Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sy het tyd om gebid, sê ma ná 7-jarige se hartoperasie
Joshua van der Merwe in die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg voordat hy Dinsdag geopereer is.

Ná ’n 14 uur lange operasie en komplikasies wag die ouers van ’n sewejarige seun van Gqeberha (Port Elizabeth) om te hoor of sy hartoperasie ’n sukses was.

Elmarie van der Merwe-Brynard sê sy het die tyd om gebid terwyl haar seun, Joshua, Dinsdag in die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg geopereer is.

“Hy is slaperig, maar kan kommunikeer en kla meestal dat hy dors is. Hy kan elke 20 minute ’n spuit vol water drink,” het sy Woensdag gesê nadat sy Joshua in die waakeenheid besoek het.

Enkelventrikel- pulmonale atresie, prima atriale septale defek en nog ander hartdefekte is op vier maande by Joshua gediagnoseer. Dit beteken Joshua het ’n halwe hart wat nie aan sy longe gekoppel is nie.

Netwerk24 het vroeër berig van die gevolge hiervan behels dat sy suurstofvlakke tot sowat 75% daal en hy vinnig moeg word.

Hy het voorheen drie groot operasies ondergaan. Dinsdag se Fontan-prosedure was die laaste wat gedoen kon word teen die toestand wat nie genees kan word nie.

Teen laat Woensdagmiddag het Van der Merwe-Brynard gesê die dokters stel ondersoek in oor swelling wat Joshua ná die operasie ervaar, en sy kan nog nie met sekerheid sê dit was ’n sukses nie.

Elmarie van der Merwe-Brynard help haar seun, Joshua, aantrek kort voordat hy Dinsdag geopereer is.

Hoewel Joshua se vooraftoetse aangedui het dat hy ’n geskikte kandidaat vir ’n Fontan is, sê Van der Merwe-Brynard die moontlikheid bestaan dat dit misluk het en dan omgekeer moet word.

Sy erken sy het kort voor Dinsdag se operasie byna ineengestort.

“Ek is skaam om te erken ek is nie so sterk soos Abraham wat bereid was om sy seun op te offer nie. Ek het gesmeek vir my seun se lewe. Oor en oor.”

Sy het gebid dat die Here hom moet terugbring, sodat sy lewe ’n getuienis kan wees.

Weens Joshua se ernstige toestand het Van der Merwe-Brynard al baie langs sy hospitaalbed gesit en is sy verskeie keer gewaarsku oor dit wat kan skeefloop.

Sy was ook Dinsdag hierop voorberei, maar sê sy het gesukkel om die nuus te verwerk toe die dokter haar meedeel dat ’n skandering aandui dat Joshua se aorta aan sy borsbeen vas is. Dus moes daar deur die borsbeen gesny word, maar gelukkig het die dokters reeds gebeurlikheidsplanne gehad. Die komplikasie het wel tot ’n bykomende vyf uur op die operasietafel gelei.

Ná Dinsdag se operasie word verwag dat daar nie meer ’n vermenging van suurstofryke en suurstofarm bloed in sy hart sal wees nie en dat sy bloedsuurstofvlak aansienlik hoër sal wees.

“Dit sal beteken dat al sy organe onder minder druk is. As jou suurstofvlakke laag is, maak jou liggaam meer rooibloedselle om te probeer vergoed. Dit maak die bloed dan ‘dik’ en die hart moet soveel harder werk om dit te pomp,” verduidelik Van der Merwe-Brynard.

Hoewel die operasie vir Joshua verligting bring, sal sy hospitaalbesoeke nie iets van die verlede wees nie en moet hy steeds vir ondersoeke gaan om seker te maak die nuwe bloedsirkulasie word goed deur sy liggaam hanteer.

As ’n laaste uitweg sal hy moontlik in die toekoms ’n hartoorplanting moet ondergaan, maar vir nou bid Van der Merwe-Brynard eers net vir die sukses van Dinsdag se operasie.

Meer oor:  Hartoperasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.