Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sorg só vir geliefdes met Alzheimersiekte

Soos die jare aanstap, raak jou kanse groter om Alzheimer se siekte op te doen. Danielle Daniëls het by kenners gaan uitvind wat hierdie toestand behels.

Wanneer jy na ’n persoon met Alzheimer se siekte of demensie omsien, maak seker dat hulle altyd die middelpunt van versorging is. Foto: ISTOCK

Alzheimer se siekte is ’n toestand wat nie net die lyer se lewe drasties omverwerp nie, maar ook dié van vriende en familielede wat gewoonlik die primêre versorgers word.

Melody Ziervogel van Nazareth Care sê Alzheimer se siekte is ’n progressiewe breinversteuring wat geheue vernietig en ander psigiese funksionering beïnvloed.

“Breinselle en breinselverbindings begin ontvou en sterf. Verbindings gaan verlore en sodoende word breinfunksionering benadeel.”

Alzheimer se siekte is die algemeenste vorm van demensie.

“Demensie is ’n kognitiewe verswakking wat veroorsaak word deur breinbesering of breinsiekte en word gekenmerk deur geheueversteurings, veranderinge in persoonlikheid en verswakte redenasies.

“Daar is ongeveer 100 verskillende soorte demensie en gewoonlik beïnvloed elke soort ’n sekere deel van die brein. Alzheimer se siekte affekteer die grootste deel van die brein tegelyk.”

Sy sê ’n persoon met demensie kan tussen 15 en 20 jaar met die siekte leef en goeie lewensgehalte geniet, terwyl iemand met Alzheimer se siekte agt tot 10 jaar het.

Simptome van Alzheimer se siekte en demensie

Melody sê dit is nie so eenvoudig om oorkoepelende simptome vir alle pasiënte te lys nie, want dit verskil van persoon tot persoon. Hierdie is wel van die simptome wat kan voorkom:

Kognitiewe veranderinge

  • Iemand in die gesin of ’n versorger sal geheueverlies opmerk
  • Sukkel om te kommunikeer en woorde te vind
  • Probleme met probleemoplossing en redenering
  • Probleme met motoriese funk­sionering en koördinasie
  • Verwarring en disoriëntasie

Sielkundige veranderinge

  • Verandering in persoonlikheid
  • Depressie en angs
  • Onrustigheid
  • Engtevrees
  • Hallusinasie (visueel, ouditief)

Fisiese agteruitgang

  • Gewigsverlies of gewigstoename as gevolg van medikasie
  • Maagontsteking en maagsere as gevolg van angs
  • Spierverswakking
  • Epilepsie, veral in vaskulêre demensie
  • Sukkel met spraak

Sorg vir ’n pasiënt met Alzheimer se siekte

Karen Borochowitz, direkteur van Dementia SA, sê die gesin moet besluite oor versorging neem op grond van ’n aantal faktore. Dit sluit in die vermoë om voldoende hulp tuis te hê om te help met die versorging, bekostigbaarheid en hulp van familie en vriende vir emosionele ondersteuning vir die primêre versorger (gewoonlik ’n eggenoot).

“Die beste opsie is die persoon-gerigte benadering tot versorging. Dit beteken dat die persoon met demensie die middelpunt van versorging is en alle besluite in die pasiënt en primêre versorgers se beste belang is.”

Melody sê hulle is altyd baie ondersteunend teenoor mense wat kan erken dat hulle nie self die versorging kan behartig nie.

“Dit verg geweldige moed van hulle kant af om dit te kan sê, want skuldgevoelens vat baie!”

Die meeste mense in die gemeenskap probeer tuisversorging. ’n Versorger sal na jou huis kom en help om die persoon wat met demensie leef te versorg. Hierdie versorgers slaap soms in en het sekere tydperke weg van diens, of reis elke dag na jou woning. “Soms is die seun, dogter of eggenoot die versorger en dit kan baie veeleisend wees. Uitbranding van versorgers is ’n werklike probleem en hulle het ondersteuning nodig. Aanlynpraatjies en -werksessies soos wat Nazareth Care aanbied, is goed om te oorweeg,” sê Melody.

“Virtuele ondersteuningsgroepe en ’n reeks web-seminare soos deur Dementia SA aangebied, is ook goeie opsies om te oorweeg,” sê Karen.

Hoe om iemand tuis tydens die koronavirus te versorg?

  • Karen sê dit sal gegrond wees op die funksioneringsvermoë van die persoon met demensie wanneer jy aktiwiteite bepaal:
  • Hou kontak via FaceTime of ’n vriendelike geselsie op aanlynplatforms soos Zoom of Skype.
  • Vra die primêre versorger of hulle hulp benodig met inkopies om hul risiko om winkels toe te gaan, te beperk.
  • Dit is belangrik om ’n roetine te handhaaf en gereelde was van hande te implementeer (was jou hande langs hulle), verseker dat daar reinigingsroetines is ??vir mense wat daagliks inkom, byvoorbeeld versorgers. Versorgers moet maskers dra, indien moontlik, so ook die persoon met demensie.
Oefening en laaste fase van die siekte

Melody meen oefening is goed vir demensie- en Alzheimer-pasiënte, want dit verbeter bloedvloei en verskaf meer bloed aan die brein. Sy sê die volgende oefeninge kan pasiënte help:

  • Stap en dans help met vroeë demensie.
  • Swem met behulp van arbeidsterapie.
  • Vir die middelfase van demensie help tuinmaak, betekenisvolle aktiwiteite, dit wil sê klein huishoudelike takies soos skottelgoed was en vee of stoel-aërobiese oefeninge.
  • Rolstoelgebonde demensie – stoel-aërobiese oefeninge, ballonvlugbal, passiewe fisioterapie en bewegings van ledemate om spierverswakking te voorkom.

Sy sê hierdie is wat om te verwag van iemand in die laaste fase van demensie:

  • Broosheid het teen hierdie stadium toegeneem.
  • Daaglikse aktiwiteite soos was, aantrek, eet en toilet toe gaan moet met hulp gedoen word.
  • Gewigsverlies is ’n probleem, want dit word moeilik om te eet weens agteruitgang van slukreflekse in die brein en wegkrimping van tandvleis wat deur ’n kunsgebit wat swak pas veroorsaak word.
  • Met verval van die breinstam word die asemhalingsentrum siek en bereik minder suurstof die brein as gevolg van onreëlmatige asemhaling. Die demensie vererger dus vinniger.

Meer oor:  Gesondheid  |  Alzheimersiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.