Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tem só die tekens van ouderdom met fraksionele laserbehandeling

Weens ouderdom en natuurlike elemente soos die son, begin jou vel mettertyd tekens van veroudering toon. Dit is egter geen rede vir paniek nie, want daar is deesdae verskeie behandelings wat jy kan oorweeg om jou vel te vernuwe.

Dr. Francois de Goede, ’n dermatoloog verbonde aan Lasermed, verduidelik wat fraksionele laserbehandeling behels.

Wat is fraksionele laserbehandeling?

Fraksionele lasers skiet laserstrale in kolomme in die vel in wat mikroskopiese wondjies veroorsaak wat dan herstel en tot velvernuwing lei. Omdat die laserstraalkolomme nie die vel totaal verwond nie, vind herstel baie vinniger plaas en is dit nie nodig om vir ’n lang herstelfase voorsiening te maak nie.

Met ’n magdom verskillende teenverouderingsrome op die mark, is dit ’n goeie idee om eers by ’n dermatoloog om uit te vind watter een die beste vir jou sal werk.Foto: ISTOCK

Fraksionele lasers kan gebruik word vir ’n spektrum van veltoestande, onder meer velveroudering (vellaksheid en plooie veral van die gesig, nek, borskas en hande), sonskade (bruin vlekke en vellaksheid), littekens (van aknee of vorige chirurgie) en vergrote porieë.

Hierdie lasers is baie doeltreffend, maar pasiënte moet ’n realistiese verwagting hê en besef dat daar ’n verbetering sal wees, maar dat hy of sy nie sommer oornag 20 jaar jonger gaan lyk nie!

Die aantal en intensiteit van die lasersessies word bepaal na aanleiding van die probleem wat aangespreek word en mag wissel van een tot vier sessies met ’n nie-ablatiewe laser en tot twee of meer sessies met ’n meer intense ablatiewe laser.

Daar is dus twee algemene soorte fraksionele lasers in gebruik wat verskil ten opsigte van hul intensiteit, naamlik:

. Nie-ablatiewe laser wat kollageen-vernuwing in die dermis stimuleer sonder om die epidermis te beskadig en dus die voordeel het van geen of minimale hersteltyd. Die ideale persoon vir dié behandeling is iemand wat hul veltekstuur wil verbeter.

. Ablatiewe laser wat die epidermis verwyder en terselfdertyd nuwe groei van kollageen in die onderliggende dermis stimuleer. Soos die vel herstel, gee dit dan ’n gladder, skoner en varser voorkoms. Omdat hierdie soort laser die vel tot ’n meerdere mate verwond, met gevolglike rooiheid, swelling en korsforming, moet daar vir ’n herstelperiode van ongeveer vyf tot 10 dae voorsiening gemaak word. Die ideale persoon is iemand met ’n gevorderde mate van velveroudering en sonskade.

Vir pynverligting word daar vir albei soorte laserbehandelings een uur voor die prosedure ’n verdowingsroom aangewend en ’n pynstiller per mond voorgeskryf. Enkele pasiënte sal met die ablatiewe laser wel bewuste verdowing verkies.

Elke pasiënt word geëvalueer na gelang van hul eie behoeftes en dan word besluit wat die beter opsie sal wees.

Wat is die rol van kollageen?

Tans word die gebruik van kollageen wyd deur die media geprys. Daar is enkele studies gedoen waar persone wat kollageen gebruik het, gevind het dat hul vel se elastisiteit verbeter het. Daar is egter beperkte wetenskaplike bewyse dat dit in enige vorm velveroudering kan omkeer en verdere gestandaardiseerde navorsing is nodig.

Gebruik van vitamiene en rome

Daar is ’n arsenaal van oor-die-toonbank-rome onder baie verskillende handelsname beskikbaar en dit is vir die publiek baie moeilik om ’n ingeligte besluit te maak.

Elke kosmetiese huis vertel sy produk is die beste en vir elke liggaamsdeel is daar spesifieke produkte. Maar die spesifieke molekules wat onomwonde bewys is om langtermyn ’n verskil te maak, is die volgende: vitamien A-verwante molekules (tretinoïen, retinol in voldoende dosisse slegs op voorskrif beskikbaar), vrugtesure (alfa- en polihidroksiesure), vitamien C en E. Nuwer peptiede en groeifaktore is ook belowend, maar uiters duur met geen bewys dat dit beter werk as byvoorbeeld vitamien A-molekules nie. Daar is ook spesifieke molekules vir die behandeling van pigmentasie wat verskil van die terapie vir velvernuwing of veltekstuur.

Dit is dus belangrik dat elke pasiënt beoordeel word ten opsigte van sy of haar spesifieke probleem en ’n terapeutiese plan opgestel word. Daar is byvoorbeeld nie een soort laser of afskilferingsmetode wat alle probleme gelyk kan aanspreek nie. So byvoorbeeld verskil laser vir behandeling van veltekstuur van dié vir haarverwydering, verwydering van bruin vlekke, verwydering van bloedvate, ensovoorts.

Ander nie-indringende velvernuwingstegnieke

Daar is veelvuldige nie-indringende velvernuwingstegnieke, soos byvoorbeeld chemiese velafskilfering, mikrodermabrasie (meganiese afskilfering) en dermapen (wat ook mikroskopiese beserings in die vel veroorsaak wat dan genees met verbetering in veltekstuur). Laasgenoemde het baie gewild geword weens die goeie wetenskaplike bewyse dat dit doeltreffend is, ook ten opsigte van veral velvernuwing, met ’n minimale hersteltydperk en omdat dit baie bekostigbaar is.

Daar is ook ander nuwe prosedures, maar oppas vir foefies. Hou liewer by prosedures wat deur die jare deurlopend goeie resultate gelewer het.

Meer oor:  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.