Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Soet, maar goed

Drankies met ’n lae suiker-inhoud raak al hoe gewilder, maar is dit werklik goed vir jou, vra Alet Wichmann.

Selfs koeldrank met “lae suiker” is steeds nie gesond nie.

Suiker is al byna ’n vloekwoord. ’n Mens voel skoon dis iets wat jy net skelm in jou mond kan druk wanneer niemand kyk nie.

Die regering begin al hoe meer jou suikerverbruik monitor en selfs die grootste koeldrankvervaardiger het agter verbruikers se rug die suikerinhoud van hul drankies verminder en dit in die meeste gevalle gedeeltelik vervang deur versoeters.

Boonop toon al hoe meer studies dat suiker sleg is vir jou. Die onlangste studie wat verlede jaar gesamentlik deur navorsers van die Harvard T.H. Chan School of Public Health by die Huazhong-Universiteit in China en die Universiteit van Calgary in Kanada gedoen is, het gewys selfs net een suikerryke koeldrank per dag kan veroorsaak dat jy vroeër sterf.

Daarom is dit nie net die vervaardigers wat die besluit namens die koeldrankdrinkers neem nie, al hoe meer verbruikers dring aan op lae-suiker-opsies. En al hoe meer vervaardigers gryp die geleentheid aan om munt daaruit te slaan.

Die Appletiser Spritzer bevat helfte van die suiker van ’n gewone Appletiser, 5 g per 100 ml.

Coca-Cola Beverages South Africa het aan die begin van die somer die nuwe Appletiser Spritzer bekend gestel. Vrugtesap behels net die helfte van die inhoud, die res is water met gas in.

Hierdie drankie het 5 g suiker vir elke 100 ml koeldrank, wat beteken jy drink 16,5 g suiker per blikkie. Dis vergeleke met die 31,7 g suiker in ’n blikkie gewone Appletiser.

Pura Soda kom in verskeie geure en kos sowat R10 elk. Die komkommer en vlierblom-geur bevat 4 g suiker per 100 ml.

Ander drankies wat nóg minder suiker bevat, is Pura Soda (3,7 g/100 ml vir die suurlemoen en vlierblom- of elderflower- geur); Toni Glass Artisanal Soda (4 g/100 ml vir die jenewer- en komkommer-geur) en Woolworths se gaskoeldrank met peer en vlierblom (4 g/100 ml).

Toni Glass Artisanal Soda bevat sowat 4 g suiker per 100 ml van die drankie en kos sowat R17 vir 500 ml.

Die skuif na drankies met ’n laer suikerinhoud is ’n goeie een, mits mense onthou hulle kan nie nou méér van die drankies drink net omdat die suikerinhoud laer is nie, waarsku Lila Bruk, ’n dieetkundige by Lila Bruk & Associates in Johannesburg (lilabruk.co.za).

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan ’n mens moet net 25 g suiker per dag inneem. ’n Blikkie Coke bevat sowat 40 g suiker en twee lae-suiker-koeldranke bevat ook reeds meer as die aanbevole hoeveelheid.

Lila sê in haar praktyk beveel sy veel eerder kunsmatig versoete drankies aan.

“Al is daar kommer rondom die versoeter aspartaam, wat in die meeste kunsmatig versoete drankies voorkom, is daar nie veel deurslaggewende wetenskaplike bewyse daarteen nie – as jy dit in klein hoeveelhede inneem. Andersyds is al telkens bewys suiker is sleg vir jou gesondheid en dat jy dit waar moontlik moet vermy.”

“ ’n Lae-suiker-drankie so een keer per week is goed, maar water en kafeïenvrye kruietee is altyd die beste opsie.”

Meer oor:  Gewilder  |  Lae Suiker-Inhoud  |  Drankies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.