Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sorg vir jou geslagsdele
Neem dié Vrouemaand jou gesondheid in eie hande – al kry jy dalk skaam om oor die dinge “daar onder” te praat, skryf Delia du Toit. 


Vrouegesondheidsprobleme word dikwels as die “stil skaamte” bestempel. Ons steek tampons onder alles anders in die trollie weg, praat van ’n koekie eerder as ’n vagina, en sal eerder oor brandende kole loop as om ’n manlike apteker om ’n boksie sproei-medikasie te vra.

Hoekom? Jou dokter of apteker het tog al álles gesien en gehoor, en dis regtig nie meer 1920 toe vroue moes stilbly en in die kombuis kuier nie.

Dis tyd dat vroue hul gesondheid, en sekslewe, in eie hande neem.

Daar is doeltreffende, goedkoper opsies as sanitêre doekies, soos hierdie herbruikbare silikoonkoppie, waartoe vroue hulself kan wend.

Los inkontinensie op

Inkontinensie, waar urine vanself uitlek, raak gemiddeld elke derde vrou in een of ander stadium in haar lewe, sê dr. Natalia Novikova (drnovikova.co.za), ’n ginekoloog en endoskopiese chirurg van Kaapstad. Dit kan met enigiemand gebeur, maar is meer algemeen ná swangerskap en tydens of ná menopouse. Steeds praat byna niemand daaroor nie. “Miljoene vroue sukkel met inkontinensie en dit kan ’n verwoestende uitwerking op hul leefstyl en verhoudings hê. En dis iets wat tog opgelos kan word.”

Sy is een van die eerste dokters in die land wat nie-indringende vaginale laserterapie vir inkontinensie aanbied. Die prosedure kan in die spreekkamer gedoen word, neem ongeveer ’n halfuur en is pynloos, sê sy. Jy het dus nie eens nodig om tyd by die werk af te vat nie en kan dadelik met al jou normale aktiwiteite aangaan.

’n Laser-stokkie word binne-in die vagina geplaas en verhit die omliggende weefsel effens. Dit veroorsaak dat jou liggaam meer kollageen en elastien vervaardig, wat die blaas en uretra beter ondersteun en dus lekking voorkom. “Dit werk vir ligte tot matige inkontinensie – dié waar daar lekking is wanneer jy hoes, lag, spring of hardloop. Baie vroue sien al ’n verskil ná die eerste sessie, maar gewoonlik word drie sessies sowat ’n maand uitmekaar benodig. Ongeveer drie maande ná jou laaste sessie sal jy die grootste verskil sien. Daarna is ’n jaarlikse instandhoudingsessie nodig.”

Vir ernstiger gevalle, waar die blaas byvoorbeeld reeds afgesak het, kan chirurgie dit oplos.

Herbruikbare onderbroekies met ’n mikroveselinsetsel.

Hou op sukkel met droogheid

Sowat 50% van postmenopousale vroue sukkel met droogheid, het die Closer-studie, die eerste plaaslike studie oor vaginale atrofie en verhoudings, vanjaar bevind. Die vroue in die opname het gesê die toestand het ’n negatiewe uitwerking op hul selfbeeld en sekslewe – ’n derde van die vroue wat met droogheid sukkel, het inderdaad gesê hulle sien nie meer kans vir seks nie.

Die simptome van droogheid sluit in pynlike seks, gereelde urinering, en branderigheid of jeukerigheid in en om die vagina.

Maar daar is behandelingsopsies – hoewel 40% van die vroue in die opname nog nie behandeling probeer het nie. Dr. Carol Thomas, ’n ginekoloog van Kaapstad en president van die Suid-Afrikaanse Menopouse-vereniging, sê dis onnodig dat vroue in stilte sukkel. “Vroue moet om hulp begin vra en ophou skaam kry oor hul simptome.”

En hoe gouer, hoe beter – hoewel warm gloede en ander simptome van menopouse ophou ná ’n tyd, vererger droogheid net as jy niks daaraan doen nie. En ná ’n tydperk raak die simptome onomkeerbaar. Estrogeenbehandelings, in tablette of ’n room, word gewoonlik voorgeskryf. Ná menopouse vervaardig jou eierstokke nie meer genoeg van dié hormoon nie, wat in jonger vroue die vaginale wande gesond hou. Slegs klein hoeveelhede van die aanvullings is egter nodig om ’n verskil te maak.

Natalia sê laserterapie werk ook goed vir droogheid. Die behandeling word op dieselfde manier gedoen as dié vir inkontinensie.

Koop self kondome

Slegs ’n kwart van Suid-Afrikaanse vroue koop kondome, het Durex se jaarlikse wêreldwye seksopname laat verlede jaar getoon.

“Dít terwyl 82% van vroue tog gesê het hulle voel gemaklik om hul seksuele regte te beoefen. Vroue kry skaam om kondome te koop, en dis waarskynlik steeds te danke aan die uitwerking van die patriargale samelewing. Kondome is voorheen as ’n mansproduk gesien, of ’n teken van losbandigheid, dié dat vroue skaamkry om dit te koop,” sê Tania Goncalves-Da Conceicao, Durex se handelsmerkbestuurder. “Vroue het dan dikwels nie die selfvertroue om dit te koop nie, of om in die oomblik aan te dring dat ’n kondoom gebruik word nie.”

Ongeveer 47% van seksueel aktiewe Suid-Afrikaners het al seks gehad sonder om hulself teen seksueel oordraagbare siektes te beskerm – 18% omdat hulle niks by hulle gehad het nie en 39% omdat hulle nie wou stop om byvoorbeeld ’n kondoom aan te sit nie, wys die opname.

“Dis tyd dat vroue verantwoordelikheid vir hul gesondheid aanvaar deur self ook kondome te koop, te gebruik, of aan te dring dat die man een dra,” sê Goncalves-Da Conceicao.

Vroulike kondome is ook ’n opsie. Dis glad nie meer die oorgroot, ongemaklike “sak” wat dit destyds was nie. Vandag word dit byna soos ’n tampon ingesit en die vrou kan dit boonop vóór seks insit sodat die romanse nie in die middel stopgesit hoef te word nie.

Ondersoek nuwe menstruasie-opsies

Die gemiddelde vrou gebruik 11 000 sanitêre produkte, hetsy tampons of doekies, in haar leeftyd, sê die Vroue-omgewingsnetwerk in Brittanje. Teen R50 vir ’n boks van 32 Kotex-tampons, gee sy dus meer as R17 000 aan dié produkte in haar lewe uit – met belasting, natuurlik.

Dis nie net swaar op jou sak nie, maar ook op die omgewing. Doekies bestaan uit soveel as 90% plastiek en beland uiteindelik op ashope.

Deesdae is daar egter nuwe opsies wat net so goed werk. Silikoonkoppies (menstrual cups) bestaan al jare lank, maar word al hoe gewilder en daar is nou al verskeie handelsname in Suid-Afrika te koop. Dit kos in die omgewing van R250 tot R500 vir een, maar dit hou dan tot tien jaar. Dit lyk soos ’n klein bakkie of koppie met ’n stingel onderaan. Jy vou dit op, sit dit in die vaginale kanaal, en kan dit dan vir tot 12 ure daar los voordat jy dit moet uithaal. Spoel dit dan uit of dompel dit in kookwater en jy kan dit dadelik weer gebruik.

Daar is ook menstruasie-onderbroekies. Dit kan net soveel soos ’n doekie absorbeer, maar dan gewas en weer gebruik word. Dit lyk nes ’n gewone onderbroekie, met lae mikrovesel en hennep binne-in om die vloeistof te absorbeer. Plaaslik kos dit sowat R250 elk en daar is verskillende soorte vir ligte en swaar dae. Beskikbaar by faithful-to-nature.co.za en butterflywings.co.za.

Meer oor:  Gesondheid  |  Vroue  |  Vrouemaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.