Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Swangerskap ná borskanker is nie onmoontlik nie

Borskanker kom nie gereeld by vroue jonger as 35 voor nie, maar vir diegene wat daarmee gediagnoseer word, is daar probleme rondom vrugbaarheid en swangerskap wat aangespreek moet word. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat vrugbaarheid ná borskanker

Slegs vyf tot 10% van vroue het ’n normale swangerskap nadat hulle met borskanker gediagnoseer is. Foto: iStock

Heelwat meer vroue word al hoe jonger met borskanker gediagnoseer.

Dr. Christa North van GenewayTM sê die afgelope paar dekades het die natuurlike balans en hormonale verband in ons liggame verander. “Ons leef baie verskillende lewens as ons voorouers, wat vars voedsel, minder giftige blootstelling, meer oefening en minder langtermynstres gehad het.” Volgens dr. North kan geen genetiese toets bepaal of jy verseker kanker kan ontwikkel nie. “Hulle dui almal net vatbaarheid of waarskynlikheid aan. Daarbenewens is daar gewoonlik baie gene wat betrokke is, en dit geld ook vir borskanker.

Dr. North meen daar is drie soorte gene vir borskanker:

* Beskermende gene (gewasonderdrukkende gene). Byvoorbeeld die bekende BRCA1 en BRCA2. Slegs 3 tot 5% van borskankerlyers het dié gene, dus is dit eintlik ’n baie klein persentasie.

* DNS-herstelgene wat foute regstel wat gemaak is tydens die verdubbeling van DNS.

“Bevorderende” gene (onkogene verander ’n gesonde sel in ’n kankeragtige sel). Hierdie gene kan die ontwikkeling van borskanker onder sekere omgewingsomstandighede bevorder. Dit is verantwoordelik vir die meerderheid gevalle van borskanker, maar die goeie nuus is dat jy iets daaraan kan doen.

“Hoe meer jy van hierdie gene het, hoe groter is die risiko. Terselfdertyd, hoe meer jy jou omgewing beheer, hoe kleiner word die risiko. As jou geen wat die gevaarlike soort estrogeen (4-OHE) moet afbreek byvoorbeeld nie werk nie, moet jy nie mondelingse voorbehoedmiddels of HRT inneem nie. Jy kan voorkomend optree en aanvullings of voedingstowwe gebruik om die 4-OHE te help afbreek,” sê sy.

“Genetiese toetsing kan nuttig wees om die balans te vind tussen wat jou gene benodig, jou epigenetika (omgewing) en wat medies aanbeveel word. Aan die ander kant is daar sekere gene wat baie akkuraat kan voorspel of jy op tamoksifeen – ’n middel teen borskanker – sal reageer.”

Sekere chemoterapiebehandelings verhoog die risiko vir onvrugbaarheid, sê dr. North. “Bestraling in die laer abdominale gebied verhoog die risiko vir onvrugbaarheid. Dokters kan egter gereeld voorkomende maatreëls tref om die risiko te verminder.”

Slegs 7% van vroue onder die ouderdom van 35 word met borskanker gediagnoseer. Dit is skaars. Dit is ook meer aggressief en gevorderd as kanker onder ouer vroue. Dit beteken dat jong vroue nie net ’n diagnose ontvang wat op die punt is om hul lewe te verander nie, maar dat hulle baie vinniger moet besluit oor hul vrugbaarheid.

Slegs 7% van vroue onder die ouderdom van 35 word met borskanker gediagnoseer.

Dr. Rika Pienaar, kliniese en stralingsonkoloog by Cancercare, sê vrugbaarheid is ’n belangrike faktor vir vroue in hierdie ouderdomsgroep. “Vroue van 35 jaar en jonger het ’n 15% risiko van permanente menopouse na chemoterapie. Dus is dit noodsaaklik dat as jy in hierdie ouderdomsgroep is, jy so gou as moontlik jou vrugbaarheidstatus met ’n spesialis bespreek.”

Vanaf die oomblik dat die kanker gediagnoseer word, is daar ’n warrelwind van toetse, operasies, medikasie en afsprake. Die aanslag van inligting is dikwels oorweldigend en dr. Pienaar raai aan dat vroue nadink oor wat hulle wil hê en wat hulle benodig voor hulle enige besluite neem.

“Dit is so belangrik dat jy oor jou kwessies oor vrugbaarheid praat en jou opsies verstaan. Jy moet oor jou vrugbaarheidsverduursaming praat voordat jy met chemoterapie begin. Twee weke ekstra sal nie jou uitkoms beïnvloed nie.”

Volgens dr. Pienaar is die oes van eiers ’n algemene oplossing, aangesien dit gevries kan word om te gebruik sodra die behandeling voltooi is. “Dit is egter ’n duur prosedure wat nie deur mediese fondse gedek word nie en die sukseskoers is nie hoog nie. Die gemiddelde vrou sal ongeveer agt tot 16 eiers per prosedure van R40 000 kry. ’n Ander opsie is om jou eierstokweefsel te bewaar deur dit te vries of medikasie te gebruik wat die eierstokfunksie so verlaag dat dit minder van ’n teiken word vir die chemoterapie.”

Die diagnose van borskanker is verwoestend vir enige vrou, maar vir jonger vroue is dit ’n dieper stryd. As hulle jong kinders het, moet hulle ouerskap met hul behandeling kombineer. En as hulle nog nie kinders gehad het nie, moet hulle vandag besluite neem wat hulle gedink het hulle eers môre sou moes maak.

Die werklikheid is dat vroue presies moet verstaan hoe chemoterapie hul gesondheid en toekoms gaan beïnvloed.

Dr. Pienaar meen jong borskankerpasiënte het emosioneel en medies soveel meer ondersteuning nodig. “Onkoloë was in die verlede nie bereid om oor vrugbaarheid te praat nie, aangesien daar die kwessie van swangerskap ná diagnose was, maar studies het getoon dat dit nie jou oorlewing of jou terugslagpersentasie in die gedrang bring nie. Na-vorsing het bevind dat swanger-skap na ’n vroeë diagnose die oorlewingsyfer in hierdie ouderdomsgroep kan verhoog.

“Die werklikheid is dat vroue presies moet verstaan hoe chemoterapie hul gesondheid en toekoms gaan beïnvloed. Chemoterapie verouder die eiers met tien jaar, wat vrugbaarheid aansienlik verminder. Daar is ook ’n risiko van terugslag binne vyf jaar.”

Dr. Pienaar sê slegs 5 tot 10% van vroue het ’n normale swangerskap na borskanker. “Dit is belangrik dat jy keuses gegee word oor hoe jy vir jou toekoms en jou vrugbaarheid wil beplan. Praat met spesialiste en jou onkoloog, ondersoek jou opsies en vra vrae. Sorg dat jy die inligting op ’n verstaanbare manier verkry.

“Jong vroue met borskanker hoef nie alleen ’n onseker vrugbaarheidstoekoms in die gesig te staar nie. Bestee tyd met kundiges, gaan sien ’n berader en weeg al jou opsies. Jou toekoms kan steeds naby aan die een wees wat jy voor jou diagnose gevisualiseer het,” sê dr. Pienaar.

Meer oor:  Borskanker  |  Swangerskap  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.