Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Stres eis al hoe groter tol by jeug

Stigmatisering, versmorende druk en onmoontlike verwagtinge. Dit is volgens Nicki du Plessis (20), ’n natuurbewaringstudent aan die Universiteit Stellenbosch, net sommige van die uitdagings wat jongmense vatbaar vir psigiese siektes maak.

Van die deelnemers aan die Hope Hike ten bate van depressiebewusmaking en -navorsing gister op die Blaauwklippen-wynlandgoed net buite Stellenbosch. Foto: Misha Jordaan, Huisgenoot

Du Plessis het Sondag met sowat 500 ander deelnemers aan die jaarlikse Hope Hike- en Hope Bike-geleentheid op die Blaauwklippen-wynlandgoed net buite Stellenbosch deelgeneem om bewusmaking van depressie as ’n biologiese siekte te bevorder.

Vanjaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie die tema “Jongmense en psigiese gesondheid in ’n veranderende wêreld” gekies omdat studies toon dat tussen 10% en 20% van kinders en jong mense met psigiese probleme sukkel.

“Ek dink jongmense is in die verlede afgeskeep en daar is ’n persepsie dat psigiese siektes nie eintlik jong mense tref nie,” het Roné Gerber, sielkundige en bestuurder van die Universiteit van Wes-Kaapland se studentesteundienste, gesê.

“Daar is ongelooflike druk op jongmense. Veral in ons land is daar geweldige druk om te presteer. Tog het jong mense die manier om te lyk asof die wêreld nog ’n lied is, en ek het al by baie studente gehoor dat hulle dink hulle is die enigste jong mens wat suffer.”

Volgens prof. Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting, het jong mense vandag meer bronne van stres in hul lewe as vorige generasies. “Hulle lewe met ’n 24/7-altyd-aan-kultuur en kan nie afskakel nie. Natuurlik was daar ook in vorige generasies psigiese siektes onder jong mense, maar vandag word hul brein soveel meer ooreis,” het Rabe gesê.

Twee van Gerber se sielkunde-interns, Perishka Coopoo (26) en Andie Jeremic (27), sê dit is noodsaaklik om die stigmatisering van psigiese siektes onder studente te bekamp. “Dis belangrik om bewus te wees van jou psigiese gesondheid sodat jy iets daaraan kan doen pleks daarvan om stil te bly,” het Coopoo gesê.

Die jaarlikse Hope Hike en Hope Bike vir depressiebewusmaking is op Blaauwklippen, Stellenbosch, deur die Ithemba Stigting gehou. Ithemba beteken hoop in isiXhosa. Onder die Hope Hike-deelnemers was Mari Ware-Lane (middel met hoed), wat haar man, Ashley, in Junie vanjaar aan depressie verloor het. Mari en haar familie het as huldeblyk aan Ashley die Hope Hike gestap. Mari en Ashley was ten nouste betrokke by die Internasionale Vlieërfees wat jaarliks vir psigiese gesondheid gehou word. Vanjaar se Vlieërfees word op 27 en 28 Oktober by Muizenberg gehou. Foto: Arleen Stone

Jeremic beaam dat ’n bereidwilligheid om oor psigiese gesondheid te gesels as ’n teken van sterkte eerder as swakheid gesien moet word.

“Dit is wat vir my so wonderlik van vandag is. Ons is almal ambassadeurs van hoop, want elkeen van ons kan ’n verskil maak. Ons hoef nie te wag vir só ’n dag nie. Ons kan die stilte verbreek waar ons ook al kom sodat mense gemakliker is om te praat oor hul psigiese siektes,” het Rabe gesê.

Geld wat ingesamel is, is ten bate van die Ithemba-stigting se beursfonds om navorsing oor depressie te steun.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.