdig is. Doen jy iets verkeerd? En wat doen jy reg met jou besluit?

* Maak seker dat die versorger van jou keuse reg gekies en ingelig is. Laat genoeg tyd toe om die keuse te regverdig. Indien moontlik, laat die bejaarde deel wees van die keuse. Dit laat die persoon wat versorg moet word ook voel asof hulle onafhanklike besluite kan neem.

* Maak seker dat jou geliefde weet hulle is veilig, en dat jy gereeld sal kommunikeer.

* Fokus op jou liefde vir die persoon wat versorg moet word en nie op die versorging nie.

* Stel grense vir jouself en die bejaardes. Bejaardes kan kinders skuldig laat voel sonder genoegsame rede.

* Om tyd vir jouself te maak is noodsaaklik. Dit is die “sorg vir die versorger”-komponent wat baie belangrik is om voortgesette sorg te kan hanteer na die vakansie.

Meer oor:  Gesondheid  |  Gesond  |  Bejaarde Sorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.