Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sooibrand: Dís wat jy moet weet

Om heeldag met ’n brandgevoel in jou bors en maag rond te loop kan ’n ongemaklike situasie wees. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat gastro-esofageale reflukssiekte behels.

Gereelde sooibrand in die bors of keel is ’n simptoom van GERS. Foto: iStock

Wat is gastro-esofageale reflukssiekte?

Volgens Paul Bosman van Tara Pharmaceuticals is gastro-esofageale reflukssiekte (GERS), ook bekend as suurrefluks, ’n spysverteringsteuring wat die laer slukdermsluitspier (LES), die spiere tussen die slukderm en die maag, aantas.

“Baie mense kry dit, insluitend swanger vroue en mense wat aan sooibrand of suur spysvertering ly wat veroorsaak is deur GERS,” sê Paul.

Paul sê gereelde sooibrand en ’n brandende gevoel in jou bors of keel, is die simptome van GERS.

“Uitbraking van voedsel of maaginhoud, seerkeel, moeite om te sluk (disfagie), die gevoel asof daar ’n knop in jou keel is, beskadigde tande van maagsuur, borspyn en slegte asem, is almal simptome.”

Wat is sooibrand?

Prof. Christo van Rensburg, hoof van die gastroënterologie-afdeling van die Universiteit Stellenbosch, sê sooibrand is ’n brandgevoel sentraal in die borskas of bobuik.

“Die ongemak ontstaan dikwels in die borskas (retrostenaal) en mag versprei na die nek, kaakhoek en arm – baie soos die pyn van iskemiese hartsiekte. In laasgenoemde sal hartsiekte altyd eers uitgeskakel word.

Wie kry sooibrand?

Prof. Van Rensburg sê sooibrand is die hoofsimptoom van GERS. Dit kom voor in 70% van pasiënte met gastro-esofageale-refluks (die terugvloei van maaginhoud in die slukderm).

“Ander algemene simptome wat met sooibrand vereenselwig word as deel van GERS, sluit in terugvloei van suur of kos en ongemak of pyn tydens die slukproses (disfagie of odinofagie), terwyl ander probleme heesheid, asma, seerkeel en tandbederf kan insluit,” verduidelik prof. Van Rensburg.

Verskil tussen sooibrand en refluks

Prof. Van Rensburg sê beide sooibrand en refluks is die simptome van GERS en kom meer dikwels voor in pasiënte wat oorgewig is.

“Dit word ook vereenselwig met swangerskap, sigaretrook, alkoholinname en die gebruik van sekere medikasies. Dit is ook meer algemeen in pasiënte wat eet of drink net voor hulle gaan slaap en mense wat groot maaltye verorber.”

Indien sooibrand en refluks jou kniehalter, bly eerder weg van vetterige kos, alkohol, en kosse wat hoog in proteïen is. Moet ook nie drie ure voor slapenstyd kos of vloeistowwe inneem nie.

Behandeling vir sooibrand en refluks

Behandeling sluit in leefstyl- en dieetaanpassings, asook gewigsverlies, sê prof. Van Rensburg.

“Ander maatreëls: staak die inname van kosse wat die simptome uitlok asook sigaretrook en alkoholinname. Vermy kos en vloeistowwe ongeveer drie uur voor slapenstyd. Medikasie sluit in dié wat oor die toonbank gekoop kan word (teensure, histamienreseptor-blokkers asook protonpomp-inhibeerders) en voorskrifmedisyne – hoofsaaklik protonpomp-inhibeerders wat die doeltreffendste behandeling is.

“Laasgenoemde kan as ’n terapeutiese proef vir twee tot vier weke voorgeskryf word, maar indien dit as instandhouding voorgeskryf word, moet vooraf ondersoeke verkieslik gedoen word – deels om komplikasies van die siekte voortydig te identifiseer en deels om ander patologie uit te skakel (endoskopie). Sekere pasiënte verkies chirurgie as opsie, eerder as om medikasie oor die langtermyn te gebruik. Diesulkes moet eers vooraf ondersoek word om seker te maak hulle is die regte kandidate vir die operasie.”

Prof. Van Rensburg meen chirurgie is nie altyd suksesvol nie. Dit is dus nie noodwendig ’n permanente oplossing nie en het verwante komplikasies.

Kosse om te vermy

Beide prof. Van Rensburg en Paul sê kossoorte soos kerrie en tamatie, voedsel met ’n hoë pro­teïeninhoud en vetterige maaltye kan sooibrand en refluks veroorsaak.

“Vermy suiker, alkohol, vetterige kos en koringmeel,” waarsku Paul.

Meer oor:  Gesondheid  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.